Dinsdag, 23 Februarie 2016

Gepiekelde Kerrievis / Pickled Curry fish

My ma kon vir jou die heerlikste kerrievis maak. Ons het oor Paastyd dit geniet en veral as ons oppad was met vakansie. Ons het dan langs die pad gestop, ja, by daardie wit gekalkte bankies wat onder die wilger- en die popelierbome gestaan het. Daar het ons bene gerek en soms maar in die grassies die blasies leeg gemaak. Ons het heerlike sagte witbrood wat mammie self gemaak het saam met die kerrie vis geëet. Ek kon nooit genoeg kry van die kerrievis se sousie nie, ma het altyd ekstra gemaak vir my sodat ek my broodjie deur die sousie kan trek. Die uie in die kerrievis was krakerig amper bros, ek onthou hoe my ma gewaarsku het as ek haar help dat die uie nie te veel moet kook nie anders word dit pap. Ek het met my vinger daardie uie een vir een uitgekrap en ek en pa het altyd stry gekry oor my tafelmaniere!

Daar was ook die immer gewilde gekookte eiers met vulsel en koue hoender boudjies. Pa het vir ons van daardie glasbotteltjies coke net buite die dorp by die vulstasie gekoop. Ons het nooit sulke luukses soos Coke geken nie, daarom dat ma dit toegelaat het. Ja, die fles met koffie was daar, maar dit was vir pa om hom wakker te hou met die langpad. Ma het nie ‘n bestuurders liksens gehad nie, dus moes sy maar vir pa wakker hou. Ons drie dogtertjies was ook nie die stilste kinders nie. Ons laatlam sussie moes ongelukkig al ons bakleiery oorleef. Ja, dit was die goeie ou dae waar ons net kon kind wees en die vooruitsig van die een wat die see eerste sien, kry ‘n roomys. Maar pa was slim, hy het die see altyd eerste gesien om ‘n rusie te vermy. Ma het doodstil op haar plekkie met haar hekelwerkie gesit, ritmies het die naald heen en weer geflits soos sy gewikkel het. Ek kon vir ure kyk na hoe sy blits vinnig ietsie hekel. 

Resep
2e Masala (sien asb op die blog die Achaar Masala resep)
2t Borrie
Koekmeel, genoeg om vis in te rol.
Olie, vir vlakvet braai
500g Hake filette, in 3cm blokkies gesny
4 Uie, geskil en in ringe gesny
250ml Water
250ml Wit wyn asyn
5 Lourier blare
5ml Swart peper korrels
2 Knoffel toontjies, gekneus
5ml Gemmerwortel, gerasper (opsioneel)
5ml Koljander sade, geskroei
125ml Wit suiker (100g)
10ml Sout

Metode:
1. Meng die sout, borrie en masala saam. Sprinkel oor die vis en rol dan die vis in koekmeel. Ek het gevind dat ‘n mengsel van gelyke dele koekmeel en maizena ook ‘n lekker krakerige korsie maak. Maar die keuse is joune.

2. Braai dadelik die vis soos jy dit uit die meel haal in vlak vet totdat dit gaar is aan beide kante. Ongeveer 3 minute aan elke kant.

3. Plaas die water, asyn, peper korrels, lourierblare, koljander, borrie en masala in ‘n kastrol en verhit tot kook punt. Voeg nou 7ml sout, knoffel, gemmer, asook die uie by en kook vir 1 minuut. Voeg nou die suiker by en kook vir nog 6 minute. 

4. Skep die warm sous oor die gaar vis wat jy in ‘n glasbakkie hou, laat dit goed afkoel voordat jy dit in die yskas stoor. Plastiek houers is nie geskik want die borrie gaan dit verkleur en die geure word ook deur die plastiek geabsorbeer. Moet ook nie in metaal stoor nie want daar kan ‘n chemiese reaksie plaasvind en die vis sal grys word. Dus hou by glas verkieslik as houer vir stoor.


English Version


Recipe
2 tbsp Masala (please see the blog for the Achaar Masala recipe)
2 tsp Turmeric
Cake flour, enough to roll fish in
Oil, for frying
500 g Hake fillets - cut into 3 cm cubes
4 Onions, peeled and sliced
​​250 ml Water
250 ml White wine vinegar
5 Bay leaves
5 ml Black pepper corns
2 Garlic cloves, crushed
5 ml Ginger, grated (optional)
5 ml Coriander seeds, seared
125 ml White sugar (100g)
10 ml Salt

Method:
1 . Mix the salt, turmeric and masala together. Sprinkle over the fish and roll the fish in the flour. I have found that a mixture of equal parts flour and maizena also makes a nice crunchy crust. But the choice is yours.

2. Fry the fish immediately as you take it out of the flour in shallow fat until it is cooked on both sides. About 3 minutes on each side.

3. Place the water, vinegar, pepper corns, bay leaves, coriander, turmeric and masala in a saucepan and bring to the boil.
Now add 7 ml salt, garlic, ginger and onions and cook for 1 minute. Add the sugar and cook for 6 minutes. 

4. Spoon the hot sauce over the cooked fish that you keep in a glass bowl, let it cool thoroughly before you store it in the refrigerator.
Plastic containers are not suitable because the turmeric will change the colour and the flavours are also absorbed by the plastic.
Do not store in metal because there could be a chemical reaction and the fish will be gray. So stick to a glass container for storage.

SOURCE: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za


QUANTITY: 6 Servings.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za
Hoeveelheid: 6 Porsies


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking