Maandag, 01 Februarie 2016

Sticky Toffee Poeding met Karamelsous

Wat ‘n wonderlike bederf is hierdie nagereg nie. Ek het deur die jare die nagereg in soveel vorme bedien dat elke keer wat ek dit voorsit, raak ek nogsteeds opgewonde wat oor die gaste se opmerkings. Ja, ek is ‘n kok wat kook om my gaste te bederf en elke keer met genoegdoening van die tafel laat opstaan. Want waarvoor doen mens immers al die moeite?

Hierdie reseppie het ek jare gelede by ‘n buurvrou in Abbotsford, Brittish Columbia, Kanada gekry. Haar moeder was van Engelse afkoms en het dit as tradisie sondae gemaak. Die dag toe ek die poeding proe het ek geweet hierdie een is ‘n wenner. Ek het al baie Sticky toffie poeding geproe, maar hierdie een is lig en dekadent. Ek hoop julle geniet dit net soveel soos ek. 

Die nagereg kan gebak word in enige soort vormpie, kan ontvorm word,  kan in ‘n mooi bekertjie bedien word of as ‘n groot poeding in ‘n mooi bak gemaak word. Ek maak effens meer karamelsous vir diegene soos ek, wat hou van die ekstra soetigheidjie. Die sousie kan oor die warm gebak gevoeg word, of na die tyd oor gesit word.

Resep
100g Dadels, fyn gekap
175ml Water, kokend
1t Sterk koffie korrels (opsioneel as jy nie van koffie smaak hou vervang met kakao)
1t Koeksoda
75g Botter of Rama bake
150g Strooisuiker
175g Koekmeel, gesif
2 Eiers, groot

Metode:
1. Voor verhit oond na 180℃ en smeer die bakkie(s) waarin die nagereg gebak gaan word.

2. Plaas die dadels, botter, suiker en koekmeel in ‘n bak en meng goed deur met vingerpunte sodat die botter ingewerk is. 

3. Plaas die kokende water, koffie en koeksoda en meng goed deur.

4. Voeg die koffie mengsel by die meelmengsel en meng goed deur. 

5. Voeg nou die eiers een vir een by en klits met ‘n elektriese klitser in. Hou so aan totdat al die eiers ingewerk is.

6. Die deeg sal ‘n loperige beslag wees.  Skep in vormpies. 

7. Bak die nagereg soos volg: Vir ‘n groot nagereg bak vir 30-35 minute of vir individuele vormpies bak vir 15-20 minute, toets met ‘n toetspen dat dit skoon moet uitkom.

Stroop
125ml Water
125ml Melk
125ml Sagte bruinsuiker
5ml Vanielje geursel

Metode:
1. Smelt water, melk en suiker saam oor medium hitte en kook vir 5 minute saam. Giet kokend oor die warm gebakte koek.

Karamel Sous
175g Sagte Bruinsuiker (Treacle sugar)
75g Botter
110ml Room (plaas room is die beste)

Metode:
1. Smelt die booter en suiker oor lae hitte totdat die suiker gesmelt het. Verwyder van hitte en voeg die room in ‘n dun straaltjie by en kook oor matige hitte vir 2 minute.

2. Bedien saam met die poeding of vooraf oorgegooi...

Bron: Caro O’Kennedy, Aangepas vir SA kondisies deur Annelien Pienaar, 2001, www.bosenbergguestfarm.co.za
Hoeveelheid: 6-8 porsies

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking