Vrydag, 19 Februarie 2016

Lui-Huisvrou Spek ek Eiers / Lazy day Bacon and Eggs

Alles-in-een ontbyte is my idee van vinnige en maklike kos! Met die gastehuis saam kry mens soms nuwe idees vir ontbyte nodig. Ja, mens se kombuispersoneel daag nie op of soms nog effens aangeklam na die vrydag- en saterdag aand se gefuif. Dan gebeur ontbyte soos hierdie in 'n kits, as mens volbespreek is en dit is 'n klompie manne wat lus het vir borde vol proteine. Ek is baie gelukkig om in 'n area te woon waar ons eiers teen baie goeie pryse kry asook eiers met 'n gewig van 130g plus. Dus is die ontyte geskik vir 'n koning!

Ek bedien vars gebakte plaasbrood saam met die ontbyt, tuisgemaakte konfyte en vars botter wat vroeg oggend gemaak is. Heerlike geblikte moer, met 'n houertjie kondensmelk eenkant vir diegene met 'n erge soettand! Geniet hierdie een! Wonder wat die banters sal sê van hierdie boere brekkie?

Variasie: Ek vervang die spinasie en sit gebraaide uie en sampioene by of meng sommer die twee met mekaar. Voeg so 'n knippie gerookte paprika by die sampioene vir 'n heerlike subtiele en rokerige smaak wat goed werk met die spek. Verder maak ek ook 'n tamatie en maalvleis smoor wat saam met die spek in sy eie hoekie kan ingaan. Dus, speel met die idees, niks kan flop nie.

Resep
2 Eiers
4 Repies spek, klaar gaar, gekap of heel
60ml Broodkrummels, droog (kan vervang word met suiwer parmasaan kaas of amandel meel van dieselfde volume vir die Banting dieet) 
10ml Origanum, gedroog
15ml Parmasaan kaas, gerasper
Sout en Peper na smaak

Metode:
1. Spuit die rammekin of vuurvaste bakkie waarin jy die ontbyt gaan bedien uit met kleef werende kos sproei of vee uit met klapper olie. Voor verhit die oond na 200 grade C.

2. Breek die eiers versigtig in die bakkies en plaas die groente en die spek in hopies waar jy dit gespasieer wil hê. Jy sal sien dat die spek en die groente nie mooi in die eierwit wil gaan nie, maar skuif dit effens rond en dit sal wel op die bodem gaan sit.

3. Sprinkel dan die mengsel van broodkrummels, parmasaan en origanum oor die eierwit gedeeltes. 

4. Sprinkel nou sout en peper oor die dis na smaak en bak in die oond op 'n bakplaat. Bereken die baktyd vir die eiers se gaarheid soos volg: 5-7 min vir sagte geel wat nog loperig is, 7-10 minute vir effens sagte tot harde eiergeel.

5. Bedien dadelik met tuisgebakte brood en konfyte. 

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za

Hoeveelheid: 1 porsie




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking