Donderdag, 04 Februarie 2016

Wortelkoek genot!

Hierdie wortelkoek het deur die jare heen van soveel hande in die familie verwissel en nooit enigsins verander nie. Dit bak perfek elke keer. Ek hou van 'n beslag met veelsydigheid, ek soek iets wat vir my, moontlik my rand kan rek en ook in kleiner porsies kan bedien. Daarom bak ek nie net koek met die beslag nie, maar bak ook muffins vir my gastehuis se ontbyt spyskaart.
Verder vries die klaar gebakte produk ook baie goed vir die lang vakansies veral as jy jong kinders of studente tuis het. Maklik om vir hulle te vra om die bak uit te haal en te ontdooi by kamer temperatuur. So, paar vlieë met een klap.
Die koek kan maklik verdubbel word vir 'n groter koekpan om n ronde koek in n 13" /35cm pan te bak, wat nie te plat is nie.

Resep
400g Suiker
4 Eiers, groot
3ml Vanilla geursel
375ml Sonneblom olie
280g Koekmeel
5ml Bakpoeier
10ml Koeksoda
10ml Kaneel, fyn
5ml Sout
750ml Wortels, gerasper
40g Klapper, fyn
100g Pekans of Okkerneute, gekap
250ml Geblikte fyn pynappel, gedreineer
Versiersel
125g Botter, sag
500g Versiersuiker, gesif
250g Roomkaas
5ml vanilla geursel 
Ekstra gekapte neute om bo-oor te sprinkel

Metode:
1. Verhit oond tot 180’C. Smeer twee 23cm-koekpanne en voer uit met bakpapier.

2. Klits eiers,suiker en vanilla saam en voeg olie geleidelik by. 

3. Sif meel, bakpoeier, koeksoda, kaneel en sout saam en meng by eier-mengsel. 

4. Voeg gerasperde wortel, klapper, okkerneute en pynappel by beslag. 

5. Gooi in voorbereide panne en bak ongeveer 1uur. Laat die koek afkoel in die panne.

Vir die versiersel:

1. Room botter en voeg helfte vd versiersuiker geleidelik by.

2. Klop tot lig en romerig. Voeg roomkaas by en meng op lae spoed. 

3. Voeg laastens res vd versiersuiker en vanilla by. 

4. Meng tot als goed deurgemeng is, anders raak die versiersel loperig. 

5. Keer koeke uit panne uit en verwyder bakpapier. Smeer een koek met die helfte vd versiersel. Plaas die ander koek bo-op en smeer oorblywende versiersel. Sprinkel neute bo-oor.

Bron: Annelien Pienaar, 2015, www,bosenbergguestfarm.co.za
Hoeveelheid: 1 dubbellaag koek, 1 ringkoek van groot formaat of 12 kolwyntjies

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking