Saterdag, 23 Januarie 2016

Gebakte Sago Poeding

So 'n effense twist...aarbei konfyt ipv appelkoos konfyt
Sandra Bryce-Borthwick, het hierdie sago resep van haar met ons gedeel. Sy is een van ons engelse lede en hier is so ‘n kort uittreksel van haar briefie aan my: “Baked sago pudding recipe as promised. Taught to us in Standard Eight at Tempe High School in Bloemfontein in 1981 by our wonderful Institutional Management teacher, Mrs C S Verwey.” 

Sandra, thanks a million for this wonderful recipe. Ek het dit gemaak en wat ‘n plesier vir die oog en ook die maag! Lekker onthou kos met die ekstra kaneel wat ek rojaal oorgooi!

Resep
200ml Sago
500ml Melk
500ml Water
1ml Sout
125ml Wit suiker
2ml Karamel of Amandel geursel
25ml Botter
3 Eiergele

Metode:
1. Kook die sago, water en melk saam oor matige hitte, totdat die sago deurskynend is. Indien tyd nie ‘n faktor is nie, week die vorige nag die sago in die water, want dan kook dit baie vinnig deurskynend en voorkom aanbrand. Net soos met melktert maak of vlabasisse, smeer ek die kastrol se bodem met olie of botter om aanbrand te voorkom.

2. Voeg 125ml Suiker, sout, geurmiddel en botter in die warm sago in. Roer goed deur sodat die suiker kan oplos. Laat die mengsel tot lou warm afkoel. Voeg nou die eiergele by en roer goed deur. 

3. Bak die sago mengsel by 180℃ vir 25 minute. Terwyl die mengsel bak kan jy die laaste 10 minute die meringue begin voorberei.

Meringue
50ml Suiker
3 Eierwitte
Knippie Kremetart
50ml Appelkoos konfyt

Metode:
1. Klits die eierwitte in ‘n glas- of vlekvrye staal bak, maak seker die bak is nie olierig. Vee liefs die bak met asyn lappie uit om al die ekstra olierigheid wat dalk daar kan wees te verwyder. Dus, klits die eierwitte tot skuimerig en voeg die kremetart by en klits tot stywe punt stadium. Voeg die suiker by en klits weer goed deur.

2. Smeer die appelkoos konfyt oor die gebakte sagomengsel...ek is mal oor appelkoos konfyt en smeer dit nie op nie, maar sit klein klontjies oral sodat dit self kan smelt wanneer dit gebak word.

3. Skep die meringue op die appelkoos konfyt en bak verder onder die grill van die oond totdat die puntjies begin verbruin.

4. Bedien warm of koud.

Bron: Sandra Bryce-Borthwick, 2016-01-23
Hoeveelheid: 1Pyrex bak

1 opmerking:

  1. Baie dankie Annelien! Sounds delicious 😋 tomorrow I am making this delicious pudding!

    AntwoordVee uit