Maandag, 29 Februarie 2016

2-in-1 Pizza reseppie vir Glutenvry asook met gluten

Kekerertjie, Chickpea meel pizzabasis
Jare gelede het ek aan ‘n paar resepte vir ‘n bekende Meel maatskappy gewerk. Een van die ster resepte wat ek ontwikkel het was die Vinnige pizza kors deeg. Dit is binne paar minute gereed. Ons het so baie pizza tuis gemaak dat ek in die gewoonte gekom het om die meel vooraf af te weeg met al die ander droeë bestanddele by,  olie by te meng en dan te vries. Dan het ek net nodig gehad om die vloeistof by te sit en siedaar die deeg is gereed. 

Ek het toe ook aan 'n tweede reseppie gewerk vir gluten allergië en het toe met kekerertjie meel 'n korsie gemaak. Dus het ek vir julle twee kors reseppies op hierdie resep ingewerk om van te kies. 

Die sousie is ook ‘n heerlike reseppie en kan in groter volumes gemaak en in die yskas gestoor word. Wat ek van Pizza hou is die feit dat dit die hele gesin kan betrek. Hoeveel van ons mamma’s het nie al gesukkel met kinders en mans wat nie wil groente eet nie? Wel, ek het my mense al so gekondisioneer dat hulle ten minste drie groente moet opsit en dan kan hulle maar laat waai met die kaas en vleisies. Elkeen maak sy eie kos, en dit is ‘n hele kuier aksie. Die maats smeek my altyd as hulle kom kuier of hulle nie al dieselfde middag kan pizza maak nie. Nou, hoe kan hierdie tannie nee sê?

Kors met Gluten
500g Koekmeel of broodmeel
2t Bakpoeier
¼ t Koeksoda
5ml Sout
15ml Olie
150ml Water
125ml Melk

Metode:
1. Sif die koekmeel, bakpoeier, koeksoda en sout saam. 

2. Moeg die water en melk by en meng die deeg goed totdat al die meel ingewerk is. Knie liggies vir ‘n minuut. 

3. Laat eenkant om te rus terwyl jy die sousie maak.


OF


Gluten vrye pizza kors
280g Kekerertjie meel (Chickpea flour)
1t Sout
½ t Knoffel poeier
10ml Origanum
50ml Olie, olyf verkieslik
330g Water (makliker om te weeg)

Metode:
1. Meng al die droeë bestanddele saam en voeg die olie en water by die meel. Knie liggies om ‘n deeg te vorm en laat 30 minute rus voordat dit gerol of ingedruk word.

2. Skep tamatiebasis op en sit vulsel op.

3. Plaas vulsel en kaas op.

4. Bak by 220℃ vir 30 minute.


Tamatie basis
390g tamaties, blansjeer of blikkie
1 Ui, medium in ringe of blokkies
1 Knoffel toontjie, fyn gedruk
25ml Olie
5ml Oringanum
10ml Sagte bruinsuiker
25ml Tamatiesous
5ml Tamatie puree
Sout en peper na smaak

Metode:
1. Hier kan jy kul indien verkies om dan tamaties in ‘n blikkie te koop. Maar vir my met tuine vol tamaties blansjeer ek dit, verwyder skil en kap medium grof op.

2. Braai die uie in olie tot glansend en deurskynend. Voeg die tamaties en knoffel by en prut vir 10 minute tot lekker dik.

3. Voeg die res van die bestanddele by en kook vir ‘n verdere 3 minute om geur te ontwikkel.

4. Laat effens afkoel terwyl jy die vulsel bestanddele voorberei.

Vulsel vir pizza
Jou keuse! 
Rond af met 250ml gerasperde Cheddar kaas of Mozzarella kaas.
Sout en peper na smaak

Metode:
1. Jy kan die pizza deeg uit rol of indruk in die panne.

2. Smeer dan die deeg met die Tamatie sous en pak dan die vulsel bestanddele van jou keuse op. 

3. Bak die pizza in ‘n voorverhitte oond teen 220℃ vir 30 minute

Bron: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za, 2016-02-29
Hoeveelheid: 4 persone

Vrydag, 26 Februarie 2016

Ons Doppie deeg

Ek het lank gesit voor ek die resep kon oortik. Ek het gevoel dat as ek dit oortik, ‘n stukkie van my hart weg gegee word. Hoekom? Want op die oorspronklike reseppie, in my mammie se handskrif staan daar “Ons Doppie deeg”, die Sonskyn susters se resep. My ma en haar sussie was onafskeidbaar. Beide sonskyn susters is tans saam in ‘n Ewige plekkie, waar ek dink die twee seker die Hemelpoorte ophelder met hulle manewales en sonskyn. Ek onthou nog die dag toe my mammie die reseppie vir my gegee het. Ek het 'n dol dag by die werk gehad en nog 'n siek kind op die koop toe. Ek bel haar die middag toe ek uit Pretoria ry om vir my die reseppie neer te skryf en saam in boetie se doeke sak te sit as ek hom oplaai op die plaas. 16 jaar gelede was daar nie iets soos slimfone of fone wat foto's kon neem nie.

Vandat ek kan onthou is hierdie reseppie deel van ons familie. My ma het so baie gebak vir kerkbazaars, feeste, tuisnywerhede en almal wat wou hê. Ons het elkeen ‘n mengsel moes aanmaak en dan rol en bak. Die deeg is baie veelsydig in die sin dat dit dun of dik gerol kan word. Dit kan vir klein doppies en ook groot tert doppe gebruik word. Laat net die suiker uit en jy het ‘n heerlike sout tert broskors. Die wonder van alles is die doppies kan nadat dit gebak is vir  6 maande gevries word. Haal uit en vul soos nodig. Die doppies word ook nie so gou pap nie. Hoop julle gaan hierdie juweeltjie bewaar vir generasies wat kom.
Oorspronklike resep
Resep
400g Koekmeel
40g Suiker
10ml Bakpoeier
2ml Sout
250g Rama of Stork bake (rasper die gevriesde blok netso om die verwerking makliker te maak)
2 Eiers, groot, geklits

Variasie: Sjokolade doppie, verwyder 40g Koekmeel en voeg 20g Kakao by die droeë bestanddele.

Metode:
1. Sif die koekmeel, suiker, bakpoeier en sout saam. 

2. Nou kan jy een van twee tegnieke gebruik om die margarien in die meel in te kry. Rasper die gevriesde botter en plaas dan in voedsel verwerker en draai totdat die mengsel soos broodkrummels lyk. Of as jy nie ‘n voedsel verwerker het nie kan jy met die vinger punte die margarien in die meel in vryf totdat dit soos broodkrummels lyk. Die feit dat die margarien gerasper word maak die invryf baie makliker en vinniger.

3. Indien die voedsel verwerker gebruik word, voeg die twee eiers by en draai totdat die mengsel een word, ongeveer ‘n minuut of twee. As jy met die hand werk druk die deeg net aan mekaar sodra die eier by gevoeg word.

4. Ek druk die deeg plat in ‘n vries sakkie en rol effens plat binne in die sakkie sodat dit ‘n egalige dikte is. Plaas dit dan in die yskas vir 60 minute en verwerk na gelang.

5. Die dikte wat die deeg uitgerol word is jou keuse of wat die resep ook al voor vra. Vir doppies kan jy besluit of dit dik of dun moet wees. Moenie vir die klein doppies dunner as 3mm rol en nie dikker as 5mm. Onthou die baktyd vir die klein doppies is 8-10 minute of totdat dit bruin is. Vir die groter doppe moet dit eers blind gebak word vir 5 minute, die bone verwyder en dan verder klaar gebak word vir 10-15 minute. Ek prik alle doppies en doppe se basisse. 

6. Maak ook seker wanneer jy die doppies uit druk en in die holtes van die pannetjie sit dat jy die drukkertjie wat die degie in die holte indruk, eers in meel sit om te keer dat dit aan mekaar vas sit. 

7. Bak dan by 200℃ vir die tyd aangedui.

Bron: Hantie Bezuidenhout en Ina Venter Lombard, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za
Hoeveelheid: 3-4 dosyn doppies of 2-3 groot doppe

Donderdag, 25 Februarie 2016

Sjokolade Fudge tert

As jy nou die dag behoorlik soet wil wees en nie die skaal dophou, is dit die een nagereg of tert wat jy as dekandent en voorteflik kan beskou. Die basis word met tennisbeskuitjies gemaak en die res is amper geskiedenis. Bedien met ‘n skeppie room wat met rum geursel of room likeur gegeur is en jy maak die tert iets onvergeetlik.

Resep
Kors
200g Tennis beskuitjies, fyn gemaak
50g Botter, gesmelt

Metode:
1. Meng die bestanddele met mekaar en druk in ‘n tertbak met ‘n deursnit van ongeveer 23cm. Laat staan eenkant.

Vulsel
150g Sjokolade, fyn gekap
180g Botter, kamer temperatuur in blokkies
350g Sagte bruinsuiker (treacle sugar)
100g Koekmeel
5ml Vanielje geursel
6 Eiers, geklits

Metode:

1. Smelt die sjokolade en botter in ‘n dubbelkoker. Onthou as jy ‘n dubbelkoker gebruik om seker te maak die water kook by lae hitte, nie ‘n woeste geborrel nie. Die water moet ook nie die bodem van die dubbelkoker raak nie, ek verkies om alles in ‘n glasbak te doen wat ‘n stadige geleier van hitte is. Sodra die mengsel gesmelt en ‘n egalige konsistensie bereik het, laat die bak eenkant staan terwyl jy die res van die bestanddele voorberei.

2. Klits die suiker, koekmeel, vanielje en eiers in ‘n aparte bak, sodat dit ‘n egalige mengsel kan word vir ongeveer 5 minute.

3. Meng nou die sjokolade mengsel by die eiermengsel en werk goed deur met ‘n ballon klitser.

4. Skep die mengsel in die koekie basis en bak vir 50 minute by 180℃ of totdat die vulsel goed gestol het. Laat die tert baie goed afkoel en bedien met gesprinkelde kakao en dan ‘n lagie versiersuiker oor die tert. Skep dan ‘n hopie gegeurde room op elke skyfie wat jy bedien of my lekker Sjokoladesous op die blog wat jy in die yskas hou vir nood!

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za

Bees en Niertjie pastei

Hierdie pastei het ek deur die jare aangepas en gemaak soos ek daarvan hou. Ons het die vars niertjies dieselfde dag wat ons skaap geslag het verwerk en dan pasteie gemaak wat vrieskas toe moes gaan. Ai, my ma was een flukse vrou! Neutmuskaat het onlosmaaklik deel van die pasteivulsel geword. Dit was in die ou dae baie werk gewees om dit te maak omdat die niertjies deeglik skoon gemaak moes word. Deesdae is mens baie gelukkig om die reeds skoon gemaakte niertjies te koop. Kom lees saam hoe om niertjies skoon te maak, smake te onttrek en dit versigtig gaar te maak dat dit nie soos rubber opeindig nie.

Resep
350g Bees of Skaap niertjies, vark niertjies is baie skerp in smaak, wees versigtig
250ml Karringmelk of gewone yoghurt (onttrek skerp smake en maak sag)
500g Beesvleis repies
50ml Olyfolie
1 Ui, medium, grof gekap
15ml Knoffel, fyn gedruk
30ml Koekmeel
1 Blokkie Beesaftreksel
350ml Water
Sout en peper na smaak
2ml Neutmuskaat
500g Blaardeeg
1 Eier, geklits

Metode:
1. Maak die niertjie baie goed skoon deur dit los van mekaar te sny en die vliesies en aartjies te verwyder. Sny in die lengte deur om ‘n helfte te kry en kyk vir die vetterige deel binne in, dit moet verwyder word. Gebruik ‘n klein skerp punt skêrtjie en knip dit uit. Week daarna die niertjies in karringmelk, net genoeg om die niertjies te bedek. Laat dit vir 1 uur staan. Spoel dan die niertjies deeglik af voordit gebruik word. Onthou ook as jy die niertjies te lank gaar maak gaan dit oormatig taai word en soos rubber wees. Maar moenie nou kommer nie, dit is later se storie.

2. Voeg die olyfolie oor die beesvleis repies en braai repies oor baie warm hitte om die vleis sappe te seel. Doen dit klein hoeveelhede op ‘n keer om nie sappe te laat uitloop nie. Braai dan die uie in dieselfde pan en jy kan ekstra olie bysit indien verkies. 

3. Voeg nou die aftrekselblokkie en water by en kook die vleis totdat dit murgsag is. Net voordat die vleis van die hitte verwyder word, meng die koekmeel, neutmuskaat, knoffel met bietjie water en gooi by. Roer om klonte te voorkom totdat stysel verdik het. Geur met sout en peper na smaak.

4. Braai die niertjies in ‘n warm pan met bietjie olie, skroei dit net, dit moenie gaar wees nie. Die niertjies moet reg rondom bruin wees. Meng met die vleis en skep in pasteibak.

5. Rol die blaardeeg uit en druk vas op die pastei, sny patroontjies en verf met eier. Sny gaatjie in die middel vir stoom om te ontsnap.

6. Bak in voorverhitte oond by 190℃ vir 30-40 minute tot goudbruin.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za
Hoeveelheid: 4 porsies

Woensdag, 24 Februarie 2016

Carolie de Koster, my Kos-ikoon!

Ek was groen, ja groen soos gras, toe ek ‘n pos aanvaar het as junior dosent by die destydse Technikon van Pretoria. Soos die Engelsman sou sê...many moons ago! Daar het ek ongelooflike blootstelling gekry en groot name in die kos industrie ontmoet, nee, nie die groot name wat op die TV gepryk of gepronk het nie, mense wat werklik as vakkundiges hul storie geken het, nederige mense. Hulle het in die Industrie groot skoene vol gestaan het en ‘n reputasie van sukses gehad het. So het ek daardie tyd ‘n dame met die naam Carolie de Koster ontmoet. Sy was toe seker dalk bietjie jonger as wat ek tans is.

Sy het regtig in menige opsig my beindruk. Sy was kwaai, sy was regverdig, sy het nie nonsens gevat nie, maar bowenal, haar passie vir haar werk het uit haar gestraal. Dit was aansteeklik en jy wou net meer en meer leer. Ek het gewens ek kon weer ‘n student wees. So het sy ook by verskei Rade van daardie tyd deeltyds gewerk en soms het ons paaie gekruis. Ons paaie het wel geskei toe ek van instansie verander het om ‘n beter pos te kon kry en verder te kon studeer. Ek was absoluut verslaaf aan my vakrigting en net verder en dieper gedelf in Voedsel en Voeding, die wetenskap en die tegnologie kant.

As ‘n ouer en meer ervare dosent het ek jare later van Carolie se resepte tee gekom in ‘n bundel vervat, wat vir die Tegniese Kolleges se opleidingsdoeleindes gebruik was. Ek het erge heimwee gehad aan haar kundigheid en energieke manier van werk. So raak ek swanger met my tweede kind en word toe verplig om vir 4 maande in die bed te bly met die waarskuwing dat ek my kind kan verloor. Ek het jare gesukkel om swanger te raak, dus was dit my eerste prioriteit...’n lewende baba in my arms. So, gee ek my sleutels oor aan ‘n aflos dosent en na die geboorte van my besige rooikoppie moes ek terug gaan om goedjies vir die nuwe jaar reg te kry. Kom by my boekrak (wat altyd toe gesluit was), en die deure hang oop. Nie ‘n boek in sig!

My hart was aan flarde. Die boeke wat ek oor jare by mekaar gemaak het, weg. Alles wat hulpmiddels was vir die studente, soos mis voor die son. Ek was woedend. Ek het toe al 5 jaar vir die betrokke instansie gewerk en help skryf aan sommige Unit standards vir die Theta . Al my werk weg. Ons het daardie dae nog nie sulke luukses soos elke een met ‘n eie rekenaar by die werk gehad nie, dus het ek tuis of op papier gewerk. Wel, die versameling van al Carolie se werk weg. Die boeke wat sy vir my geteken het...weg! Ek was ontroosbaar. Die HOD van daardie tyd wou my goed vervang met geld, ek was ontroosbaar vir maande. Nee, dat mense geen respek het vir ander se goed.

So het die jare verby gegaan en eendag op ‘n reëndag, nie lang gelede, kry ek ‘n boodskappie van Carolie de Koster op Faceboek. Ek kon dit nie glo nie. Ek kontak haar weer en maak seker dat dit sy is. Ek kon nie glo, na al die jare het die skim verskyn! Ons het heerlik gesêls. Sy onthou my vaagweg, sy kon die omstandighede waar ek as junior gewerk het so goed onthou. Wys jou, mens moet nooit mense afskryf of van vergeet nie. As vakkundige dink ek het Suid Afrika ‘n juweel verloor aan Nieu Zeeland. Carolie de Koster woeker natuurlik weer eenstryk deur met haar kook klasse en dinge daardie kant. En my grootste wens is dat ons twee weer eendag saam kan sit, mekaar se hande vat en saam kan kook. 

As ek net dink aan die waarde van die opleiding wat ek destyds ontvang het. Die raad wat sy mildelik uitgedeel het tov die besoeke en ekstra ure by al die Rade. Dan het ek die regte belegging in my opleiding gemaak. Ek het elke vakansie by ‘n Raad gaan werk. Die Vleisraad het my leer blokman wees en die fynere kunsies van vleis bewerking geleer, by die Mielieraad het ek die waarde en verwerking van mielies bemeester, die Suiwelraad het my geleer kaasmaak en ek het hier ook vir amper ‘n jaar deeltyds gewerk om gratis te kon leer. Ek het soveel gratis goed gaan leer as wat ek kon, en ja, dit was lang harde ure sonder betaling. Soms was jy regtig bitter sleg behandel, maar dan het die hardnekkigheid sy kop uitgesteek en ek het vasgebyt.

Hoekom vertel ek die storie? Wel mens se paaie kruis met mense elke dag, dink aan hoe jy hulle behandel en dink aan hoe hulle jou gaan onthou! Op ‘n keer het ek vir so 6 jaar lank by ‘n instansie klas gegee en een van die dosente, baie senior, Yvonne Murray, het per geleenteid vir die Aartappel raad gewerk. Sy het my dadelik herken, so het ons ook gesêls oor my opleiding en toe ek haar vra oor Carolie de Koster het sy net ‘n masiewe glimlag gekry. Ja, Carolie het ook haar lewe op ‘n keer aangeraak. So, die paaie wat ons loop moet reguit wees, geen kinkels, reguit!

Mag jou werk oral blom Carolie de Koster! Vir my is jy ‘n Suid Afrikaanse kos ikoon soos min. Jou vakkundige kennis is onuitputlik! Tonne blessings vir jou! Jy het nooit geval vir "Glitz en Glamour".

Die volgende gediggie laat my baie aan haar en mense wat my lewe verryk dink!

Your Smile is you Logo,
Your Personality is your Buisiness card,
How you leave others feeling
after having an experience with you....
becomes your Trademark!

Foto krediet: Ingy Palmer, Hartbeespoort, 2016

Filo en Hoender Pastei met 'n Twist

Ek het groot geword met werfhoenders en die vleisies wat oorgebly het nadat die hele gesin weg gelê het was dan in hoenderpasteie verwerk. Deesdae as jy hoender in die winkel koop kan 4 mense skaars genoeg kry. Arme hoenders is seker op ‘n streng dieet!

Nee alle grappies op ‘n stokkie, ons moet regtig ons opsies oorweeg en werfhoenders wat vryrondloop en organies is probeer koop. Dit is nie regtig soveel duurder as die winkel hoenders nie. Hoekom, jy betaal wel meer omdat jy meer vleis per hoender kry. Ek is bevoorreg om in ‘n omgewing te woon waar ek sulke heerlike vet, plomp plaas hoenders koop. Die dye is so groot soos die binnerand van kleinbordjie! As kinders was ons nooit lief vir groente eet nie, en my moeder-lief het vir ons dan maar op haar slim manier ‘n alles-in-een dis bewimpel. 

Resep
4-6 Hoender borsies, vet en plomp, geen velle, gaar
1 Aftreksel blokkie
Op frommel van Filo velle, jy kan meer velle gebruik.
500ml Water
4 Wortels
250ml Ertjies
2 Aartappels, groot, geskil, in blokkies gesny
1 Ui, medium
30ml Dill tippies, gedroog
60g Botter of Bakmargarien
40g Koekmeel
500ml Melk
2ml Sout of na smaak
3 Filo velle
Ekstra gesmelte botter

Metode:
1. Kook die borsies wat jy kleiner gekap het in 500ml Water en 1 aftrekselblokkie tot gaar. Hou die aftreksel om die groente in sag te kook.

2. Kook die wortels, ertjies, aartappels in die res van die aftreksel gaar. Die groente moet nog ferm, maar nie pap wees nie. Indien jy tyd wil spaar of nou jou sout inname moet kyk kan die groente in ‘n sakkie gesit word en een teelepel water bygevoeg word. Draai die sakkie met die hand toe en vou die steeltjie onder die pakkie in en mikrogolf vir 8 minute tot die groente sag is. 

3. Meng die gaar hoender en groente saam asook die dill tippies. Proe vir sout en peper en pas aan na gelang van smaak. Los eenkant.

4. Maak die witsous soos volg. Verhit die melk tot lou warm in die mikrogolfoond sodat die witsous vinniger verdik. Onthou die melk moenie kook nie. Smelt nou die botter in ‘n kastrolletjie en voeg die koekmeel by. Roer goed deur en laat vir 1 minuut op die plaat kook. Voeg nou die melk by en met ‘n ballon of draad klitser klits die mengsel om klonte te voorkom totdat dit verdik. Dit sal ongeveer 3 minute neem om te verdik.

5. Meng die witsous met die hoender mengsel in ‘n mooi bak. Plaas eenkant.

6. Smeer die filo velle met gesmelte botter aan die voorkante. Frommel dit op en plaas op die pastei.Trek die lagies mooi soos ‘n deurmekaar kombersie oor die vulsel. Bak die gereg vir 15minute by 170℃ totdat die filo lekker bruin is. Onthou die vulsel is reeds gaar. Dus is dit net opwarm van gereg en verbruining van degie. 

7. Bedien warm.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za
Hoeveelheid: 6-8 mense

Dinsdag, 23 Februarie 2016

Gepiekelde Kerrievis / Pickled Curry fish

My ma kon vir jou die heerlikste kerrievis maak. Ons het oor Paastyd dit geniet en veral as ons oppad was met vakansie. Ons het dan langs die pad gestop, ja, by daardie wit gekalkte bankies wat onder die wilger- en die popelierbome gestaan het. Daar het ons bene gerek en soms maar in die grassies die blasies leeg gemaak. Ons het heerlike sagte witbrood wat mammie self gemaak het saam met die kerrie vis geëet. Ek kon nooit genoeg kry van die kerrievis se sousie nie, ma het altyd ekstra gemaak vir my sodat ek my broodjie deur die sousie kan trek. Die uie in die kerrievis was krakerig amper bros, ek onthou hoe my ma gewaarsku het as ek haar help dat die uie nie te veel moet kook nie anders word dit pap. Ek het met my vinger daardie uie een vir een uitgekrap en ek en pa het altyd stry gekry oor my tafelmaniere!

Daar was ook die immer gewilde gekookte eiers met vulsel en koue hoender boudjies. Pa het vir ons van daardie glasbotteltjies coke net buite die dorp by die vulstasie gekoop. Ons het nooit sulke luukses soos Coke geken nie, daarom dat ma dit toegelaat het. Ja, die fles met koffie was daar, maar dit was vir pa om hom wakker te hou met die langpad. Ma het nie ‘n bestuurders liksens gehad nie, dus moes sy maar vir pa wakker hou. Ons drie dogtertjies was ook nie die stilste kinders nie. Ons laatlam sussie moes ongelukkig al ons bakleiery oorleef. Ja, dit was die goeie ou dae waar ons net kon kind wees en die vooruitsig van die een wat die see eerste sien, kry ‘n roomys. Maar pa was slim, hy het die see altyd eerste gesien om ‘n rusie te vermy. Ma het doodstil op haar plekkie met haar hekelwerkie gesit, ritmies het die naald heen en weer geflits soos sy gewikkel het. Ek kon vir ure kyk na hoe sy blits vinnig ietsie hekel. 

Resep
2e Masala (sien asb op die blog die Achaar Masala resep)
2t Borrie
Koekmeel, genoeg om vis in te rol.
Olie, vir vlakvet braai
500g Hake filette, in 3cm blokkies gesny
4 Uie, geskil en in ringe gesny
250ml Water
250ml Wit wyn asyn
5 Lourier blare
5ml Swart peper korrels
2 Knoffel toontjies, gekneus
5ml Gemmerwortel, gerasper (opsioneel)
5ml Koljander sade, geskroei
125ml Wit suiker (100g)
10ml Sout

Metode:
1. Meng die sout, borrie en masala saam. Sprinkel oor die vis en rol dan die vis in koekmeel. Ek het gevind dat ‘n mengsel van gelyke dele koekmeel en maizena ook ‘n lekker krakerige korsie maak. Maar die keuse is joune.

2. Braai dadelik die vis soos jy dit uit die meel haal in vlak vet totdat dit gaar is aan beide kante. Ongeveer 3 minute aan elke kant.

3. Plaas die water, asyn, peper korrels, lourierblare, koljander, borrie en masala in ‘n kastrol en verhit tot kook punt. Voeg nou 7ml sout, knoffel, gemmer, asook die uie by en kook vir 1 minuut. Voeg nou die suiker by en kook vir nog 6 minute. 

4. Skep die warm sous oor die gaar vis wat jy in ‘n glasbakkie hou, laat dit goed afkoel voordat jy dit in die yskas stoor. Plastiek houers is nie geskik want die borrie gaan dit verkleur en die geure word ook deur die plastiek geabsorbeer. Moet ook nie in metaal stoor nie want daar kan ‘n chemiese reaksie plaasvind en die vis sal grys word. Dus hou by glas verkieslik as houer vir stoor.


English Version


Recipe
2 tbsp Masala (please see the blog for the Achaar Masala recipe)
2 tsp Turmeric
Cake flour, enough to roll fish in
Oil, for frying
500 g Hake fillets - cut into 3 cm cubes
4 Onions, peeled and sliced
​​250 ml Water
250 ml White wine vinegar
5 Bay leaves
5 ml Black pepper corns
2 Garlic cloves, crushed
5 ml Ginger, grated (optional)
5 ml Coriander seeds, seared
125 ml White sugar (100g)
10 ml Salt

Method:
1 . Mix the salt, turmeric and masala together. Sprinkle over the fish and roll the fish in the flour. I have found that a mixture of equal parts flour and maizena also makes a nice crunchy crust. But the choice is yours.

2. Fry the fish immediately as you take it out of the flour in shallow fat until it is cooked on both sides. About 3 minutes on each side.

3. Place the water, vinegar, pepper corns, bay leaves, coriander, turmeric and masala in a saucepan and bring to the boil.
Now add 7 ml salt, garlic, ginger and onions and cook for 1 minute. Add the sugar and cook for 6 minutes. 

4. Spoon the hot sauce over the cooked fish that you keep in a glass bowl, let it cool thoroughly before you store it in the refrigerator.
Plastic containers are not suitable because the turmeric will change the colour and the flavours are also absorbed by the plastic.
Do not store in metal because there could be a chemical reaction and the fish will be gray. So stick to a glass container for storage.

SOURCE: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za


QUANTITY: 6 Servings.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za
Hoeveelheid: 6 Porsies


Maandag, 22 Februarie 2016

Kyknet se Groot Ontbyt en my oeps met die "Weed"!!

Die Groot Ontbyt ervaring was een van vele fasette en iets wat my nog lank sal by bly!

Kom ek begin by die begin. My vriendin ken die manne van die Groot FM span en het my nou al herhaaldelik gepor om my gesiggie op die kassie te wys. Na ‘n paar TV goedjies wat ek gedoen het in die verlede, het ek nie baie van dit gehou nie. Daarom dat ek sku is vir die tipe werk, want daar is geen vryheid om regtig jou resep ten toon te stel soos jy dit ken en weet dit werk. Dus in kort, my antwoord aan haar was heeltyd nee!

My vriendin het vasgebyt, my en Riaan aan mekaar voorgestel en so het ons begin kuier en hy het die konsep met my geklankbord, dat ek kan maak wat ek wil op die stel, gegewe ek klaar kry en sinvol te werk gaan. Paar weke gaan verby en ek het heeltemal vergeet van ons gesprek en korrespondensie. Maandag middag laat kry ek die oproep van Riaan, dat Chef Dino siek is en of ek die volgende dag kan instaan. Riaan rammel die rits van dinge wat gedoen moet word af soos segmente en goete se name wat ek nie ken nie. Ek sal vir Pieter bel as ek tuis is, wat in beheer van die program is, sodat ek mooi kan weet wat hy van my verwag. Gelukkig is ek nog in die dorp en ek haas na Jasmyn om my groente en goedjies vir die volgende dag se demo te kry. Goed, die dis kan een van twee goed word, ek sal dink as ek tuis kom watter een ek gaan doen. Kan nogsteeds nie glo soos ek koop en beplan, ek doen nou my eie ding op nasionale TV sonder enige editing nie, suiwer lewendige demo met oepse en alles.

Kom by die huis en loop voor die spieël verby en kyk na my voël verskrikker voorkoms. Ek was Desember laas by die haarkapper en sy het al paar keer laat weet ek moet kom! Dit is erg as jou haarkapper jou herinner jy is “long over due” vir 'n mens word sessie. My hare moet maar doen vir die volgende dag. Ek sal die hare net mooi kam dat die wortels se uitgroei nie wys nie, dit is nou net die deel van die grimering wat pla. Ek dra nie grimering nie! Riaan het gesê daar is iemand wat dit doen en ek moenie kommer, ek sal nie soos ‘n Indiaan met oorlogstrepe lyk nie. Ek besluit toe op die gereg en begin met die voorbereidings. Doen my volgorde van werk en beplanning, ek is tevrede met die tyd wat toegestaan word vir die demo, dat ek sal klaar kry. 

Dinsdag oggend, 04h00 piekel ek met my pakkerasie na die Groot FM ateljee in Pretoria. Ek het goed gery en bereik die plek teen 04h45. So kom ek by die deur en is gewoond daaraan dat mens die deur vorentoe druk om in te gaan. So met die pakkaas in die hande bly ek rem en druk teen die deur. Die knapie wat in Ontvangs sit, beduie soos ‘n mimiek kunstenaar wat ek moet doen. Nee, ek moet alles neersit en die deur na my kant toe oopswaai! Goed, ek het die deur oop. Druk die deur met die een boud oop sodat ek die res van die pakkies bymekaar kan skraap, want ek is lui vir twee keer loop. Ek mis gis my mos met die verdomde deur se meganiese arm en die deur gee my 'n lekker stewige klap van agter asof dit vir my wil sê "roer jou litte!". Daar gaan ek. Wag vir Riaan in ontvangs en ouder gewoonte kan jy hom natuurlik deur 'n ring trek. Netjies aangetrek, nie 'n kreukel in sy hemp en sy hare so netjies gedoen. Skoon, oop en vriendelike gesig. Hy is duidelik 'n man van orde en presissie, presies waarvan ek hou! Hy neem my na die kombuis waar alles vir my gewys word en die orientering was darm pynloos. Dus, hol die arme Riaan weer en laat my agter in die kombuis.

