Woensdag, 13 Januarie 2016

‘N CHILL PIL OF 'N KAS WYN MET EISH!

Naceema se persent: Soetrissies en Banana chillies!
Ek was lanklaas so bly dat ‘n dag sy end begin kry!

Gisteraand gaan die krag weer af en ek het 8 kg vye en 8 kg appelkoos blatjang wat aan die kook is, en die potte is te swaar om na die ateljee te karwei om op die gas te kook. Sit toe maar ‘n lappie oor die konkoksies en dink toe ek sal môre oggend klaar kook. ‘n Kliënt laat weet sy is môre in die area en vra of ek tamaties wil hê, ja, is my antwoord en ons tref reëlings. So by 23h00 besef ek met ‘n skok toe ek in my dagboek kyk, ek het die volgende dag ‘n radio onderhoud by Pretoria FM! Dink toe by myself ek kan nie nou die mense in die middernagtelike ure pla en kanselleer nie.

Erika en Diane Pretorius se persent aan my.
Vier uur vanoggend staan ek op om gou die notas te druk vir die praatjie, doen die oggend groet en begin die kinders se kospakkies pak. Vyf uur jaag ek die Filistyne uit die bed en sussie lê soos Gertjie die voël verskrikker van haar skool, stok stywe bene, bewegingloos en wille bos hare (waarvan jy nie weet of dit die voorkant of agterkant van die kop is). Ek los haar om nog te slaap. Ek sal die dame maar pla by 06h00 as ons ry. Pak dag klere, borsel en rekkies in haar tas en sal haar aantrek as ek by die skooltjie kom. Dit is terug skooltoe na 6 weke se heerlike Desember vankansie. Goed, die manne kam die hare, ouboet nog nie klaar geskeer, klein boet het sy ouboet se naaskeermiddel beet gekry en jy ruik net “eu-de-too-much die gang vol! Ek skel en oor die nare reuk en ouboet vervies hom vir die “vermorsing” van sy lekker ruik goed. Ek gee die half gekookte vye ‘n kyk en besluit ek sal klaar kook as ek terug is. Al die Filistyne is in die kar, geskenkpakkies vir die klankman en Alet gepak, rekenaar in en daar gaan Piet se trek!

Op die pad skree sussie sy gaan nie skool toe nie! Sy gaan nie haar tee drink nie! Ons is almal lelike mense....Ons ignoreer haar. Draai by Jasmyn plaasprodukte se pad in, op gaan ons met die pad tot by haar plaas skooltjie. Maak haar skaflik en vergete is al die trane. Goed, dit was maklik.

Ry Pretoria toe vir die onderhoud en is betyds. Die verkeer was maklik. Sit in die parkeer area en wil gou net weer deur die nota’s gaan. Ok, ek het die nota’s in die printer vergeet! Gelukkig is die rekenaar in gepak en ek sit toe maar so en werk. Gaan vir die onderhoud en dank Vader alles verloop vlot en my gehue laat my nie in die steek, met die kant nota’s wat nie op die rekenaar is nie! Soos gewoonlik het ons almal in die ateljee heerlik saam gekuier en ek moet groet. Weg trek ek en my blou karretjie om die hele Makro se suiker en asyn op te koop vir die berge vars produkte wat voor my deur afgelaai word. So tussen die betaal deur bel my Indiese vriendin en vra of ek nog green peppers wil hê, wil nie ongeskik wees nie en aanvaar die aanbod en ek beloof om vanmiddag nog die pakkie op te laai.

Appelkoos blatjang
Ek kry vir sussie en ons twee drink ‘n pienk melkskommel by Jasmyn (ter viering van haar 5de verjaardag) se restaurantjie langs die boekwinkel. En natuurlik is sussie weer met ‘n boek daaruit voor ons die melkskommels gaan drink het. Ons koop gou die bestanddele wat kort vir die soetrissie sous en die pasta sous. Ek kan nie wag om tuis te kom en die berg bottels vol te maak nie. 

So met die uitstap, loop ek my vas in tannie Doris van Meerhof skool. Ek vra uit hoe dit gaan en ons praat weer oor die skool se spyskaart wat ek gedoen het en hoe dit met die spesiale dieëte gaan. Ons het baie probleme met die diabete. Meeste van die kinders se ouers is nie vermoënd nie en die een geval wat ons nou al vir meer as twee jaar gespook het, wel sy het geen ouers. Haar boetie en sussie help na haar kyk oor naweke. Die boetie het altyd per taxi gereis vanaf Rustenburg en haar kom haal. Dan eet sy van die kos wat hy koop by Spur waar hy gewerk het. Hy het goed bedoel om haar te probeer help. Maar aai, elke Maandag tot Dinsdag is dit ‘n gesukkel om die kind se suiker af te kry. Sy het kos onder die kaste, haar bed en lessenaar weg gesteek...alles verkeerde goed. So moes almal maar polisieman speel. Dit was ‘n tawwe tyd. Sy het verlede jaar skool verlaat en tannie Doris deel my mee die kind is laat in Desember oorlede wees ongekontrolleerde suiker. My bene wil, wil onder mekaar invou en ek hou krampatig vas aan die trollie om die newels van naar, skok en lighoofdigheid af te weer. Sussie staan salig onbewus van ons gesprek en voer die vissies op die bruggie. Ek kon nie verder praat nie en tannie Dorris totsiens gesê met 'n moewiese knop in die keel en belowe om hierdie jaar meer te kom hallo sê. So versonke in my eie gedagtes ry ek om die twee Filistyne te kry en gaan plaas toe.

Min besef ek my bui is donker...meer ‘n donder wolk. My man vra net: “Is dit veilig om in te kom?” toe hy my hoor rumoer met die seuns wat lui is om die kar uit te laai. Ek het hom een kyk gegee en uitgebars in trane. Die arme man het hom des dinges geskrik oor die tranedal. Hy dink iemand is dood soos ek huil en beduie. Hy maak vir my tee en gee my ‘n soet koekie. Toe ek bedaar vertel ek hom van die kind. Hy ken die omstandighede en net sy kop geskud.

Vye gereed vir die bottel!
Ek het opgestaan en toe weg gespring met die vye, appelkose...die tamaties en peppers is môre se werk...nou wil ek net een berg weg kry. Soos ek werk raak my gemoed rustiger ek dink aan die kind en wonder hoekom ‘n oom of tannie nie kon help nie? Hoekom alles op die ouer kinders afstoot? Nee, soms maak die lewe nie sin nie... Ek draai elke warm botteltjie vye sorgvuldig toe, draai dit op sy kop en begin met die nuwe een. Dit ritmiese werk, die eentonigheid van die inskep en toe draai, bring nog meer kalmte in my siel, trane vloei nie meer nie, net ‘n stille gebed dat haar siel in vrede mag rus.

My werk vir die aand is klaar. Die lamsblad in die slowcooker is reg, cous-cous slaai en mengselslaai is klaar gemaak, want Pappie het gesien dat selfs chill pille en wyn die situasie mag verger en toe maar ingespring en die mengelslaai klaar gemaak!

Alles in eendag...soms wonder ek of die duiwel my toets as ek my voete van die plaas af sit! Maar buig die knie vir hom, nooit!

Groete Annelien!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking