Dinsdag, 12 Januarie 2016

SOETRISSIE EN PYNAPPEL SLAAISOUS

Baie, baie dankie Ancoise Venter van LuCoffee shop in Luckhoff. Die dame mag maar kos maak, koekbak en jou heerlik bederf. As jy ooit die geleentheid kry om deur Luckhoff te ry, moet jy by LuCoffee shop stop. Hierdie slaaisous van haar kan met gemak gebottel word en op die rak gehou word vir ‘n geruime tyd. Maak seker jou sterilisasie is gedoen van jou bottels om te verseker dat die produk lank sal hou.

Ek dink dat hierdie slaaisousie nie net tot slaai beperk is nie. Ek het dit vanmiddag saam met 'n kaasbord en beskuitjies bedien, wat ongelooflik heerlik was. Wat van 'n marinade omdat dit reeds die pynappel en ook olie in het vir vark en hoender? Kyk ek dink hierdie gaan die wonder sous van die eeu word!


RESEP
1 liter Sonneblom olie
2 liter Wit asyn
500 ml Water
1 kg Soetrissies - fyngekap 
2 kg Pynappel - fyngekap
2 kg Uie - fyn gekap
2 kg Suiker 
100 ml Sout 
25 ml Peper 
50 ml Gemmer - fyn 
15 ml Cayenne peper
200 ml Maizena aangemaak met 1 k water 

METODE

1. Voeg al die bestanddele saam behalwe die maizena (mielieblom) en kook die mengsel terwyl jy gereeld roer eers oor lae hitte totdat al die suiker opgelos het. 

2. Sodra die suiker opgelos is kook oor vinnige hitte vir ongeveer 15 - 20 minute. Voeg die aangemaakte maizena by die kokende mengsel en kook weer vir 10 - 15 minute totdat die mengsel verdik het.


3. Skep die warm mengsel in skoon en warm gesteriliseerde flesse en draai baie dig toe. Draai die bottel op sy kop en laat so afkoel. Hou ongeveer 6 maande tot 12 maande in donker kas.


HOEVEELHEID: Ongeveer 7 liter, die resep kan met gemak halveer word.


BRON: Ancoise Venter van LaLu Koffiehuis te Luckhoff, getoets deur Annelien Pienaar, 2015.




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking