Woensdag, 03 Februarie 2016

Honey en die Fake-up!

Party dae is mens moeg vir 'n skare mense om jou en dan wil jy net stilte en vrede om jou hê. So, op die vermelde dag, my afdag, dra ek letterlik janna’s en plakkies, geen grimering (lg meeste van die tyd) en pak huis reg. So gebeur dit dat ek gevra word om gou paar koppies en ietsie te peusel moet reg kry by die gastehuis vir ‘n vergadering.

Trek net netjies aan, hare is op hul plek en daar gaan ek. So, met die intrap slag hoor ek vir pappie met die groot kokkedoor wat kom, praat. “Nee, my vrou sal nie omgee om jou vrou gesêlskap te hou nie.” Goed dink ek dit sal seker nie te lank wees nie, ek ken die man net van besigheid se dinge af en ‘n baie slim man.

Die paar manne arriveer en meneer en mevrou is 10 minute laat vir die vergadering. Ek is haastig want die kinders het pas van die skool gekom en ek weet voor my heilige siel die seuns sit en TV kyk. Sussie is iewers in die huis besig om kwaad te doen. Deesdae is sy besig om haarkapper op haar poppe te speel! Om dus my Filistyne so alleen te laat spel moeilikheid. So kom meneer daar aan en die mooiste pop (nuutste een) klim uit die luukse voertuig. Sy skram weg vir ou Basjan en Katryn wat kom hallo sê, my honde het maniere, hulle byt nie, lek nie en spring nie op nie.

So sien ek die dame aankom en ek dink so in my stilligheid dit kan seker nie so erg wees nie. Handsak amper bo haar kop, soos iemand wat op Survivor deur die see moet gaan met 'n kosbare pakkie, net om die honde te vermy. Die haakskoen wat volgens my, myle te hoog is vir haar dun beentjies loop steek vas in die plaveisel wat al uitgespoel is deur die jare. “Honey, can you please assist me?” O, boerevolk en nasies gaan dit deur my kop. Trek die donnerse skoene uit! Meneer help vir Honey en sy maak dit tot op die stoep sonder om ‘n nael te breek. Gewapen met haar bottel water stap sy in en ons groet. Ek vra of ek vir hulle gou ‘n lekker Cuppacino of Espresso kan maak en sy wys die koffie van die hand.

Die manne gaan sit op die stoep om te gesêls en ons twee sit in die ateljee en kuier. Die gesprek is so taai soos ‘n tameletjie. Die dame kan nie boe of ba sê nie. Ek is iemand wat met gemak ‘n intelligente gesprek oor amper enige onderwerp kan voer. Ek begin gesêls en vra haar uit wie sy is, wat sy doen. Terwyl ek probeer gesêls kan ek nie my lag bedwing nie, Honey se hare lyk soos die van ‘n Dolly Parton en ‘n Cruelle de Ville gekruis, hoog op die kop met lang swart slierte wat gekoek is teen die rug af. Het sy 'n'"road kill" opgetel en op haar kop vas geplak? Agter haar swartraam bril (waarvan die lense vuil is) is die wimpers so erg besmeer met maskara dat dit lyk of iemand haar ‘n paar blou oë gegee het, want sy sukkel om haar ooglede oop te hou soos sy praat. Nee, dink ek by myself, jy het seker maar vir my part ook geplak!

Dit word stil en ek probeer uitvind wat sy doen en waar sy vandaan kom. Ooi, en dan kyk sy af na haar foon en terwyl ek met haar gesêls sit sy en tik. Nou goed, as jy my moermeter deur die dak wil stuur dan moet jy nou dit doen. Ek staan op en sy kom nie eens agter nie. Ek deel koeksisters uit vir die mans en kom terug met die vuil koppies, was dit en gaan sit weer by Honey.  Sy kyk met haar vaak ogies op en sê: “Jy het gesê?” Ek kyk haar aan asof botter nie in my mond kan smelt met 'n gemoed wat oorkook van bedonderdgeit en vra haar toe of sy ‘n koeksister wil  hê? Nee, dankie kom die antwoord. Goed, nou wat gee ek vir die voëlverskrikker om te eet? Sy is dun en regtig amper anoreksies maer. Nee, reken sy, sy is allergies vir stof en allerlei goed op haar vel en lewe net van water en kortisone! Sy eet nie kos nie.

Ek kyk haar mooi in die oë en vra haar of daar kanker in haar familie is, toe moet jy sien hoe die ogies oop gaan en met belangstelling vra hoekom. Ek vra haar hoe lank sy al op die kortisoon behandeling is? “Ag baby, jare!” kom dit van Honey. Toe val sy amper van die stoel toe ek vir haar sê dit is kos vir kanker. Ek sien Honey sukkel om haar bottel water oop te draai omdat haar naels so lank is, ek dink Jacob Zuma sal dink sy is ‘n tokkelosie...die lippe is so dik gebotox dat sy dit nie eens op mekaar kan druk om die strootjie te suig.

Ek vra haar of sy plaas toe gaan trek van die stad af en sy antwoord sy woon al 6 maande op die plaas en sy sukkel om met die stof en gras aan te pas haar vel het die heeltyd ‘n uitslag. Ek dink so in die stilligheid, gooi die flippen grimering in ‘n drom en skraap die klei van jou vel sodat dit kan asem kry. Jou vel versmoor suster en dis hoekom jy al wat ‘n uitslag is kry. Maar ek bly stil. Dit is toe my beurt om van my stoel te val toe sy kommentaar lewer oor my grimeringlose vel, so asof sy my gedagtes kan lees! “Poppie, jy is so mooi, hoekom sit jy nie make-up op nie. Ek het ‘n kosmetiese maatskappy en ons sal jou in a flash fix!”. Ek kyk haar aan met ‘n gemoed wat nou al by die tyd verby kookpunt is, omdat sy nogsteeds, te midde van alles, op haar foon sit en kuier. Aag en toe is ek ewe vriendelik en sê: “I don’t do FAKE-UP, I like my skin to breathe and feel the sun shine, I love the way my little girl touches my cheeks and my husband loves kissing me anytime he want, without worrying about red lips ....” En toe word beide van ons deur die spreekwoordelike “bell” gered wanneer die manne aankondig hulle is klaar met die vergadering!

Ek vertel vir pappie van die kuiertjie en hy raas eers oor die feit dat ek die woorde met 'n gas gebruik het van Fake-up, maar toe ons die paadjie af stap huistoe, het ons lekker gelag vir my ongemak en frustrasie.


Ek dink nie die uitdrukking van “Fake it untill you make it” gaan vir my ooit werk nie! 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking