Donderdag, 21 Januarie 2016

Die Chillie Eskapade

Hierdie is Dwerg Chillies en nie so verwoestend nie
So leer ek mos die duurste les wat enige dom boervrou ooit kon leer...die van die krag van ‘n chillie se brand! O, Moeder van alle moeders...ek het nie geweet watter kant om te keer.

My liefste vriendin Naceema Patel het dit goed gedink om vir my van haar Chinese capsicums te gee. Ha! Maar later sou ek mos die ander naam hoor en dit is wraggies soos die steek van ‘n Skerpioen...die ander geleerde naam vir die wettertjies is Moruga Scorpion! Ek kry so ‘n yoghurt bakkie vol van hulle by haar en ek vra haar of dit sal werk vir die Roasted Garlic and Ginger Masala wat sy my die resep van gegee het. Ja, maar ek moet maar versigtig werk want dit is sterk. Mense, die vrou vertel mos toe nie vir my dat die outjies op die brandskaal (as daar so iets is) op nommer 4 of 5 van die wêreld se warmste chillies val.

Op die oog af is dit nie ‘n mooi vruggie nie, dit lyk amper asof dit sulke bulte soos selluliet maak. Daar is nie ‘n definitiewe punt nie en soms is dit sommer so in mekaar getrek. Gewoonlik werk ek met plastiek handskoene as ek met chillies werk, want die Hemele weet dit kan nogal ‘n hewige vel reaksie ontlok. Ek begin met die verwerkingsproses en so met die eerste sny kry ek ‘n gaatjie in die een vinger se punt van die handskoen. Aag, dink ek by myself dit is seker soos die ander chillies en sal na hierdie enetjie op gesny is gou ‘n ander een aan trek. Moeder van alle moeders...daar kom die steek...dit brand, dit brand so, dat ek dadelik die handskoek afpluk. Met die afpluk is ek nie versigtig nie en die vuil kant van die handskoen tref my teen die voorarm van die ander hand. Ek voel die steke, die vlamme...ek dink wat de hel is nou aan die gang. Spoel my arm en vinger, hoe meer ek spoel en vryf hoe erger word dit. My arm maak eers sulke rooi kolle en toe word dit sommer sulke op gehewe bulte. Ek begin paniekerig hardloop na die medisyne kas en sluk sommer twee Celestemine pilletjies want dit lyk soos ‘n bysteek net erger.

Ek bel vir Naceema en vra vir die antidood. Sy lag dat die trane loop en ek huil. Ek word gewaarsku dat ek moet goed hande was en die aangetaste dele moet afvee en weer spoel. Ek moenie my baba se boude afvee nie of selfs as ek badkamer bebruik nie. Ek dink so by myself, wie het hierdie wreedaardige chillies ontdek. Want daar waar vandaan dit kom, moes dit as ‘n indringer gesien word en verwoes word. Dit voel of kokende water oor my lyf uit gegiet is. Naceema sê daar is niks wat ek kan doen nie, en moet die hand net in koue water sit. Maak toe so, maar dit voel soos ‘n vel wat in die son verbrand het en nou in badwater moet lê. Dit is regtig seer. Ek blaas my neus so tussen die pyn en hitte golwe deur en die Vader alleen weet, my neus gate is aan die brand, my oë is bloed rooi, ek vloek sommer sulke lang stringe, want ek was gewaarsku om nie weer aan ‘n lewende ding te vat nie!

My man kom by die huis en dink ‘n by het my gesteek en vra ewe besorg of ek ‘n pillejtie gedrink het. Ja, kom dit deur die trane. Ek vertel hom wat gebeur het en dat ek net een chillie gesny het en nou met jare se probleme sit. Hy raas dat die dak amper lig, hy het my al soveel keer gewaarsku oor my en Naceema se kerriekos. Iemand volgens hom gaan nog seerkry eendag. Wel, ek het nooit in my lewe kon dink dat so ‘n klein dingetjie sulke groot probleme kan veroorsaak nie. Hy het die chillies dadelik weg gegooi saam met die res van die toerusting wat ek gebruik het...kap plank en mes weg!


Ek het gaan slaap met die brandende lyf, die volgende oggend toe ek gaan stort en myself lekker seep smeer kry ek toe mos weer die brandery van vooraf. Want daardie sap is gif...dit hou vir twee dae aan met brand. 

Nee, ek is klaar met chillie spesies wat se naam en nie ken nie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking