Dinsdag, 19 Januarie 2016

Visarende, riviere, perde en kinders, maak alles in die lewe die moeite werd!

Sussie saam met pappa in die boord...lekker moerbeie geëet en vir mamma die gemors gelos!
So sit ek en blaai deur Faceboek en sien ‘n foto van ‘n visarend wat sy kop agtertoe gooi om daardie kenmerkende roep van hom uit te bassuin. Oom Hannes Britz se foto het soveel nostalgie in my binneste geroer. Ons woon amper aan die voet van die Magaliesberg en tussen die berg en ons plaas is die Skeerpoort rivier. Op die plaas is ‘n hoekie waar die Skeerpoort en die Magaliesrivier ontmoet by die keerwal, en die gebruis wanneer die twee riviere ontmoet as dit afkom kan tot by die opstal gehoor word. Dit is juis by hierdie groot water gat waar die riviere saamkom, waar ons ‘n Visarend broeipaar het. Ons hoor hulle gereeld roep, veral laat middag as ons op die stoep van ons 1930 plaas opstal sit en koffie drink.  Die geluid laat my elke keer hoendervleis kry, dit maak my diep in my siel en nersderm kalm...as daar iets is soos ‘n nersderm. Dan sit ek met my toe oë en wens vir nog ‘n roep en dan hoor jy dit oor en oor! As daardie stoep kan praat van al die lekker koffie en kuiertjies wat al deur generasies hier plaasgevind het...dan was daar hordes boeke al volgeskryf. Ons area is ongelooflik onder ontgin wat die geskiedenis aan betref, maar ek en my man is tans besig om met die “oumense” te gesêls oor die geskiedenis van Skeerpoort. Die stories en staaltjies wat uitkom is ongelooflik. Sal julle nog eendag van oom Hans en oom Maans vertel!

Maar terug nou by die Visarend en die rivier. Ek het my kinders leer perdry op my manier van natuurlike “horsemanship”. Dit beteken hulle het nie in ‘n ring al in die rondte geploeter nie. Nee, ek het hulle met die perde uitgevat in die bebosde rivier in. Daar het ons in die digte rietbos met sy tonnels gery...daar het ons op en af teen groot en lang walle gehardloop, gallop en geloop om hulle balans te leer. So het ek hulle op ‘n natuurlike manier leer spring met hul perde. Die waarde van die kinders uitneem met hulle perde was ongekend in hulle fisiese asook kognetiewe ontwikkelling. Op die pad moes die seuns (Hardus toe 4 en Peet 8) geleer het om probleem situasies vanuit die saal te identifiseer en die perd op sy gemak te stel. Te leer om in ‘n span te werk, jy en jou perd, wat vertroue is en die rotine van versorging...dit alles kweek dissipline by ons toekomstige volwassenes.  Dit was goeters soos ‘n hoop bale of ‘n klomp kunsmis sakke wat eenkant lê wat verdag lyk, die kinders het dan geleer om die perd vooraf die ding te wys, die kop effens te draai na die “kamstige vyand” en ook dan so verby die sakke te gaan met die perd wat bewus is van die ding is nie ‘n gevaar. Ja, probleem oplossing skills was hier geoefen op ‘n daaglikse basis. 

Wat vir my opvallend was, was my rooikop knapie van 4 jaar oud, wat sy perd die beste hanteer het. Hy het net daardie rooikop willetjie gehad en kon sy weghol perd self onder beheer kry as ons huistoe gedraai het. Kinders verbaas mens...maar perd se kind nog meer! So het die seuns ouer geword en die perde ook. Toe ons na 12 jaar uitvind ek is al 3 maande swanger moes ek ophou perd ry, en dit was vir die seuns en vir myself baie erg gewees. Maar ons het aangepas en toe ‘n arena ingerig vir hulle om in te speel asook ‘n ring om die nuwe perde wat kom te werk.  Ons ou perd Kloppe was die wildste, maar net ek kon hom ry, hy het maar ‘n moeilike tyd gehad voor hy na ons gekom het. Ek het baie lank met hom gewerk om sy vertroue te wen, my man sou hom lankal slagpale toe gestuur het as hy hom moes werk. Maar Kloppe het soos ‘n skip gery, pragtige lang treë, egalig en gebalanseer. Bene vas op die aarde en die mooiste houding! Tigger was Peet se perd, hy het boerperd en polamino bloed in hom gehad...hy was die rustigheid vanself. Ek het hom kleintyd “gedesensitize” en was bomproof. Eendag het die reën die seuns in die boord oorval en hulle het onder sy vet pens weg gekruip en hy het mooi sy basies opgepas. Dan was daar ou Boesman...wat ‘n meneer. Dit was my man se perd! Sterk en fors, regop en dapper! Was ook ‘n boerperd met die mooiste gesig en ‘n vette boud aan hom. Slim en altyd die hekke vir al die diere op die plaas oop gemaak. Ek het my perdry tye geniet...nou is Kloppe op die ouderdom van 40 in vrede heen, Boesman is verlede jaar gesteel...ja wie steel ‘n perd? Mmmmh mense wat weet hy is van ‘n goeie bloedlyn! Die storie van Tigger is vir ‘n volgende keer....’n Hartseer storie...met ‘n goeie einde!

My lewe op die plaas is soms besig, rof, vuil van diere werk, bome snoei, kinders opvoed en wie weet alles...soms vra mense of dit nie te veel is. My vriende van die stad wat my in die formele werksopset leer ken het...Kan nie dit indink dat ek mooi klere, juwele en grimering verruil het vir ‘n stukkie hemel op aarde! Maar ek hoort hier op my mishoop, dis hier waar ek kan asemhaal geen knellende bande in my bors...ek kan leef!

Groete tot ‘n volgende keer!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking