Woensdag, 24 Februarie 2016

Filo en Hoender Pastei met 'n Twist

Ek het groot geword met werfhoenders en die vleisies wat oorgebly het nadat die hele gesin weg gelê het was dan in hoenderpasteie verwerk. Deesdae as jy hoender in die winkel koop kan 4 mense skaars genoeg kry. Arme hoenders is seker op ‘n streng dieet!

Nee alle grappies op ‘n stokkie, ons moet regtig ons opsies oorweeg en werfhoenders wat vryrondloop en organies is probeer koop. Dit is nie regtig soveel duurder as die winkel hoenders nie. Hoekom, jy betaal wel meer omdat jy meer vleis per hoender kry. Ek is bevoorreg om in ‘n omgewing te woon waar ek sulke heerlike vet, plomp plaas hoenders koop. Die dye is so groot soos die binnerand van kleinbordjie! As kinders was ons nooit lief vir groente eet nie, en my moeder-lief het vir ons dan maar op haar slim manier ‘n alles-in-een dis bewimpel. 

Resep
4-6 Hoender borsies, vet en plomp, geen velle, gaar
1 Aftreksel blokkie
Op frommel van Filo velle, jy kan meer velle gebruik.
500ml Water
4 Wortels
250ml Ertjies
2 Aartappels, groot, geskil, in blokkies gesny
1 Ui, medium
30ml Dill tippies, gedroog
60g Botter of Bakmargarien
40g Koekmeel
500ml Melk
2ml Sout of na smaak
3 Filo velle
Ekstra gesmelte botter

Metode:
1. Kook die borsies wat jy kleiner gekap het in 500ml Water en 1 aftrekselblokkie tot gaar. Hou die aftreksel om die groente in sag te kook.

2. Kook die wortels, ertjies, aartappels in die res van die aftreksel gaar. Die groente moet nog ferm, maar nie pap wees nie. Indien jy tyd wil spaar of nou jou sout inname moet kyk kan die groente in ‘n sakkie gesit word en een teelepel water bygevoeg word. Draai die sakkie met die hand toe en vou die steeltjie onder die pakkie in en mikrogolf vir 8 minute tot die groente sag is. 

3. Meng die gaar hoender en groente saam asook die dill tippies. Proe vir sout en peper en pas aan na gelang van smaak. Los eenkant.

4. Maak die witsous soos volg. Verhit die melk tot lou warm in die mikrogolfoond sodat die witsous vinniger verdik. Onthou die melk moenie kook nie. Smelt nou die botter in ‘n kastrolletjie en voeg die koekmeel by. Roer goed deur en laat vir 1 minuut op die plaat kook. Voeg nou die melk by en met ‘n ballon of draad klitser klits die mengsel om klonte te voorkom totdat dit verdik. Dit sal ongeveer 3 minute neem om te verdik.

5. Meng die witsous met die hoender mengsel in ‘n mooi bak. Plaas eenkant.

6. Smeer die filo velle met gesmelte botter aan die voorkante. Frommel dit op en plaas op die pastei.Trek die lagies mooi soos ‘n deurmekaar kombersie oor die vulsel. Bak die gereg vir 15minute by 170℃ totdat die filo lekker bruin is. Onthou die vulsel is reeds gaar. Dus is dit net opwarm van gereg en verbruining van degie. 

7. Bedien warm.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za
Hoeveelheid: 6-8 mense

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking