Saterdag, 16 Januarie 2016

MALVALEKKER VERSIERSEL

Nou goed...ek het so ‘n effense swakte vir ‘n goeie versiersel wat sy vorm behou en in ‘n kits gemaak kan word. Hierdie resep het my moeder eendag so aanmekaar gesit toe my sussie verjaar het. Van toe af maak ons die heerlike versiersel!

Die versiersel het 'n pragtige, amper meringue-agtige glans. Dit is nie so erg soet nie en het geen botter in nie. Dit smelt nie so maklik as die weer warm is nie. Ek dink dit is 'n wenner!


RESEP
150 g Wit suiker
80 ml Water
6 - 8 Malva lekkers
1 Eierwit - groot eier tot Jumbo

METODE

1. Hier gaan jy ‘n dubbelkoker nodig hê. Dit beteken eenvoudig net jy moet ‘n kastrol vul tot op so ¼ vol en die water dan kook op medium hitte. Plaas dan ‘n bak met ‘n ronde bodem of ander kastrol wat kan hang oor die kokende water. Dit is baie belangrik dat die water nie die boonste kastrol of bak raak nie. 

2. Los eers die suiker in water op oor lae hitte direk op die stoof. Sodra die stroop kook plaas die kastrol op die dubbelkoker en voeg die malvalekkers by. Kook die mengsel verder op vinnige hitte en roer af en toe. Net voordat die mengsel begin draderig word, klits die eierwit tot stywepunt stadium. As jy die bak omdraai moet die eierwit nie uitgly of uitval nie.


3. Klits nou die gesmelte malvalekker stroop by die eierwitte in en hou aan klits totdat die mengsel dik word. ‘n Elektiese handklitser is geskik vir die projek.


4. Versier!


Variasie: 1-2 t kleursel of die kombinasie geursel soos verduidelik: Gebruik 'n sjokolade geursel om die kleur te verander na 'n ryksjokolade kleur. Bakkerswinkels hou tans hierdie soort alles in een kleursel/geursel aan en maak die mooiste glansende versiersel. 

HOEVEELHEID: Genoeg vir 1 koek of 12 cupcakes.


BRON:  Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking