Donderdag, 10 Maart 2016

Binnelandse sake en die Simbaskyfie fabriek

Een ding wat die voedsel industrie my geleer het is “time management”. Geen sekonde van my dag word gemors nie. Ek het elle lange lysies wat ek weekliks opstel om my drywende breinselle bymekaar te hou om choas te vermy. Ek kan nie lewe sonder om te beplan. Nee, ek “freek” nie uit as iets buite die beplanning gebeur nie, want ons is geleer dat niks ‘n “train smash” is en as ‘n “blessing in disguise” gesien moet word. Dus word jou kreatiewe denke gereeld uit die boksie waarin jy leef getrek en jy word tot die uiterste getoets...tot vandag!

Kom ons begin by die begin. Ek het ‘n Trust en goedjies moet daar verander na die afsterwe van my ma en sus. ‘n Paar weke gelede kom ek by die bank en word vertel die geboorte sertifikate van die oudste twee kinders word as "onwettig" beskou. Ek was na 6 weke met die bank in ‘n stryd gewikkel oor die nonsens! Verder het die oudste kind 16 geword hierdie jaar en is nou tekenmagtig! Bid jou dit aan en in moed verloor se vlakte sit ek net en kners op my tande. Sussie se geboorte sertifikaat is niks mee fout. Dit beteken na 4 weke se uitstel weens kook klasse wat tot barstens toe vol is, dat ek die hele dag opsy sit vir die tog na Binnelandse sake vir die “wettige dokumente”.

Nou goed, ek staan in ‘n tou van voor 08h00 vanoggend. Kom by die deur en die man vra elke liewe siel wat hul saak is. Goed, sommiges word weg gewys en ek begin al kriewelriger raak want ek het nie ‘n minuut om te mors. Kom by die man en hoor my storie aan en ek mag oor die drumpel stap in Binnelandse sake in. Dit voel kompleet of jy ‘n heilige plek betree! Daar voor my blom ons liewe staatspresident in al sy onbevoegdheid en as my oë vuur kon spoeg, was hy toast! Langs sy foto hang Nelson Mandela sin en ek dink by myslef, dat dit ‘n klap in Mandela se gesig is om langs so ‘n pierewaaier te hang...wens in my stilligheid Zuma val van die muur af! Mandela draai in sy graf om as hy moet weet wat vang die knaap aan!

Ek gaan weer in ‘n lang tou staan. Soos ons staan probeer ek by mense wat soos personeel lyk wat verby kom uitvind of die geboorte sertifikate onwettig is. Elke keer hoor ek net “please wait your turn”, ek staan vir 2 ure op die een been en dan die ander, net om te hoor of dit ‘n ja of nee moet wees. Ek het vir my leesstof ingepak, ‘n lekker broodboek van oorsee wat ek van ‘n vriendin in Amerika gekry het. So in die staan lees ek die storie en resepte van Lionel Poilane en ek dink sy seun het oorgeneem Max. Baie lekker lees stof, so lekker dat almal voor my indruk. Op ‘n stadium tik ‘n swart vroutjie met ‘n pragtige vet baba seuntjie op die rug my op die skouer en wys ek moet vorentoe beweeg. Ek het my verkyk aan die vette dingetjie. Vreeslik vriendelik. Ons raak toe aan die gesêls en sy is baie verbaas dat ek vlot Sotho praat. Ek verduidelik dat my ouers van ons dit verwag het en omdat ons op die plaas groot geword het was dit maklik. So kuier ons tot voor. Ek pak die boek weg en begin weer my hele relaas oor die onwettige geboorte sertifikate!

Nee, kom dit van die uiters “onbehulpsame” dame, ek moet R40 per sertifikaat betaal en dit moet in kontant wees. Ek wou ‘n aar bars van woede, kan hulle nie ‘n bordjie op sit wat sê geen kaarte slegs kontant? Wonder in my stilligheid wat word van die kontant! In my heel vriendelikste en mooiste stem vra ek of ek my plek in die tou gaan verloor as ek gou uitgaan om die geld te trek. Nee, sal nie ‘n probleem wees. So stap ek met die pakke dokumente wat ek moet invul deur toe. Word toe voor gekeer deur die wag en ek word gesê ek mag nie die dokumente uit neem nie. Ek gee hom die papiere en sê hy moet vashou ek kom. Gaan na ‘n winkeltjie langsaan en vra of ek my kaart kan gebruik om geld te trek sonder om iets te koop. Die man is behulpsaam en binne 5 minute staan ek weer voor die tronk. Verduidelik weer en skree toe deur die hek vir die binneste wag om vir die buitenste wag te verduidelik ek mag “regmatiglik” weer in kom. Die toue mense staan 1 blok ver. Ek kan sien hulle lyk bedonderd dat ek sommer so mag ingaan. Ek voel skuldig maar ek het reeds 2 ure se staan agter die blad. Stap in en hulle verduidelik ek moet na toonbank 4 gaan.

Ek sit die vorms en invul en dink so in my enigheid, hoekom kan hulle nie as jy by die deur inkom vir jou die prosesdures verduidelik dat jy nie vir ure staan om weer terug gestuur te word. Hoekom kan ek nie sommer net gou ‘n vragie vra, hoekom moet ek 2 ure wag om te hoor of ek moet of nie moet her registreer? Ek sien dat daar 7 werkstasies is en net 2 word beman. Die een deur ‘n man en die ander deur ‘n simba chip fabriek dame...sy sit die groot simba chips pak langs haar neer en elke keer skree sy oor die mikrofoon, “Number 23 to cube 2”! Dan sit sy met daardie vieslike vuil hande op die sleutelbord en tik. Daarna vat sy met daardie einste vuil vingers aan die mense se hande om die vinger afdrukke op die elketroniese vinger afdruk masjien te doen. Ek is sommer naar en voel alles draai om my, sy vat nie aan my nie. Die beste kom nog, die grote man staan op, vat ‘n handvol van die chips en skeur die gedrukte geboorte sertifikaat vir die volgende slagoffer af. Jip, daar sit die vetkolle, ek kan dit van 20m ver sien! Ek krimp in een en my binneste hakkel soos n kat en ek vra die Vader om groot asb my hand te vat, my binneste wat soos ‘n bol gloeiende kole voel net te blus. Ek kyk op en die Vader maak my stil.

Ek haal diep asem en dink by my sigselwers. Hou bietjie die mense dop, ek sit vir 5 minute en daar sien ek die moeilikheid. Die dame wat by ontvangs sit het nie vir my gesê ek moet eers na die kassiere en dan na hokkie 4. Nee, ek sien hoe baie mense van alle rasse deur loop en weer agter in die ry moet staan. Ek vra ‘n ou man wat voor my staan, in sy beste kispak wat na mot bolle ruik of hy my plek sal hou. Ek vra die persoon agter my of dit reg is. Ek verduidelik vir die twee wat ek gaan doen en ek sal weer vir hulle plek hou as hulle gaan betaal. Beide stem in en ons hou by ons woord. Kan jy glo, net deur vriendelik te wees met my medemens en te onderhandel deur goed logies te verduidelik, het die woord soos veldbrand versprei en daar vlot die stroom vinniger en die tou word van ure na minute korter. Hel, wat gaan aan met die mense? Hoekom ons tyd mors, almal van ons moes ‘n dag verlof insit om ons papier werk te kom doen, besef hulle nie ons verloor geld? Ek vul beide kinders se vorms in, gaan na die kassiere en vertel hom my storie, hy reken die dokumente is nie onwettig nie. Maar stel voor ek doen die verandering want die nuwe geboorte sertifikate lyk baie anders. Betaal met knersende kake die R80.

Goed ek gaan staan-sit weer in ‘n lang tou. Die swart vroutjie van te vore met die oulike kleinding,  kom na my toe, en ek kan sien sy is erg verleë. Ek staan op en vra wat fout is, eerste ding wat ek dink, sy het nie geld nie. Nee, sy kan nie lees nie! So sit ek en vul haar papiere in. O, het ek vergeet om te sê dit moet swart pen wees? Nee, die bliksems spraak gin sprook oor niks. Ek blou pen beide van ons dokumente te lekker. Kom voor en ek kry raas oor die bloupen. Ek verduidelik toe maar die “ander vrou” en ek roep die dame wat ek gehelp het nader en sê hare is ook in blou. Noem niks dat ek dit ingevul het. Hy kyk my kwaai aan...”Ok don’t do it again, Mam”. My binneste antwoord terug op sy wipperigste: “Oh you can be sure I will not come back for bad service very soon my dear!”. Toe kan ek nie help nie, haal die wetwipes uit en vra dat hy sy hande sal afvee voordat hy aan my papier vat want ek het gesien hy eet en praat op sy foon in werkstyd. Wit in die gesig staan hy op gryp die lappie en doen soos juffrou sê. Want ek dink hy weet ek gaan kla oor die onprofessionele diens tydens werkstyd.

Stap uit en dink vir myself: Wat het geword van diens? Ons is geleer as ‘n klient voor jou staan dat jy vriendelik groet en ‘n diens lewer. Hier het ek gevoel ek word ‘n hengse guns gedoen om gehelp te word. Dit is my reg om gehelp te word want ek betaal belasting, meer as wat nodig is. Ek gee elke maand my kerklike bydrae, en raai wat, ek mag sê hoe die geld aangewend moet word. Ek stuur geld na die teologiesestudente kas, die bejaarde sorg, Helpende hand fonds...en hoekom kan ek dit nie ook met my belasting geld doen nie? Hoekom kan die belasting betalers nie uitsluitlik stem nie? Die res dra nie by nie? Ons moet alles en almal pêpa! Hoekom nie my geld vir basiese sorg soos kos en opvoeding allokeer? Hoeveel kinders sit op die skoolbanke honger elke dag? Hoeveel kry net 1 keer per dag kos van die skool se voedingskemas? Dit geld ook vir bejaardes en spesiale sorg soos gestremdes? En nou praat ek nie van wit en swart nie, ek praat van kinders, jongmense en bejaardes. Ek sien almal deur een bril. Nee, ek skaam my vir die toestand van diens in my wonderlike SA.

Ek is in murg en been ‘n Afrikaner, trots daarop, trots op my mooi land se natuurskoon en die diversiteit daarvan, my mooi unieke taal. Maar deesdae voel dit of niemand omgee, niemand luister, alles net vervalle raak en ek staan op die peron waar ‘n skip weg vaar met wuiwende passasiers en jou geskree word nie bo die toeter van die skip gehoor...alles mis voor die son!


Vandag het ek geleer om geduldig te wees, nugter na ‘n situasie te kyk en besef dat mens kan saam werk, ongeag ras of kleur. Mens moet net probeer. Ek het hoop vir alles!

1 opmerking:

  1. Hi Annelien,

    Dit laat my dink aan die situasie hier in Ghana. Hier in die streek waar ek werk is ek sekerlik die enigste blanke vrou, en 'n yslike rariteit.

    Ek is hier in 'n rural area en as jy as Blanke hier kom, sien die mense GELD in hoofletters.
    Die wereld hier is mooi, maar elke chief wil sy deel van geld he, wat daar gegee word om die paaie ens reg te maak (Self veryking) en nadat hulle hul deel geneem het is daar nie genoeg om die kontrakteur te betaal nie. Die paaie is haaglik.

    Tipies Afrika staan jy ook in LAANGGG Rye en wag en wag en wag. Onse Here het toe Hy geduld en verdraagsaamheid uitgedeel het, dit nie aan ons Europese mense gegee nie.

    Maar ook soos wat jy noem, het ek gesien dat 'n positiewe gesindheid deure oopmaak wat gewoonlik BOT toe is. En as jy kan deurdring en hulle laat Besef... Ek is nie jou vyand nie... Kom ons werk saam, verander hulle gesindheid.

    Dit is as ek so hier ry op die paaie en die geweldige verval armoede ens sien, kan ek die ooreenkomste sien met my moederland, en dan moet ek opkyk en my oe stip op die doel van my werk hier hou, om nie moedeloos te word nie.

    Maar ek sluit af. Wat 'n ondervinding. Wat 'n geleentheid.

    Seen en voorspoed. Ek geniet jou blog baie.
    Nognie by die kombuis en menue planning uitgekom nie. Gaan nog te dol.

    Wes Afrika Groete. Ekke

    AntwoordVee uit