Stap in en begin dadelik al die goedjies vir die eerste segment gereed te kry. Ek bak solank die eerste broodjies wat reeds die vorige aand geknie is, sodat ek ‘n eindproduk kan wys. Die mense kom een na die ander groet en ek word die ropes geleer van die hoe en die wat. Ek hol gou na my kar om die olyf olie te kry, sukkel weer met die deur, want blondie het vergeet, dit is stoot en nie trek nie. Die outjie agter die ontvangs toonbank skud net sy kop vir die deurmekaar warrelwind wat elke keer verby woer. Met die terug kom slag is ek baie bewus van die klap van agter en voordat ek 'n klap kan kry, word ek gestop om gou hare en grimering te doen. Die dame wat my help is baie goed en het gou agter gekom...”Less is more” in my geval. Kom terug en ontmoet die Kamraman en die Klankman. Die kamera man en die klankman was vir my die heel beste! Ek het natuurlik weereens my naam met ‘n plank geslaan deur nie my woorde mooi te kies nie.

Die klankman is siekerig en drink klompie medisyne by my in die kombuis. Ek verduidelik vir hom die waarde van alternatiewe medikasie soos Echina Force met hoë dosisse Vit C as natuurlike antibiotika. Die kameraman wil toe nou mooi weet hoe die storie werk en ek verduidelik vir hom in Engels. Die klankman, kyk ons eers skeef aan, want hy hou nie van die alternatiewe storie nie. Die kameraman sê vir die klankman, hy moet luister die “lady with the Louis Vuitton" voorskoot, weet waarvan sy praat. Ek vertel hom die grappie van my swaer wat my mos die “bossie chef dokter” gedoop het. Hy kon nooit verstaan dat ek bossies "kruie" in my kos gebruik. Nou kom die konsternasie, want ek het die bossie-kruie ding in Afrikaans verduidelik en die kameraman is engels. Nou probeer ek dink aan wat is die engels vir bossies en die eerste woorde uit my mond is: “Weed!!!”. “Oh, cool!” Kom dit van die kameraman en hy smile te breed met ‘n vonkel in die oog. Ek besef wat hy dink en hoe meer ek probeer verduidelik dat dit nie dagga of maruanna is nie, hoe erger klink die storie en die manne byt my verleentheid uit! Nee, kyk, hulle het die heel tyd wat ons gewerk het, my siel versondig oor my “Weed”!

Toe raas ek met die klankman wat weer die mikrofoon se meganisme aan my broek se agternaat wou vasmaak, want die laaste keer (Via TV) het ek die mikrofoon gedoente amper in die toilet weg gespoel! Dus, moes ek maar my vetrolletjies ontbloot sodat die mikrofoon in my buustelyfie (haai kyk my mooi afrikaans!) kon vas kry. Ek is eerlik, dit is makliker om in die hospitaal te lê met ‘n drip aan, as om die draad gedoente baas te raak. Toe kom die oorfoontjie, nogal ‘n groot aanpassing gewees om met die een oor te luister na die aanbieder en met die ander oor na die groot baas wat instruksies gee oor goedjies wat ek dalk mis. En ja, jy moet mooi luister en nie die stem in jou oor hardop antwoord terwyl jy lewendig werk nie. Dus was dit kop hou soos nog nooit van te vore!

Danksy die "Dagga" episode wat die ysgebreek het, was ons almal op dieselfde golflengte ingeskakel en het sommer lekker as 'n span saam gewerk! Ek sal seker tot in lengte van dae as die “Weed” vrou met haar Louis Vuitton voorskoot onthou word!

Groete Annelien!

Saterdag, 20 Februarie 2016

Melk brood / Milk bread

Ek het as student hierdie broodjie by die Vasity Bakery in Lynwoodweg gekoop. As student het ek sleg geëet weens ‘n uiters vol en besige kursus. In die aand as ek in my tjorretjie geklim het, het ek daar gestop en van die Soet Melkbroodjies gekoop. Die man wat dit gebak het was ‘n genie! Hy het spek met Maple stroop en soms heuning bedruip en in die oond gaar gemaak. Daarna het hy die repies in die broodjie toe gevou en dan gebak. Sodra die rolletjies uit die oond gekom het, het hy weer van die stroop oor die broodjie gesmeer. Genade, net om hier te sit en tik, laat die spoeg belle borrel! Dan het ek ‘n “pint” melk gekoop en onder ‘n Jakaranda boom gestop en alleen piekniek gehou. Ja, dit was die lekker goeie ou dae!

Deesdae gebruik ek dit in die plek van Soetmos beskuit en maak heerlike kaneelrolletjies en beskuit. Dus kan die deeg gedroog word vir die doel van beskuit. Verder sny ek dit in skywe en geniet dit soos gewone brood. By nadere ondersoek het ek gevind dat hierdie broodjie met die soet verrykte deeg en 'n gerookte vleis vulsel afkomstig is van die Chinese broodkuns.

Resep
1kg Koekmeel of Witbroodmeel
1 Kitsgis, pakkie van 10g
500ml Melk
140g botter
100g Suiker
2 Eiers
4e Heuning
1t Sout

Metode:
1. Sif die koekmeel, gis en sout saam.

2. Verhit die melk, botter, heuning en suiker saam totdat die botter gesmelt is en laat afkoel tot lou warm. 

3. Voeg die melk en geklitste eier by die koekmeel en knie totdat dit glad en elasties is.

4. Laat die deeg vir 45min rus of totdat dit verdubbel het in volume.

5. Weeg 150g bolletjies af en sit eenkant onder ‘n doek sodat dit nie uitdroog nie. 

6. Maak solank spek repies gaar of heerlike spek worsies en laat afkoel.

7. Rol elke bolletjie ongeveer 3cm dik uit en rol dan op met ‘n stukkie spek in die middel. Die spek kan nog langs die kante uithang...dit lyk te mooi!

8. Laat weer rys vir 30 minute en bak dan by 200℃ vir 25-30minute. 

9. Maak ‘n mengsel wat in die mikrogolf gesmelt word aan vir die glanslagie van die broodjies as dit klaar gebak het soos volg: 50ml Heuning, 50ml Witsuiker en 50ml water

10. Sodra die broodjies uit die oond kom smeer die stroop oor die broodjie en laat afkoel. 

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za
Hoeveelheid: Ongeveer 12
English Version
Recipe
1 kg Cake flour or white bread flour
1 Yeast pack of 10 g
500 ml Milk
140 g Butter
100 g Sugar
2 Eggs
4 t Honey
1 t Salt

Method:
1. Sift the flour, yeast and salt.

2. Heat the milk, butter, honey and sugar together until butter is melted and let cool to lukewarm. 

3. Add the milk mixture to the flour and knead until smooth and elastic.

4. Let the dough rest for 45 minutes or until doubled in volume.

5. Weigh balls of 150 g off and set aside under a cloth to prevent drying out. 

6. Fry long strips of bacon or delicious bacon sausages and cool.

7. Roll each ball  to a thickness of 3 cm and roll up with a slice of bacon in the middle. The bacon can still hang on the sides ... it looks pretty!

8. Allow to proof for 30 minutes, then bake at 200 ℃ for 25 - 30minute. 

9. Make a mixture which is melted in the microwave for the glaze of the bread when it is finished baking: 50 ml honey, 50 ml white sugar and 50 ml water

10. When the bread comes out the oven paint the syrup over the bread and let it cool. 

SOURCE: Annelien Pienaar, 2016 www.bosenbergguestfarm.co.za


QUANTITY: About 12.

Vrydag, 19 Februarie 2016

Lui-Huisvrou Spek ek Eiers / Lazy day Bacon and Eggs

Alles-in-een ontbyte is my idee van vinnige en maklike kos! Met die gastehuis saam kry mens soms nuwe idees vir ontbyte nodig. Ja, mens se kombuispersoneel daag nie op of soms nog effens aangeklam na die vrydag- en saterdag aand se gefuif. Dan gebeur ontbyte soos hierdie in 'n kits, as mens volbespreek is en dit is 'n klompie manne wat lus het vir borde vol proteine. Ek is baie gelukkig om in 'n area te woon waar ons eiers teen baie goeie pryse kry asook eiers met 'n gewig van 130g plus. Dus is die ontyte geskik vir 'n koning!

Ek bedien vars gebakte plaasbrood saam met die ontbyt, tuisgemaakte konfyte en vars botter wat vroeg oggend gemaak is. Heerlike geblikte moer, met 'n houertjie kondensmelk eenkant vir diegene met 'n erge soettand! Geniet hierdie een! Wonder wat die banters sal sê van hierdie boere brekkie?

Variasie: Ek vervang die spinasie en sit gebraaide uie en sampioene by of meng sommer die twee met mekaar. Voeg so 'n knippie gerookte paprika by die sampioene vir 'n heerlike subtiele en rokerige smaak wat goed werk met die spek. Verder maak ek ook 'n tamatie en maalvleis smoor wat saam met die spek in sy eie hoekie kan ingaan. Dus, speel met die idees, niks kan flop nie.

Resep
2 Eiers
4 Repies spek, klaar gaar, gekap of heel
60ml Broodkrummels, droog (kan vervang word met suiwer parmasaan kaas of amandel meel van dieselfde volume vir die Banting dieet) 
10ml Origanum, gedroog
15ml Parmasaan kaas, gerasper
Sout en Peper na smaak

Metode:
1. Spuit die rammekin of vuurvaste bakkie waarin jy die ontbyt gaan bedien uit met kleef werende kos sproei of vee uit met klapper olie. Voor verhit die oond na 200 grade C.

2. Breek die eiers versigtig in die bakkies en plaas die groente en die spek in hopies waar jy dit gespasieer wil hê. Jy sal sien dat die spek en die groente nie mooi in die eierwit wil gaan nie, maar skuif dit effens rond en dit sal wel op die bodem gaan sit.

3. Sprinkel dan die mengsel van broodkrummels, parmasaan en origanum oor die eierwit gedeeltes. 

4. Sprinkel nou sout en peper oor die dis na smaak en bak in die oond op 'n bakplaat. Bereken die baktyd vir die eiers se gaarheid soos volg: 5-7 min vir sagte geel wat nog loperig is, 7-10 minute vir effens sagte tot harde eiergeel.

5. Bedien dadelik met tuisgebakte brood en konfyte. 

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za
Hoeveelheid: 1 porsie




Klapper melktert

Rina Smit het hierdie resep vir my gestuur om te toets en voorwaar die lekkerste twist ooit op ‘n melktert. Baie dankie Rina vir die deel van die resep.

Resep
Kors
125g Botter of Margarien, sag by kamertemperatuur
100g Wit suiker
100g Klapper, fyn
60g Koekmeel
100g Tennis beskuitjies, fyn gemaak

Metode:
1. Room die margarien en suiker saam. Voeg die klapper, koekmeel en beskuitjies by en druk in ‘n gesmeerde tert bak van ongeveer23cmx32cmx5cm.

Vulsel
4 Eiers, groot
25g Koekmeel
25g Maizena
Knippie sout
1,125ml Melk
25g Margarien of Botter
200g Suiker

Metode:
1. Klits die eiers saam en voeg die koekmeel, maizena en sout saam.

2. Verhit die melk met die margarien en suiker saam. Voeg die eiermengsel by die kokende melk en hou aan met klits sodat die mengsel nie onder aanbrand nie. Plaas ‘n deksel op die kastrol en laat die mengsel stadig prut vir 10 minute. Moenie verder roer nie ander sal die mengsel skif en die afgekoelde tert mag groot krake op kry agv sinerese.

3. Skep die mengsel in die voorbereide tertkors. Laat by kamer temperatuur afkoel. 

Bron: Rina Smit, 2016-02-19 
Hoeveelheid: 1 tert

Donderdag, 18 Februarie 2016

Cremora tert

Sandra Saayman is een van Boerekos met 'n Twist op Faceboek se Admin dames. Sy self is 'n kraninge kok en het hierdie maklike reseppie met ons gedeel. Dit is vinnig en stol binne 'n uur wat dit die ideale tert maak vir die onvoorsiene gaste. Ek het 'n kinkel by besit deur 'n halwe blikkie fyn pynappels wat goed gedreineer is by te sit om die soet effens te breek. Wat van 'n bietjie Amaretto of 'n ander tipe room likeur? Vars vrugte vir bo-op sit vir garnering? Hierdie resep het baie potensiaal, dit is verseker! Dit is met of sonder die pynappel nogsteeds 'n wenner! Dankie vir die deel van die resep Sandra.

Resep
500 g Cremorapoeier
250 ml Yswater (1 kop)
2 blikke Kondensmelk (gebruik 1 blik karamel kondensmelk vir afwisseling)
250 ml suurlemoensap (1 kop)
1 x 200 g pak Tennis-beskuitjies

Metode:
1. Skep die Cremora in ’n mengbak en voeg die yswater by. Klits goed en voeg die kondensmelk by. Hou aan klits tot die mengsel glad is.

2. Voeg die suurlemoensap bietjie vir bietjie by tot al die suurlemoensap bygemeng is en die mengsel verdik het.

3. Voer die basis van ’n tertbak van 24 cm met die beskuitjies uit. Hou ’n paar beskuitjies eenkant. Skep die vulsel oor die beskuitjies. Druk die ekstra beskuitjies fyn en strooi dit bo oor die vulsel. 

4. Plaas minstens 1 uur in die yskas en sit voor.

Bron: Sandra Saayman vir Boerekos met ‘n Twist, 2016-02-18 
Hoeveelheid: 2 terte in blink foelie bakkies van 23cm of een lang pyrex bak

Woensdag, 17 Februarie 2016

Tropical Chiken Salad on Ciabata

Die resep bestaan uit drie dele. Daar is die resep om jou eie Ciabata mee te bak, daarna maak jy 'n slaaisousie aan wat ook vir 'n maand in die yskas kan hou, en laaste die gemarineerde hoender repies. Hierdie is my naweek kuierkos vir my gaste by die Gastehuis op die plaas. Dus hoop ek julle geniet die ete sommer baie saam met my!

Ciabata of Pantoffel brood
500g Steengemaalde Witbrood meel
380g Lou water
5g Kits gis
7g Sout
30g Olyf olie

Metode:
1. Sif die koekmeel, gis en sout saam. Maak ‘n gaatjie in die middel van die meel en voeg die water en olie by en begin die deeg meng. Sodra die meel goed deur gemeng is en klam is, laat dit vir 10 minute rus. Knie die deeg na 30 minute totdat dit glad en elsties is. Hierdie deeg is ‘n baie nat deeg en moenie nog ekstra meel by kry nie. Indien jy gelukkig genoeg is om ‘n menger tuis te hê gebruik dit om jouself nie vas te plak aan jou deeg! Smeer ‘n plastiekbak of glasbak met olie en plaas die deeg daar binne om verder te rys.

2. Laat die deeg rus vir ongeveer 30 minute totdat dit dubbeld die volume gerys het. Vou die deeg in ‘n reghoek dubbel op mekaar sonder om die lug uit die deeg te druk. Laat weer 30 minute rus.

3. Sodra die deeg deur die 30 minute rus is, gooi die deeg op ‘n liggies meel bestrooide oppervlakte en vou die deeg in die helfte, laat rus vir 10 minute. Deel die deeg op in nie meer as 4 dele of in twee en vou elke stukkie deeg in derdes en laat 30min rus voordat dit gebak word.

4. Bak die brood in ‘n voorverhitte oond van 230℃ vir 5 minute en draai die oond se temperatuur af na 200℃ vir nog 15 minute. Spuit die kante van die oond voordat die brood in die oond geplaas word, hierdie water vorm stoom en voorkom dat daar te gou ‘n korsie vorm wat verhoed dat die brood maksimaal rys.

Gemarineerde Hoender repies
125ml Karringmelk
5ml Gerookte Paprika
4 Hoender borsies in repies gesny
Sout en Peper na smaak

Metode:
1. Vryf die hoender borsies met die paprika in en meng die karringmelk goed deur die vleis repies.

2. Laat die repies vir 30 minute marineer. Oornag is perfek. 

3. Braai die hoender repies in ‘n warm pan tot gaar. Laat eenkant om af te koel.


Balsamiese Slaaisous
50ml Balsamiese asyn
15ml Heuning
15ml Bruinsuiker
½ Knoffel toontjie
50ml Olyfolie
Knippie sout

Metode:
1. Meng al die bestanddele saam en hou eenkant om oor die slaai te bedien.

Aanmekaar sit van broodjie
Gebruik enige groente wat jy in die yskas het om ‘n slaaitjie aan mekaar te sit. Vandag het ek frambose (wat ek by die buurman gegaps het), granaat pitte, koljander blare en repies spek vooraf gaar gemaak, pynappel, soetrissie in die slaai gesit en afgerond met boontjie spruite.

Sny die broodjie in die helfte en moenie  botter nie. Pak nou die slaai bestanddele op die broodjie se onderste helfte en eindig met die hoender repies en spruite. Indien jy ‘n vars krui in die tuin het sit so ‘n stingeltjie by.

Geniet met ‘n glasie wyn en goeie gesêlskap!

Besoek: www.boerekostwist.blogspot.co.za vir nog meer resepte en kreatiewe kos idees. 

Epos: boerekostwist@gmail.com

English Version
Ciabata
500 g stone White bread flour
380 g lukewarm water
5 g Instant yeast
7 g salt
30 g olive oil

Method:
1. Sift the flour, yeast and salt together. Make a hole in the center of the flour and add the water and oil and start mixing the dough. Once the flour is well mixed by and moist, let it rest for 10 minutes. Knead the dough for 30 minutes until it is smooth and elastic. This dough is a very wet dough and you must not add extra flour.  If you are lucky enough to have a mixer at home use it to prevent yourself gluing to your dough! Spread a plastic or glass bowl with oil and place the dough inside to further rise.

2. Let the dough rest for about 30 minutes until doubled in volume. Fold the dough into a rectangle double on each other without pressing the air out of the dough. Allow to rest for 30 minutes.

3. Once the dough has rest for the 30 minutes, toss the dough on a lightly floured surface and fold the dough in half, let rest for 10 minutes. Divide the dough in no more than 4 parts or in 2 and fold each piece of dough into thirds and allow 30 minutes to rest before baking.

4. Bake the bread in a preheated oven at 230 ℃ for 5 minutes and turn the oven temperature down to 200 ℃ for 15 minutes. Spray the sides of the oven before the bread is placed in the oven, the water forms steam and prevent a crust to form too soon that prevents the bread from maximum rising.

Marinated Chicken strips
125 ml Buttermilk
5 ml Smoked Paprika
4 chicken breasts into strips cut
Salt and pepper to taste

Method:
1. Rub the chicken breasts with pepper and mix the buttermilk well through the meat strips.

2. Let the strips marinate for 30 minutes. Overnight is perfect. 

3. Fry the chicken strips in a hot pan until cooked. Set aside to cool.

Balsamic dressing
50 ml Balsamic vinegar
15 ml Honey
15 ml Brown sugar
½ Garlic toe
50 ml Olive oil
Pinch of salt

Method:
1. Mix all the ingredients together and set aside to serve over the salad.


ASSEMBLE SANDWICH
Use any vegetables you have in the fridge to make a salad. For today's salad I used raspberries (which I pinch from the neighbor), pomegranate seeds, coriander leaves and strips of bacon that was fried in advance, pineapple, sweetpepper and topped with bean sprouts.

Cut the bread in half and do not butter. Pack the salad ingredients on the bread's bottom half and end with the chicken strips and sprouts.
If you have  fresh herbs in the garden you can add a sprig.

Enjoy with a glass of wine and good company!