Woensdag, 24 Februarie 2016

Carolie de Koster, my Kos-ikoon!

Ek was groen, ja groen soos gras, toe ek ‘n pos aanvaar het as junior dosent by die destydse Technikon van Pretoria. Soos die Engelsman sou sê...many moons ago! Daar het ek ongelooflike blootstelling gekry en groot name in die kos industrie ontmoet, nee, nie die groot name wat op die TV gepryk of gepronk het nie, mense wat werklik as vakkundiges hul storie geken het, nederige mense. Hulle het in die Industrie groot skoene vol gestaan het en ‘n reputasie van sukses gehad het. So het ek daardie tyd ‘n dame met die naam Carolie de Koster ontmoet. Sy was toe seker dalk bietjie jonger as wat ek tans is.

Sy het regtig in menige opsig my beindruk. Sy was kwaai, sy was regverdig, sy het nie nonsens gevat nie, maar bowenal, haar passie vir haar werk het uit haar gestraal. Dit was aansteeklik en jy wou net meer en meer leer. Ek het gewens ek kon weer ‘n student wees. So het sy ook by verskei Rade van daardie tyd deeltyds gewerk en soms het ons paaie gekruis. Ons paaie het wel geskei toe ek van instansie verander het om ‘n beter pos te kon kry en verder te kon studeer. Ek was absoluut verslaaf aan my vakrigting en net verder en dieper gedelf in Voedsel en Voeding, die wetenskap en die tegnologie kant.

As ‘n ouer en meer ervare dosent het ek jare later van Carolie se resepte tee gekom in ‘n bundel vervat, wat vir die Tegniese Kolleges se opleidingsdoeleindes gebruik was. Ek het erge heimwee gehad aan haar kundigheid en energieke manier van werk. So raak ek swanger met my tweede kind en word toe verplig om vir 4 maande in die bed te bly met die waarskuwing dat ek my kind kan verloor. Ek het jare gesukkel om swanger te raak, dus was dit my eerste prioriteit...’n lewende baba in my arms. So, gee ek my sleutels oor aan ‘n aflos dosent en na die geboorte van my besige rooikoppie moes ek terug gaan om goedjies vir die nuwe jaar reg te kry. Kom by my boekrak (wat altyd toe gesluit was), en die deure hang oop. Nie ‘n boek in sig!

My hart was aan flarde. Die boeke wat ek oor jare by mekaar gemaak het, weg. Alles wat hulpmiddels was vir die studente, soos mis voor die son. Ek was woedend. Ek het toe al 5 jaar vir die betrokke instansie gewerk en help skryf aan sommige Unit standards vir die Theta . Al my werk weg. Ons het daardie dae nog nie sulke luukses soos elke een met ‘n eie rekenaar by die werk gehad nie, dus het ek tuis of op papier gewerk. Wel, die versameling van al Carolie se werk weg. Die boeke wat sy vir my geteken het...weg! Ek was ontroosbaar. Die HOD van daardie tyd wou my goed vervang met geld, ek was ontroosbaar vir maande. Nee, dat mense geen respek het vir ander se goed.

So het die jare verby gegaan en eendag op ‘n reëndag, nie lang gelede, kry ek ‘n boodskappie van Carolie de Koster op Faceboek. Ek kon dit nie glo nie. Ek kontak haar weer en maak seker dat dit sy is. Ek kon nie glo, na al die jare het die skim verskyn! Ons het heerlik gesêls. Sy onthou my vaagweg, sy kon die omstandighede waar ek as junior gewerk het so goed onthou. Wys jou, mens moet nooit mense afskryf of van vergeet nie. As vakkundige dink ek het Suid Afrika ‘n juweel verloor aan Nieu Zeeland. Carolie de Koster woeker natuurlik weer eenstryk deur met haar kook klasse en dinge daardie kant. En my grootste wens is dat ons twee weer eendag saam kan sit, mekaar se hande vat en saam kan kook. 

As ek net dink aan die waarde van die opleiding wat ek destyds ontvang het. Die raad wat sy mildelik uitgedeel het tov die besoeke en ekstra ure by al die Rade. Dan het ek die regte belegging in my opleiding gemaak. Ek het elke vakansie by ‘n Raad gaan werk. Die Vleisraad het my leer blokman wees en die fynere kunsies van vleis bewerking geleer, by die Mielieraad het ek die waarde en verwerking van mielies bemeester, die Suiwelraad het my geleer kaasmaak en ek het hier ook vir amper ‘n jaar deeltyds gewerk om gratis te kon leer. Ek het soveel gratis goed gaan leer as wat ek kon, en ja, dit was lang harde ure sonder betaling. Soms was jy regtig bitter sleg behandel, maar dan het die hardnekkigheid sy kop uitgesteek en ek het vasgebyt.

Hoekom vertel ek die storie? Wel mens se paaie kruis met mense elke dag, dink aan hoe jy hulle behandel en dink aan hoe hulle jou gaan onthou! Op ‘n keer het ek vir so 6 jaar lank by ‘n instansie klas gegee en een van die dosente, baie senior, Yvonne Murray, het per geleenteid vir die Aartappel raad gewerk. Sy het my dadelik herken, so het ons ook gesêls oor my opleiding en toe ek haar vra oor Carolie de Koster het sy net ‘n masiewe glimlag gekry. Ja, Carolie het ook haar lewe op ‘n keer aangeraak. So, die paaie wat ons loop moet reguit wees, geen kinkels, reguit!

Mag jou werk oral blom Carolie de Koster! Vir my is jy ‘n Suid Afrikaanse kos ikoon soos min. Jou vakkundige kennis is onuitputlik! Tonne blessings vir jou! Jy het nooit geval vir "Glitz en Glamour".

Die volgende gediggie laat my baie aan haar en mense wat my lewe verryk dink!

Your Smile is you Logo,
Your Personality is your Buisiness card,
How you leave others feeling
after having an experience with you....
becomes your Trademark!

Foto krediet: Ingy Palmer, Hartbeespoort, 2016

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking