Maandag, 22 Februarie 2016

Kyknet se Groot Ontbyt en my oeps met die "Weed"!!

Die Groot Ontbyt ervaring was een van vele fasette en iets wat my nog lank sal by bly!

Kom ek begin by die begin. My vriendin ken die manne van die Groot FM span en het my nou al herhaaldelik gepor om my gesiggie op die kassie te wys. Na ‘n paar TV goedjies wat ek gedoen het in die verlede, het ek nie baie van dit gehou nie. Daarom dat ek sku is vir die tipe werk, want daar is geen vryheid om regtig jou resep ten toon te stel soos jy dit ken en weet dit werk. Dus in kort, my antwoord aan haar was heeltyd nee!

My vriendin het vasgebyt, my en Riaan aan mekaar voorgestel en so het ons begin kuier en hy het die konsep met my geklankbord, dat ek kan maak wat ek wil op die stel, gegewe ek klaar kry en sinvol te werk gaan. Paar weke gaan verby en ek het heeltemal vergeet van ons gesprek en korrespondensie. Maandag middag laat kry ek die oproep van Riaan, dat Chef Dino siek is en of ek die volgende dag kan instaan. Riaan rammel die rits van dinge wat gedoen moet word af soos segmente en goete se name wat ek nie ken nie. Ek sal vir Pieter bel as ek tuis is, wat in beheer van die program is, sodat ek mooi kan weet wat hy van my verwag. Gelukkig is ek nog in die dorp en ek haas na Jasmyn om my groente en goedjies vir die volgende dag se demo te kry. Goed, die dis kan een van twee goed word, ek sal dink as ek tuis kom watter een ek gaan doen. Kan nogsteeds nie glo soos ek koop en beplan, ek doen nou my eie ding op nasionale TV sonder enige editing nie, suiwer lewendige demo met oepse en alles.

Kom by die huis en loop voor die spieël verby en kyk na my voël verskrikker voorkoms. Ek was Desember laas by die haarkapper en sy het al paar keer laat weet ek moet kom! Dit is erg as jou haarkapper jou herinner jy is “long over due” vir 'n mens word sessie. My hare moet maar doen vir die volgende dag. Ek sal die hare net mooi kam dat die wortels se uitgroei nie wys nie, dit is nou net die deel van die grimering wat pla. Ek dra nie grimering nie! Riaan het gesê daar is iemand wat dit doen en ek moenie kommer, ek sal nie soos ‘n Indiaan met oorlogstrepe lyk nie. Ek besluit toe op die gereg en begin met die voorbereidings. Doen my volgorde van werk en beplanning, ek is tevrede met die tyd wat toegestaan word vir die demo, dat ek sal klaar kry. 

Dinsdag oggend, 04h00 piekel ek met my pakkerasie na die Groot FM ateljee in Pretoria. Ek het goed gery en bereik die plek teen 04h45. So kom ek by die deur en is gewoond daaraan dat mens die deur vorentoe druk om in te gaan. So met die pakkaas in die hande bly ek rem en druk teen die deur. Die knapie wat in Ontvangs sit, beduie soos ‘n mimiek kunstenaar wat ek moet doen. Nee, ek moet alles neersit en die deur na my kant toe oopswaai! Goed, ek het die deur oop. Druk die deur met die een boud oop sodat ek die res van die pakkies bymekaar kan skraap, want ek is lui vir twee keer loop. Ek mis gis my mos met die verdomde deur se meganiese arm en die deur gee my 'n lekker stewige klap van agter asof dit vir my wil sê "roer jou litte!". Daar gaan ek. Wag vir Riaan in ontvangs en ouder gewoonte kan jy hom natuurlik deur 'n ring trek. Netjies aangetrek, nie 'n kreukel in sy hemp en sy hare so netjies gedoen. Skoon, oop en vriendelike gesig. Hy is duidelik 'n man van orde en presissie, presies waarvan ek hou! Hy neem my na die kombuis waar alles vir my gewys word en die orientering was darm pynloos. Dus, hol die arme Riaan weer en laat my agter in die kombuis.

Stap in en begin dadelik al die goedjies vir die eerste segment gereed te kry. Ek bak solank die eerste broodjies wat reeds die vorige aand geknie is, sodat ek ‘n eindproduk kan wys. Die mense kom een na die ander groet en ek word die ropes geleer van die hoe en die wat. Ek hol gou na my kar om die olyf olie te kry, sukkel weer met die deur, want blondie het vergeet, dit is stoot en nie trek nie. Die outjie agter die ontvangs toonbank skud net sy kop vir die deurmekaar warrelwind wat elke keer verby woer. Met die terug kom slag is ek baie bewus van die klap van agter en voordat ek 'n klap kan kry, word ek gestop om gou hare en grimering te doen. Die dame wat my help is baie goed en het gou agter gekom...”Less is more” in my geval. Kom terug en ontmoet die Kamraman en die Klankman. Die kamera man en die klankman was vir my die heel beste! Ek het natuurlik weereens my naam met ‘n plank geslaan deur nie my woorde mooi te kies nie.

Die klankman is siekerig en drink klompie medisyne by my in die kombuis. Ek verduidelik vir hom die waarde van alternatiewe medikasie soos Echina Force met hoë dosisse Vit C as natuurlike antibiotika. Die kameraman wil toe nou mooi weet hoe die storie werk en ek verduidelik vir hom in Engels. Die klankman, kyk ons eers skeef aan, want hy hou nie van die alternatiewe storie nie. Die kameraman sê vir die klankman, hy moet luister die “lady with the Louis Vuitton" voorskoot, weet waarvan sy praat. Ek vertel hom die grappie van my swaer wat my mos die “bossie chef dokter” gedoop het. Hy kon nooit verstaan dat ek bossies "kruie" in my kos gebruik. Nou kom die konsternasie, want ek het die bossie-kruie ding in Afrikaans verduidelik en die kameraman is engels. Nou probeer ek dink aan wat is die engels vir bossies en die eerste woorde uit my mond is: “Weed!!!”. “Oh, cool!” Kom dit van die kameraman en hy smile te breed met ‘n vonkel in die oog. Ek besef wat hy dink en hoe meer ek probeer verduidelik dat dit nie dagga of maruanna is nie, hoe erger klink die storie en die manne byt my verleentheid uit! Nee, kyk, hulle het die heel tyd wat ons gewerk het, my siel versondig oor my “Weed”!

Toe raas ek met die klankman wat weer die mikrofoon se meganisme aan my broek se agternaat wou vasmaak, want die laaste keer (Via TV) het ek die mikrofoon gedoente amper in die toilet weg gespoel! Dus, moes ek maar my vetrolletjies ontbloot sodat die mikrofoon in my buustelyfie (haai kyk my mooi afrikaans!) kon vas kry. Ek is eerlik, dit is makliker om in die hospitaal te lê met ‘n drip aan, as om die draad gedoente baas te raak. Toe kom die oorfoontjie, nogal ‘n groot aanpassing gewees om met die een oor te luister na die aanbieder en met die ander oor na die groot baas wat instruksies gee oor goedjies wat ek dalk mis. En ja, jy moet mooi luister en nie die stem in jou oor hardop antwoord terwyl jy lewendig werk nie. Dus was dit kop hou soos nog nooit van te vore!

Danksy die "Dagga" episode wat die ysgebreek het, was ons almal op dieselfde golflengte ingeskakel en het sommer lekker as 'n span saam gewerk! Ek sal seker tot in lengte van dae as die “Weed” vrou met haar Louis Vuitton voorskoot onthou word!

Groete Annelien!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking