Donderdag, 14 Januarie 2016

CREME BRULEE

Akkedis Viljoen is een van ons Boerekos met ‘n Twist lede wat baie kundig is op die gebied van kosmaak. Sy woon en werk tans in Engeland en soos ek kon aflei berei sy gereeld feesmale vir die Engelse voor. Verder is sy vir my altyd baie goed gesind as dit kom by die deel van haar puik foto’s! Sy is ook ‘n top fotograaf van formaat. Akkedis noem hierdie ‘n Creme Brulee sonder fieterjasies en ‘n wenner. 

Akkedis: “Ek het hierdie resep gekry by ‘n vriendin wat ‘n restaurant gehad het in St Mawes (Cornwall) en sy was ‘n wonderlike kok. Ek het hierdie resep beproef en maak dit telkemale en vinnig en maklik. Die tekstuur is soos fluweel! Geniet!”.



Gladde tekstuur
RESEP
500 ml Dikroom (double thick, kyk by Woollies)
5 - 6 Eiergele - groot
30 ml Strooisuiker
15 ml Vanielje geursel

METODE

1. Voeg al die bestanddele saam en klop deeglik met ‘n vurk.

2. Dan vir die geheim: sif die spulletjie vir 10 keer tot jy van al die eierwit stringe ontslae is. Die mengsel moet glad wees. Hierdie is die enigste manier hoe die fluweelagtige tekstuur verkry word.


3. Gooi die mengsel in rammekin bakkies en plaas dit in ‘n oondpan. Vul die oondpan dan met kookwater tot die bakkies se halflyn merk. Plaas in oond en bak by 150 ˚ C totdat dit gestol is. 


4. Sprinkel suiker oor die brulee en plaas terug onder die grill van die oond en laat dit karameliseer of gebruik ‘n vlam om die werkie in ‘n japtrap te doen. 


HOEVEELHEID: 6 porsies.


BRON: Akkedis Viljoen, resep en foto, 2016.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking