Dinsdag, 26 Januarie 2016

Babka (Cinnamon rolls met 'n Twist)

Een van ons lede het navraag gedoen vir ‘n Joodse brood wat sy as kind by iemand geëet het. Ek het dit as ‘n ander dis leer ken en nie as Joods geassosieer nie. Maar so leer mens elke dag nuwe dinge. Die brood was tydens Paasfees tyd geniet as gesinne saam gekuier het. Ek het die Babka as Kulich leer ken en met my navorsing vir die navraag besef dit is een en dieselfde ding!

Babka is ‘n Poolse verrykte soet broodjie wat baie dunner uitgerol word as cinnamon rolls of Chelsea buns. Alhoewel die deeg met suurdeeg gemaak word en dan baie styf opgerol word. Die broodjie kan in verskeie vorms gerol word. Die geheim is die lagies wat gevorm word en die lagies gedefinieer word deur die speserye, sjokolade en suiker lagies. Die broodjie rys ook baie hoog en word tradisioneel in ‘n broodpannetjie gebak.

Die deeg wat ek gebruik is soortgelyk aan die Mosbolletjie deeg of Brioche. Dit word verryk deur botter, eier en melk asook 'n hoë persentasie suiker. Die deeg word dan oornag koud gefermenteer in die yskas.

Resep
Stroop
100g Witsuiker
170g Water

Metode:
1. Kook die suiker en water saam vir 3 minute en laat eenkant om af te koel totdat dit nogdig is as die brood uit die oond kom.

Deeg
190g Melk, lou warm
10g Kits gis (basies 1 sakkie)
700g Koekmeel
2 Eiers, groot (110g)
110g Wit suiker
1t Vanielje geursel
½ t Sout
115g Botter of Rama, kamertemperatuur

Metode:
1. Voeg die melk, gis en 5ml suiker by mekaar en laat dit staan sodat die gis begin skuim.

2. Meng die koekmeel en die sout saam en sif deeglik. Voeg nou die eiers en botter by die gis.

3. Meng al die bestanddele saam en knie die deeg vir 10 minute tot glad en elasties.

4. Druk die deeg in ‘n effense reghoek op ‘n stukkie kleefplastiek wat geolie is. Vou toe en sit in die yskas op ‘n verkoelde bakplaat. Verkoel vir 8-12 ure.

5. Na 12 ure haal die deeg uit die yskas en rol dit in ‘n reghoek uit van ongeveer 60cm x 40cm. 

6. Dit is baie belangrik om die Sjokolade smeer of Nutella eweredig te versprei oor die lengte van die deeg. Moenie oor die kante van die deeg gaan nie anders gaan alles uitloop wat jy opgesmeer het. Plaas die sjokolade splinters ewerdig op die deeg en rol dan versigtig op soos 'n rolkoek...swissroll.

7. Sny die deeg in die helfte om twee rolle te vorm. Daarna word die rolle in die helte op die lengte gesny sodat jy die lagies perfek kan sien. Draai nou die bene om mekaar soos ‘n X en plaas dan in die vooraf gesmeerde pannetjies. Laat die deeg 60 minute rus om dubbel die volume te rys.


8. Bak die brood by 200℃ vir 25-30 minute. Sodra die deeg uit die oond kom, verf die bokante met die suiker stroop wat jy in die begin gemaak het. Hou so aan. Sodra die lagie droog is, verf weer ‘n lagie. Hou so aan vir 3 keer.


9. Bedien koud of lou!

Sjokolade vulsel
850g Sjokolade smeer of Nutella *sien nota onderaan om self te maak
170g Sjokolade splinters

*http://boerekostwist.blogspot.co.za/2015/05/sjokolade-dekadensie.html

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za
Hoeveelheid: 2 groot brode van 30cm elk

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking