Maandag, 29 Februarie 2016

2-in-1 Pizza reseppie vir Glutenvry asook met gluten

Jare gelede het ek aan ‘n paar resepte vir ‘n bekende Meel maatskappy gewerk. Een van die ster resepte wat ek ontwikkel het was die Vinnige pizza kors deeg. Dit is binne paar minute gereed. Ons het so baie pizza tuis gemaak dat ek in die gewoonte gekom het om die meel vooraf af te weeg met al die ander droeë bestanddele by,  olie by te meng en dan te vries. Dan het ek net nodig gehad om die vloeistof by te sit en siedaar die deeg is gereed. 

Ek het toe ook aan 'n tweede reseppie gewerk vir gluten allergië en het toe met kekerertjie meel 'n korsie gemaak. Dus het ek vir julle twee kors reseppies op hierdie resep ingewerk om van te kies. 

Die sousie is ook ‘n heerlike reseppie en kan in groter volumes gemaak en in die yskas gestoor word. Wat ek van Pizza hou is die feit dat dit die hele gesin kan betrek. Hoeveel van ons mamma’s het nie al gesukkel met kinders en mans wat nie wil groente eet nie? Wel, ek het my mense al so gekondisioneer dat hulle ten minste drie groente moet opsit en dan kan hulle maar laat waai met die kaas en vleisies. Elkeen maak sy eie kos, en dit is ‘n hele kuier aksie. Die maats smeek my altyd as hulle kom kuier of hulle nie al dieselfde middag kan pizza maak nie. Nou, hoe kan hierdie tannie nee sê?

Kors met Gluten
500g Koekmeel of broodmeel
2t Bakpoeier
¼ t Koeksoda
5ml Sout
15ml Olie
150ml Water
125ml Melk

Metode:
1. Sif die koekmeel, bakpoeier, koeksoda en sout saam. 

2. Moeg die water en melk by en meng die deeg goed totdat al die meel ingewerk is. Knie liggies vir ‘n minuut. 

3. Laat eenkant om te rus terwyl jy die sousie maak.


OF


Gluten vrye pizza kors
280g Kekerertjie meel (Chickpea flour)
1t Sout
½ t Knoffel poeier
10ml Origanum
50ml Olie, olyf verkieslik
330g Water (makliker om te weeg)

Metode:
1. Meng al die droeë bestanddele saam en voeg die olie en water by die meel. Knie liggies om ‘n deeg te vorm en laat 30 minute rus voordat dit gerol of ingedruk word.

2. Skep tamatiebasis op en sit vulsel op.

3. Plaas vulsel en kaas op.

4. Bak by 220℃ vir 30 minute.


Tamatie basis
390g tamaties, blansjeer of blikkie
1 Ui, medium in ringe of blokkies
1 Knoffel toontjie, fyn gedruk
25ml Olie
5ml Oringanum
10ml Sagte bruinsuiker
25ml Tamatiesous
5ml Tamatie puree
Sout en peper na smaak

Metode:
1. Hier kan jy kul indien verkies om dan tamaties in ‘n blikkie te koop. Maar vir my met tuine vol tamaties blansjeer ek dit, verwyder skil en kap medium grof op.

2. Braai die uie in olie tot glansend en deurskynend. Voeg die tamaties en knoffel by en prut vir 10 minute tot lekker dik.

3. Voeg die res van die bestanddele by en kook vir ‘n verdere 3 minute om geur te ontwikkel.

4. Laat effens afkoel terwyl jy die vulsel bestanddele voorberei.

Vulsel vir pizza
Jou keuse! 
Rond af met 250ml gerasperde Cheddar kaas of Mozzarella kaas.
Sout en peper na smaak

Metode:
1. Jy kan die pizza deeg uit rol of indruk in die panne.

2. Smeer dan die deeg met die Tamatie sous en pak dan die vulsel bestanddele van jou keuse op. 

3. Bak die pizza in ‘n voorverhitte oond teen 220℃ vir 30 minute

Bron: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za, 2016-02-29
Hoeveelheid: 4 persone

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking