Woensdag, 20 Januarie 2016

Kwepers is nie vir Sussies nie!

Nou goed, daar maak ek mos die fout en luister na my man en hy laat die werkers vir my Kwepers pluk, want hy mis sy ma en wil Kweper jellie hê.  Ek was onder die indruk die bome is so oud, dat dit nie meer dra nie. Regtig, die goed is seker al 50 jaar oud en dra net in die heel boonste toppe so een of twee vruggies. Wel wat bring ou George vir die Mê? Mense, ‘n hele 50kg krat van die harige goedjies! Ek het nog nooit in my hele lewe alleen sonder my briljante moeder se hulp hierdie vruggie in haar jellie omskep nie.

Mmmmh het ek maar net geweet wat lê voor! Ek het ‘n ou wastrog so groot soos ‘n bad buite in die derde kombuis. Begin die harige goeters in die wasbak met water gooi en ek jeuk dat selfs my tone kriewel. My neus begin loop en my arms brand...maar ekke gee nie aandag aan die jeuk nie. Ek wil die goed net gewas kry. Ek begin om die hare met die kombuis sponsie se growwe kant te skrop, maar nee, die verdomde haartjies sit soos dinges. Ek begin kriewelrig te raak, gaan soek ‘n nael borsel en begin skrop, nee die vervloekste hare verstop die naelborsel so...dat ek nou ergerlik begin raak en ek roep vir pappie om te kom help skrop. Na so ‘n uur moet hy gou iewers heen gaan en verdwyn die res van die aand. Die nael borsel het toe in die asblik op geindig en ek vat toe die skrop borsel. By 20kg gee ek moed op en los die res in die water tot die volgende dag. Die volgende oggend begin ek so vloek-vloek skrop. Pappie kom verby en maak of hy niks hoor nie. Ek roep vir George en raas met hom hoekom pluk hulle so baie van die goed, skuins weg lag hy, nee Endrew (Hanru), hy sê die Mê soek baie.

Kyk as my ogies dolke was, was my man dood. George stem in en help my toe die goeters klaar skrop. Ek begin heel ywerig die monstertjies wat nou soos mooi groen Granny Smit appels lyk, met my groot mes op sny. Hier kom toe nou weer nonsens. Die verdekselse goed is harder as ‘n lemoenpampoen! Dit skiet die hele wêreld vol soos ek probeer om die rond borstige goedjies ‘n sny plek te gee. Sit dit toe op ‘n handdoek en hierdie oorlog is afgeweer. Begin sny, met stampe en stote, blaaie wat brand...maar ek sny om verby die ervaring te kom. Ek pak die 30 liter potte met ‘n groot glimlag. Dit vat my die hele saterdag om die goed op te sny. Nou kom die kook slag. Jy moet dit kook totdat dit net sag is, dan dreineer en dan die vog afmeet en suiker by sit en weer kook.  Kyk my ma se resep so...in haar eie handskrif en dink so by myself: My ma staan seker hier agter my en loer oor my skouer en kry my terug vir al my stoutigheid. Hoekom het sy nie al die slag gate uit gewys nie?

Want die laaste sin van kook tot net sag, dreineer, meet vog....wel ons trek vandag by dag 3 en ek is nogsteeds nie klaar nie. Hoekom? Want, nommer een, ek het die wasbak verstop met die harige besigheid, dit het soos velt ‘n laag gevorm. Hoe meer ek dit donsies probeer op vang met die kaasdoek hoe meer verstop ek die kaasdoek, nee ek was verby bedonderd! Pappie dik vies...en mammie boos vir pappie se blink planne begin toe die pype ontkoppel en daar spoel die hele kombuis vloer vol van die hare, ek kommer nie ek is net te bly, begin geduldig skoon maak.

Toe kom die dreineer slag van die klaar gekookte kweper, die goed so glibberig en slymerig en verstop die gaasdoek, die goed dreineer so stadig dat ‘n skilpad lyk of hy op witblits loop! Ma sê die stroop moet deursigtig en helder wees, jy moet op 30cm dwarsdeur sien. Nou goed, myne lyk nog nie naasten by soos haar beskrywing nie. So, toe werk ek my eie plan uit, skep met ‘n groot sif die stukke uit, gooi dan die vog deur die ekstra fyn tee siffie wat elke keer gespoel moet word na ‘n koppie vol sap deur gaan. Daarna gaan dit deur 4 lae kaasdoek en die laaste keer deur twee lae kaasdoek. Nou is ek te vrede die 30cm ding kan ek nou sien in die onderkant van die 30 liter potte! Dit het die hele oggend geneem. Toe lees ek weer deur die resep en sien ek moet die goete weer terug sit...die vrugte wat gekook was en weer kook vir 'n tweede ekstraksie, my lip was erg dik. Ek dink by myself gaan ek kroek en weg gooi of aangaan. Besluit om my reel te volg en eers die resep te volg soos ma geskryf het en dan volgende keer kroek. 50kg se werk gaan nie opgemors word nie!

Doen die pektien toets en daar is nie ‘n druppel brandspiritus in die kas! Ek skel, dit is laat en dorptoe is nie ‘n opsie nie. Besluit om maar ‘n kans te neem en kook die spulletjie met suiker en besluit toe om dit ‘n Turkish delight geur op die kooptoe te gee. Die kleur is ook nie mooi pienk nie en ek dam 'n bottel goeie Cabernet by en gooi die hele bottel in, nou lyk sy mooi, nog 'n handvol Cardamom peule en siedaar! Die reuk is fantasties en proe heerlik. O, ek het ook 'n paar slukke van die wyn weg net om my pyn te vedoesel en moed te kry...natuurlik uit die glas gedrink, net nou kyk ek dalk te diep in die bottel!

 Nee, ek sal nooit weer in my lewe soveel vrugte op eenslag kook en dreineer nie. Alles was taai, die vloere, tafels, stowe, my hare, my tone, die wasbak was die ergste...alles was taai! Nie soet taai nie...nee so ‘n gommerige, slymerige gedoente wat jou die horrie piep gee elke keer as die kaasdoek uitgespoel moet word vir die volgende liter sap wat dreineer moet word. Nee, ek het altyd gekla oor die kook van Makataan...weet julle wat? Makataan is nie werk nie, dit is ‘n plesier om meet te werk. Dus ek vra R80 vir 500ml en nou weet julle hoekom...Na 4 dae se regtig harde hande arbeid en ‘n seer rug, gaan ek die arbeid meer ag as die bestanddele

! Nooit weer in my lewe sien ‘n kweper my twee hande nie!


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking