Woensdag, 10 Februarie 2016

Suurdeeg Sjokoladekoek met Gesoute karamel vulsel

Hierdie resep lewer ‘n koek wat ‘n nat tekstuur het, klam en heelik sponsig met ‘n delikate smaak. Ek het hierdie reseppie onlangs weer gevind in ‘n skoendoos vol briefies van toenertyd se penmaats! Ek onthou nog hoe ek een vriendin gemaak het deur die destydse Keur tydskirf. Aai, dit was lekker tye gewees. Ongelukkig is daar net die reseppie in hand geskrewe gr 5 lopende skrif en geen naam by nie! Ek het met die koek my eie Gesoute Karamel vulsel bygesit vir daardie ietsie anders as die gewone karamel kondensmelk. Daar is grondbone in die vulsel vir die koek wat die karamel op ‘n vreemde maar tog aangename wyse komplimenteer saam met die klamheid van die koek. 

Die koek kry ‘n heerlik stropie oor en jy kan besluit watter “method of poison” jy wil doen: brandewyn, rum, room likeurs! Of jy kan sonder alkohol die koek geur gee deur koffie en ander essens te gebruik. Die koek kan in muffin panne of koek panne gebak word...lekker speel met 'n dekandente koek! Voordat ek vergeet, die koek word met gis gebak en nie bakpoeier. Die koek rys in die yskas oornag of vir paar dae soos jy tyd kry om te bak....Dalk vir al die koffie winkel eienaars 'n wenresep om vars muffins en koek gereed te hê op 'n daaglikse basis!

Resep
420g Koekmeel
¼ t Sout
4e Kakao
10g Kits gis
200g Botter of Bak margarien 
400g Suiker
1t Vanielje
3 Eiers
125ml Water
400ml Melk
125ml Gekapte neute

Metode:
1. Sif die koekmeel, sout en kakao saam, voeg die kitsgis by.

2. Klits die botter en suiker tot baie lig en donsig, voeg die vanielje by.

3. Klits die eiers een vir een by, klits goed deur voordat die volgende eier bygevoeg word.

4. Meng die melk met lou water.

5. Meng die die gesifte koekmeel mengsel om die beurt met melk en water by die geklopte eiers.

6. Die mengsel se konsistensie moenie te styf wees nie. Skep die beslag in twee gesmeerde panne.

7. Plaas die mengsel in die yskas om oornag te fermenteer of selfs vir ‘n paar dae.

8. Sprinkel nuete oor die koek as jy dit uit die yskas haal ‘n uur voordat dit gebak moet word. 

9. Bak die koek vir 30 minute by 180℃.

10. Gooi sous oor en laat afkoel. Sny dan in lae.

Stroop vir die koek
125ml Sagte bruinsuiker, Treacle sugar ( ½ k)
1k Water
3e Enige alkoholiese geursel van keuse anders vir diegene wat nie alkohol mag gebruik 1t Essens

Metode:
1. Kook al die bestanddele saam en laat effens afkoel en gooi oor die warm koek. Laat die koek dan goed afkoel.

Gesoute karamel Vulsel 
(Jy kan die resep vir die vulsel verdubbel as jy ‘n soet tand het)
65g Vla poeier ( ½ k)
120g Sagte bruinsuiker, Treacle sugar ( ½ k)
¼ t Sout
250ml Water (1k)
½ k Stroop
3 Eiers
250ml Grondbone, gerooster en gesout

Metode:
1. Meng die vla poeier, suiker en sout saam in ‘n kastrol. 

2. Voeg die water en stroop by en kook totdat die mengsel verdik het vir ongeveer 3 minute en laat effens afkoel. 

3. Klits eers die eiers vooraf en voeg dan die warm mengsel in ‘n dun straaltjie by die eiers terwyl jy die heeltyd klits. Hou aan klits en jy sal vind dat die mengsel verder verdik en romerig word. 

4. Voeg nou die grondbone by die mengsel en plaas die kastrol terug op die plaat en kook vir 5 minute oor matige hitte. 

5. Skep nou die lou warm vulsel oor die afgekoelde koek lae en eindig met nog ‘n hopie van die karamel mengsel. Sprinkel weer grondbone of neute van keuse oor die koek...

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za 
Hoeveelheid: Dubbel laag koek 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking