Vrydag, 26 Februarie 2016

Ons Doppie deeg

Ek het lank gesit voor ek die resep kon oortik. Ek het gevoel dat as ek dit oortik, ‘n stukkie van my hart weg gegee word. Hoekom? Want op die oorspronklike reseppie, in my mammie se handskrif staan daar “Ons Doppie deeg”, die Sonskyn susters se resep. My ma en haar sussie was onafskeidbaar. Beide sonskyn susters is tans saam in ‘n Ewige plekkie, waar ek dink die twee seker die Hemelpoorte ophelder met hulle manewales en sonskyn. Ek onthou nog die dag toe my mammie die reseppie vir my gegee het. Ek het 'n dol dag by die werk gehad en nog 'n siek kind op die koop toe. Ek bel haar die middag toe ek uit Pretoria ry om vir my die reseppie neer te skryf en saam in boetie se doeke sak te sit as ek hom oplaai op die plaas. 16 jaar gelede was daar nie iets soos slimfone of fone wat foto's kon neem nie.

Vandat ek kan onthou is hierdie reseppie deel van ons familie. My ma het so baie gebak vir kerkbazaars, feeste, tuisnywerhede en almal wat wou hê. Ons het elkeen ‘n mengsel moes aanmaak en dan rol en bak. Die deeg is baie veelsydig in die sin dat dit dun of dik gerol kan word. Dit kan vir klein doppies en ook groot tert doppe gebruik word. Laat net die suiker uit en jy het ‘n heerlike sout tert broskors. Die wonder van alles is die doppies kan nadat dit gebak is vir  6 maande gevries word. Haal uit en vul soos nodig. Die doppies word ook nie so gou pap nie. Hoop julle gaan hierdie juweeltjie bewaar vir generasies wat kom.
Oorspronklike resep
Resep
400g Koekmeel
40g Suiker
10ml Bakpoeier
2ml Sout
250g Rama of Stork bake (rasper die gevriesde blok netso om die verwerking makliker te maak)
2 Eiers, groot, geklits

Variasie: Sjokolade doppie, verwyder 40g Koekmeel en voeg 20g Kakao by die droeë bestanddele.

Metode:
1. Sif die koekmeel, suiker, bakpoeier en sout saam. 

2. Nou kan jy een van twee tegnieke gebruik om die margarien in die meel in te kry. Rasper die gevriesde botter en plaas dan in voedsel verwerker en draai totdat die mengsel soos broodkrummels lyk. Of as jy nie ‘n voedsel verwerker het nie kan jy met die vinger punte die margarien in die meel in vryf totdat dit soos broodkrummels lyk. Die feit dat die margarien gerasper word maak die invryf baie makliker en vinniger.

3. Indien die voedsel verwerker gebruik word, voeg die twee eiers by en draai totdat die mengsel een word, ongeveer ‘n minuut of twee. As jy met die hand werk druk die deeg net aan mekaar sodra die eier by gevoeg word.

4. Ek druk die deeg plat in ‘n vries sakkie en rol effens plat binne in die sakkie sodat dit ‘n egalige dikte is. Plaas dit dan in die yskas vir 60 minute en verwerk na gelang.

5. Die dikte wat die deeg uitgerol word is jou keuse of wat die resep ook al voor vra. Vir doppies kan jy besluit of dit dik of dun moet wees. Moenie vir die klein doppies dunner as 3mm rol en nie dikker as 5mm. Onthou die baktyd vir die klein doppies is 8-10 minute of totdat dit bruin is. Vir die groter doppe moet dit eers blind gebak word vir 5 minute, die bone verwyder en dan verder klaar gebak word vir 10-15 minute. Ek prik alle doppies en doppe se basisse. 

6. Maak ook seker wanneer jy die doppies uit druk en in die holtes van die pannetjie sit dat jy die drukkertjie wat die degie in die holte indruk, eers in meel sit om te keer dat dit aan mekaar vas sit. 

7. Bak dan by 200℃ vir die tyd aangedui.

Bron: Hantie Bezuidenhout en Ina Venter Lombard, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za
Hoeveelheid: 3-4 dosyn doppies of 2-3 groot doppe

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking