Maandag, 26 Desember 2016

Die Pantie, die rekkie en die onderrok.

Ek het ‘n niggie wat in Mauritius woon...al vir jare! Sy is ’n baie interessante karakter en leef ’n lewe van eenvoud en saam met haar gemeenskap. Verstaan nou vir my mooi...nie arm nie...nie ryk nie...net gemaklik. So praat ons oor ons kinderjare en sy vra of ek nog onthou van die tannies met die onder rokke wat alewig uitgehang het. Ja, so sit ons en praat oor die onderwerp van onderrokke. Ek sit toe en giggel oor die storie want soos die noodlot dit wou hê, tref ’n ding my mos met ’n verdekselse pantie en jare later die onderrok!

Ek en my sus is in dieselfde jaar gebore. Ek In Februarie en my sus Desember...presies 10 maande tot op die dag uitmekaar. So vir ‘n paar maande van die jaar is ons ewe oud en ek is dan nie meer die ousus nie. My klein sus het my in lengte baie vinnig ingehaal en ek was maar die kleinste van die twee...vandag het sy my pa se lengte en lang bene en ekke die KG! So kom dit mos met drie dogters in die huis dat die grootste se klere na die ander aangestuur word. Ek kry toe mos ‘n “klein-broekie” wat se rekkie effens los is en was gaande oor die ding wat nie geknyp het nie.

Ek was nie die soetste van kinders gewees nie en om ’n rok te dra was vra vir moeilikheid as jy weet wat ek bedoel. Ek was altyd vuil, die soom bruin en daar sit duidelik twee bruin boudkolle agterop...en natuurlik ’n paar hande wat afgevee is. Let wel, ons het rooigrond gehad....so nou weet julle seker hoeveel keer my agterent gebrand het oor die storie. Nou goed, ek en die pantie was onfskeidbaar. Dit het nie geknyp nie en ek het dit altyd saam met my kortbroeke gedra. Nou dat ek daaraan dink, dit was op ’n keer ook ’n swembroek gewees en met vreeslike gevolge. Ons het in die gronddam op onse boude afgegly. Seker so 9 jaar oud gewees. Dit was ’n warm dag en so trek ons kaal uit behalwe die panties. Ons gly teen die hoek van die dam af en plons dan die dieptes in. Pa en ma slaap hul Sondag slapie en ons mos veronderstel om soet te wees. Eish, daardie middag kom ons terug met boude wat brand....letterlik. Toe ons bad het moeder ons boude met vaseline en varkvet ingesmeer want die rooigrond het ons boude laat lyk of dit met borrie bygekom is. Dan nie eens te praat van die krapmerke wat die Leiklippe gemaak het, kompleet of ‘n kat sy kloue ingeslaan het. Duidelik was ’n pak slae nie nodig gewees..ons het ons les geleer.

Dit is mos toe weer ek en pantie se kind. Ma kuier by haar sussie en die tannies drink tee. Ek het my beste kisklere aan en moet soet sit en tanne tel...dit reën buite en stil sit was waaragtig nie maklik nie. So staan ek en gesêls met my ma en sy stuur my weg om ’n koekie te kry. So met die wegloop, duik moeder soos ’n springbok om my te keer. Nog voor sy kan keer slaan ek neer op die vloer...daardie einste pantie het mooi tot op die enkels afgeval en my gepooitjie. Dit was die laaste van die nommertjie gewees! Moeder het geleer om nie onderklere aan te stuur nie.

Maar helaas het ek mos nie my les geleer en onlangs as ’n groot vrou amper weer die konsternasie beleef met ’n onderrok wat ek moes aantrek. Ek het dit by my moeder geërf en die Filistyne het my laat onderrok aantrek want my rok skyn deur. Mhhh...nie ’n goeie idee gewees nie. Ek het gedink die rekkie sal reg wees, maar nee...ek vat ’n koper speldjie en steek toe maar ’n stukkie af sodat dit bo bly. Op ’n stadium voel ek ek trap rok vas, net om te besef, die speld het losgegaan en ek val oor die onderrok! Gelukkig gebeur dit by die speelgroepie van klein Filistyn, ek klim so grasieus soos 'n kameelperd uit die gedoente...of eerder tree uit die wit lappie uit en raai waar kuier onderrok se kind...ja...in die asblik. Van nou af sal ek nooit weer ander mense se ou goed aantrek nie, al is dit mooi en sentimenteel. Jammerte vir ’n ander se goed kan jou in lelike penaries laat beland!



Vrydag, 23 Desember 2016

BKT Kersfees wense....

Die gedagte aan Kersfees vir my as Christen is een waar ek dankbaar is vir die Seun wat vir ons gegee is om as middelaar en skakel na God die Vader te wees. Dat Jesus vir ons die grootste geskenk is en dat ons as mense geen persente verdien nie. Ons moet ons dankbaarheid wys deur aan ons naaste Sy liefde in alle vorme te betoon. Dat ons as mense liefs tyd met geliefdes, sal sien as tyd wat geleen is...In my lewe is daar mense so kort na mekaar weggeruk...my ma, my skoonma, my sussie en nefie. As tyd ’n kommoditeit kon wees, sou dit vir my ‘n groot geskenk gewees het, wat ek aan almal kon gee. Vir die siekes, die armes, die rykes...aan almal, tyd om lief te hê, reg te maak wat verkeerd is... Tyd te gee om voluit te leef want die lewe is ‘n “One time offer” en ons moet dit verantwoordelik leef. Hier is my “Leef-tyd” storie van Kind-wees....

Ek dink ek was ’n bevoorregte kind met die pa en ma wat ek gekry het. Hulle het ons as kinders altyd eerste gestel, geen bederf nie, baie dissipline en aandag. Geld was skaars en ons het geleer om met respek en oordeel daarmee te werk. Kersfees bring herinneringe op wat seker tot my oudag my sal bybly. Ons het toe reeds op Skeerpoort gewoon en ek kan onthou ek was seker so 8 jaar oud gewees.

My ma se familie was ook woonagtig in Skeerpoort en so het ons ook altyd Kersfees saam met hulle gevier. Ma en pa was kwaai en ons moes leer om te gee. Ons het altyd klein presentjies gekry want dit was die gedagte en samesyn wat tel. Om te kon gee, was vir ons ongelooflik gewees. Ons het vir die werkers op die plaas asook die ouetehuis op Skeerpoort pakkies gepak en die reël was: self gemaak...tuisgemaak.

My oom het ‘n vragmotor gehad en dan het almal opgeklim en oral op Skeerpoort gery om vir die mense te gaan sing. Ek onthou hoe helder die sterrehemel was wanneer ons op kombersies gelê en op kyk het. Die aande was koel maar heerlik gewees. Jy het nie ’n oog toegemaak nie...jy kon nie wag.

Ouma Kittie van die ouetehuis het vir ons by die hekkie gewag en dan het pa vir haar ma se mooi mandjie met happies oorhandig. Ouma Kittie was self al baie oud...as ek nou mooi uitwerk was sy seker self al in die 70 gewees! ‘n Vrou wat hard kon werk en weduwee vir so lank as wat ek kan onthou. Ek onthou haar pyrex bak vol appelkoosblokkies met die aller lekkerste versiersel oor, ons het sommer so op ons kombersies sit en appelkoosblokkies eet. Kind wees was sorgeloos en vol speel...ja sommer baie stofpad stories en stukkende knieë. Remhoogte se pad as hy kon praat, sal seker vertel van al die draf, perdry, fietsry, vry toe ons jonk was en vassit in die modder!

Daar was ook ’n Nederlandse gemeenskappie en het ons geleer van Sinter Klaas en Swarte Piet. Swarte Piet het soms met sy trekker gekom en vir ons lekkertjies gebring. Ek was vreeslik bang vir Swarte Piet, maar later het ek saam met die ander kinders gestaan en wag op hom

So het ons deur die plase gery en gesing. Toe word my oom baie siek en kry ‘n rare leukemie en ek kan so goed onthou oor Kerstyd daardie jaar hoe siek hy was en ons het nie die gebruiklike gedoen nie. Hy is vroeg in Januarie die volgende jaar oorlede. Gys Venter was ‘n legende in die area.

Gesëende Feestyd!

BKT groete Annelien


Woensdag, 21 Desember 2016

Driebone slaai

Almal ken Driebone slaai...maar elkeen het sy eie Twist op dit. Ek dink nie ons besef hoe belangrik peul groente in ons dieet is nie. Peul gewasse se vesel dien as die besems van ons verteringstelsel. Dit bind oortollige suikers, cholesterol en ander skadelike goed vir die liggaam en neem dit uit die sisteem. So, eet meer bone!

Vir die kerrie weergawe voeg net 5 mℓ (1 t) kerrie en 5 mℓ (1 t) borrie by die sous mengsel. Verder geniet ek die dis met al die bestanddele vars en ongebraai. Maar dit is persoonlike keuse. Jy kan die resep net so volg soos in die metode. Dus, een resep met vele opsies. Geniet.

1 x 400 g-blik botterbone, gedreineer en afgespoel
1 x 400 g-blik kekerertjies, gedreineer en afgespoel
1 x 400 g-blik nierbone, gedreineer en afgespoel
15 mℓ (1 e) olyfolie
1 medium rooi ui, fyngekap
1 selderystingel met blare en al fyn gekap
2.5 mℓ (½ t) fyn komyn
65 mℓ (¼ k) balsamiese asyn
½ k (125 mℓ) rooi grapetizer
¼ t sout
¼ t vars gemaalde swartpeper

Meng al die bone in ’n slaaibak.

Braai ui in olyfolie tot sag en glansend. Voeg die seldery en komyn by en braai vir 1 minuut. Voeg die Grapetizer by en kook baie vinnig vir 5 min en verwyder van hitte.


Roer die res van die bestanddele by die pan en giet oor boontjies. Roer die boontjies goed deur en laat oornag marineer voor gebruik. Geure ontwikkel die beste.

Bron: Annelien Pienaar

Hoeveelheid: 6 porsies

Gesnyde blomme se Viagra!

My moeder het 'n groen hand gehad en alles in haar tuin het geblom, vrugte gedra en mooi gelyk. In moeder se dae was daar nie die luukse van middels wat blomme langer laat hou het nie. 

Ek ontvang die mooiste bos rose en nog 'n bos gemengde blomme. Die rose se koppe hang die volgende dag en ek dink toe dat dit nek omdraai is vir hulle en die blare nou maar droog. 'n Stemetjie sê vir my ek moet ma se tuin resepte boek bydam. In haar netjiese regop handskrif staan die resep geskryf. Koorsagtig soek ek die bestanddeel en begin meng. Sny en gaan te kere. Glo vir my as ek vertel...binne 3 ure het die pap koppe pen orent gestaan. 

Nou het ek my viagra vir gesnyde blomme gekry!

Resep
1 liter koue water
1 e elektroliete

Meng alles met mekaar. Sny die blomme se stingels ongeveer 2 cm onder water af. Dit help dat die vloeistof weer vrylik kan vloei. Ruil die water elke tweede dag met die oplossing. My blomme hou 2-3 weke afhangend van die tyd van die jaar.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za

Dinsdag, 20 Desember 2016

Gerookte Snoek patee

Hierdie is voorwaar ‘n treffer op menige spyskaart ek kan as voorgereg of as patee bedien word. Gelatien is die een ding waarvoor almal weg deins en ek kan nie verstaan hoekom? Want ons almal het tog iewers in ons lewe jellie gemaak? Daar is verskeie maniere om gelatien in ‘n dis te gebruik en vandag leer ek jou die makliker manier. Geen stukkies rubber of growwigheid...Jy gaan ‘n eenvormige, satynagtige smaak kry.

15 mℓ (1 e) fyn gelatien
45 mℓ (3 e) kook water
30 mℓ (2 e) suurlemoensap
45 mℓ (3 e) mayonnaise (ek verkies Cross en Blackwell)
350 g gerookte snoek, fyn gedruk (enige ander vis kan gebruik word: tuna, stokvis...moet net gaar wees)
30 mℓ (2 e) dill tippies (Cape Herb by alle kettingwinkels landwyd)
125 mℓ (½ k) room
125 g roomkaas...nie maaskaas
  
Gebruik ‘n kleinerige glas bakkie en voeg gelatien by kookwater en roer tot goed opgelos. Indien die gelatien nog korrelrig is plaas die bakkie in kookwater en roer dan tot opgelos. Jy kan wel dit in die mikrogolf doen maar die mengsel mag glad NIE kook nie. Letterlik 5 sekondes.

Voeg dan die suurlemoensap en mayonnaise by die gelatien en roer goed deur.

Plaas die snoek en room in mengbak en roer met 'n houtlepel tot glad. Voeg die roomkaas by en meng weer goed. Voeg die gelatien mengsel by en geur na smaak en meng deeglik.

Twee metodes van set:
a. Skep die vulsel in mooi glasies en stol vir 3 ure in yskas. Rond af met fyn avkado of gegeurde roomkaas of room.

b. Vorm: Spoel 'n vorm met koue water uit. Skep die mengsel in die vorm, smeer gelyk bo en plaas in yskas om te stol vir 3 ure. 

Om te ontvorm: Doop vadoek in baie warm water en droog uit. Vou oor agterkant van vorm vir 1 minuut en verwyder. Met ‘n dun punt groente messie, maak die kante van die vormpie liggies los. Breek die sëel deur aan die eenkant, terwyl die bakkie getilt is oor die bordjie, die messie in te druk en die vormpie sal uitgly op bordjie.

Bron: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za

Hoeveelheid: 4 - 6 porsies.

Feestelike Kalkoen

Kalkoen was nogal in die ou dae regtig ’n gereelde item op die spyskaart gewees. Maar namate die samelewing verstedelik het, het die gebruik van kalkoen ook minder geword. Ek dink met geboortebeperking het gesinne se getalle ook gekrimp en een hoender is genoeg om drie of vier te voed i.p.v. die span van 9 mense in die huis...net my gedagte daarop! Onthou ook dat die boere gemeenskappe baie gulhartig hul kos met verbygangers gedeel het en dit was sommer in ‘’n kits dat die voël geslag was.

Hierdie resep is geskik om op die spit of in die oond gaar gemaak te word. Vir die spit moet die kalkoen ook ten minste vir 3-6 ure gaar gemaak word en vir die eerste drie ure bedek met foelie...blink kant na buite. 

Vulsel
45 mℓ (3 e) botter
45 mℓ (3 e) olyfolie
3 seldery stingels, fyngekap met blare en al
1 medium grootte ui, gekap
250 g spek repies, gekap
250 mℓ (1 k) aftreksel (aangemaak en afgekoel)
125 mℓ (½ k) cranberries (geblik of vars)...asb moenie dit uitlaat nie...
2 k vars broodkrummels
2 e salie, gedroog (sage) tradisioneel so gebruik en werk heerlik saam met cranberries
Sout na smaak
Swart peper vars gemaal na smaak
1 ekstra groot eier

Braai die seldery, ui en spek in olyfolie en botter vir 10 minute tot deurskynend. Voeg die afgekoelde aftreksel by die uie mengsel. Roer in die pan totdat die mengsel afgekoel het.

Voeg die res van die bestanddele by en meng baie goed deur. Bind die kalkoen se bene toe sodat die holte toe as jy die vulsel in die keelgat afdruk. Jy kan dit ook andersom doen. Maak seker een-een van die twee gate toe is wanneer jy werk. Die nek kan net met tande stokkies toe gesteek word as jy klaar is. Maak seker beide kante is toe. Die vulsel sit uit as dit bak en dan stoot dit uit.

Smeer die kalkoen aan die buitekant met ‘n halwe koppie gesmelte botter, 5 e knoffel en een eetlepel paprika. Sout en peper na smaak. Maak toe met foelie en bak vir 6 ure by 150 .

Maak nou die Appelkoos sousie:
1 ½ k Appelkoos blatjang
½ k Appel asyn
1/2 t fyn knoffel
1 k Pan sous van die kalkoen

Kook alles saam vir 5 minute en bedien in mooi bekertjie.

Geniet!

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za

Hoeveelheid: Voed ‘’n nasie!

Sondag, 11 Desember 2016

Loopbeslag Skonsies

Ek wonder of hierdie skonsie nie dalk sy ontstaan gehad het weens geldelike nood en kosvoorrade wat min was in die ou dae. Ek het in my lewe al soveel variasies op hierdie veelsydige degie gesien dat dit my aan die dink gesit het. Onlangs met ‘n Koekverkoping by een van die Filistyne se skole, het ek hierdie worsie in ‘’n muffin gebak en in bakkies met tamatiesous bedien. Jy kan basies enige iets in die degie sit. Van goedkoop bestanddele, oorskiet vleis tot luukse kase!

Wat net ongelooflik is, is die feit dat die happie so maklik is om te maak. Min moeite. Kosblik happies, vingerhappies...

140 g (1 k) koekmeel
15 ml (1 e) bakpoeier
5 mℓ (1 t) sout
250 ml (1 k) melk
125 ml (½ k) sonneblom olie
2 eiers – geklits
12 gerookte rooiworsies in kwarte gesny

Voorverhit oond na 180 en berei mini kolwyntjie pannetjies met Koekepanne smeer voor.

Klits al die bestanddele saam tot glad. Giet in maatbeker met tuit om in die pannetjies te skink...

Giet die kolwyntjie pannetjies ongeveer ¾ vol en druk dan ‘’n worsie in die middel van die beslag.

Bak vir 10 – 15 minute tot gaar en gestol. Laat afkoel in pan en bedien met tamatiesous.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za

Hoeveelheid: 48 ongeveer

Gekraakte Sjokolade koekies

Hierdie is ‘n spoggerige koekie vir ‘n geskenkie om te gee en ook om voor te sit vir ’n spesiale gas. Een van die geheime van hierdie koekie is die feit dat dit eers verkoel moet word voordat dit gebak word. Die ander geheim is die mengsel van mielieblom en versiersuiker waarin die koekie gerol word voordat dit bak. Moenie in die versoeking kom om net versiersuiker te gebruik nie...die koekie deeg se bestanddele sal die suiker oplos en die wit van die versiersuiker verdwyn tydens die bakproses.

130 g (1 k) versiersuiker
120 g (1 k) mielieblom
200 g donker sjokolade
115 g (½ k) botter of bak margarien
115 g (½ k) strooisuiker
3 eiers
5 mℓ vanieljegeursel
280 g (2 k) koekmeel
25 g (¼ k) kakao
5 mℓ (1 t) bakpoeier
Knippie sout

Sif versiersuiker en mielieblom saam twee maal in ‘n diep bak en plaas eenkant.

Smelt sjokolade en botter in dubbelkoker oor lae hitte en roer gereeld totdat die mengsel gesmelt is. Verwyder van hitte. (Onthou die water onder in die kastrol wat as dubbelkoker gebruik word mag nie die bak wat in die kastrol hang raak nie. Die water mag ook nie borrelend kook nie, want as daar net een klein druppeltjie water in die sjokolade land, skif die mengsel en word een bol. Die proses kan nie omgekeer word nie.)

Roer die strooisuiker by die sjokolade mengsel in en hou aan roer totdat die suiker gesmelt het. Voeg die eiers een vir een by en klits deeglik na elke byvoeging. Voeg die vanieljegeursel by en meng weer goed deur.

Sif koekmeel, kakao, bakpoeier en sout saam. Vou by die sjokolade mengsel in en meng goed. Plaas houer net so in die yskas vir 30 minute om te verkoel.

Voorverhit oond na 160 en berei bakplate voor met Koekepanne smeer (loer op blog).

Haal die mengsel uit die yskas en skep 5 mℓ hopies uit en rol in balletjies. (Indien jy warm hande het, hou ’n bak met yswater eenkant om jou hande koud te maak). Plaas die gerolde balletjies in die versiersuiker mengsel en skud goed om die balletjies te bedek. Ek sit so 5 op ‘n keer in die bak. Plaas versigtig op bakplaat ongeveer 4cm uitmekaar. Die koekies sprei as dit bak.

Bak vir 10-15 minute totdat die koekies redelik hard en ferm is.

Lekkerste koekies ooit!

Bron: Annelien Pienaar, 2016, Bos en Berg gasteplaas.
Hoeveelheid: 50

Vrydag, 25 November 2016

Appelkooskonfyt

In die Suid-Afrikaanse kos kultuur is appelkooskonfyt seker die item wat die meeste in vele disse gebruik word. Dink aan jamtertjies, wildebeesogies of te wel lepelsteeltjies, konfyt skywe, tussen lagie met koeke, asynpoeding, gemmerkluitjies en die lys hou aan. Dus, moet elke huis ’n potjie appelkooskonfyt vir die wis en die onwis besit. Onthou dat wanneer appelkooskonfyt gekook word die kleur van die konfyt deur paar faktore bepaal word.

Hoe jonger die vrug, hoe ligter die konfyt. Hoe vinniger jy kook, hoe ligter die konfyt.

1 kg appelkose, halveer
750 g witsuiker
5 appelkoos pitte (in lappie verbind)
1 k water

Sprinkel die witsuiker oor die appelkose en pitte en laat oornag staan om vog te trek.

Volgende dag verhit die mengsel met die water baie stadig en roer aanhoudend. Was kante van die kastrol af en sodra die suiker opgelos het, kook baie vinnig totdat die mengsel verdik vir ongeveer 45 minute.

Bottel die appelkooskonfyt dadelik in gesteriliseerde warm flesse. Onthou om die pitte uit te haal.

Bron: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za

Maandag, 21 November 2016

Songedroogde Vye

Songedroogde vrugte en groente is so oud soos die berge en deesdae is ons geneig om meer gesond te wil leef en sonder preserveer middels te droog. Dus deel ek met julle my manier van songedroogde Vye.

Kies vrugte waarvan die boudjie gedeelte net begin sag word maar nie pap nie. 

Blansjeer die vrugte in kokende water van ongeveer 3 liter waarby 3 e vars suurlemoensap gevoeg is. Dompel die vrugte vir 1 minuut in en verwyder. Plaas op ’n drup rakkie en laat droog word. Jy kan vrugte heel of gehalveer droog. Grootte van vrugte bepaal ook die tempo waarteen die vrugte droog. 

Berei ’n sif voor om die vrugte in te droog. Ek gebruik ’n klerehanger wat van gaas gemaak is om die vrugte in te droog. Sien foto. Of jy kan ’n klere droog rakkie gebruik om panne bo-op te balanseer en dan met gaas toe te maak om gogga’s weg te hou. Of jy kan 'n dun garintjie deur die vye se stingels ryg en ophang, bedek met gaas en pennetjies.

Dag 1: Pak die afgedroogde vye opdroog rakke. Plaas buite waar dit lekker warm is en genoeg ventilasie. Onthou om dit saans in te bring om dou vry te spring.

Dag 2: Draai die vye om. Jy sal sien dat daar sousies uitdrup, dit is reg so, vee af, maak skoon. Herhaal dag 1-2 vir 7 dae. Teen dag 7 sal die vye minder taai wees en begin droog word. Die vye is gereed die oomblik dat dit geen taaiheid het. Pak in flesse met stukkies lourierblaar om gogga’s af te weer. Seel lugdig. Ek verkies om die vye te vries vir die duur van 12 maande.

Sien, geen preserveermiddels!

Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za

Gepekelde Vye met Balsamiese asyn

Ek het by ’n Lebanese vroutjie hierdie resep gekry. Omdat ons jaarliks baie vye het en ek nie tyd kry om alles te bottel en bere nie, word baie vye gedroog. Hierdie gedroogde vye vind dan hul pad na hierdie heerlike piekelagtige blatjang. Heerlik as smeer met kaasborde en dan ook vleis disse. Ek het onlangs dit saam met soutterte, quiches en sout kaaskoeke bedien...die gaste was gaande oor die kombinasie.

2 k gedroogde vye, grof gekap
2 k heel pekans, grof gekap
2 lourier blare
2 ster anys peule
3 e swart peper korrels
1 k sagte bruinsuiker, treacle sugar
½ k water
1 k pinotage
1 ½ k balsamiese asyn
6 e lemoensap konsentraat
½ t sout
1 e mielieblom (maizena)
3 e water om mielieblom in aan te maak

Plaas al die bestanddele behalwe die mielieblom en water in ’n diep kastrol. Verhit oor medium hitte en roer gereeld sodat die suiker kan oplos. Kook die mengsel totdat die vog met die helfte verminder het. Maak dan die mielieblom en water aan. Roer in die kokende mengsel in en kook verder vir 5 minute tot verdik.

Bottel warm.

Bron: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za

Hoeveelheid: 500 g



Kortrib met Tuisgemaakte Braai sout

Hierdie braai sout het vele gebruike en kortrib se grootste maat. Ek gebruik die sout resep ook in my wors en droëwors resepte. Loer gerus op die blog vir die resepte. Die sout maak ’n eie sousie en die geure is heerlik. Hierdie sout is ook 'n wonderlike Vadersdag of Manne geskenk!

1 kg kortrib skywe
250 mℓ (1 k) Woestersous sout
125 mℓ (½ k) Medium growwe sout
125 mℓ (½ k) Sagte bruinsuiker (treacle sugar)
125 mℓ (½ k) Koljander saad
½ t fyn naeltjies
½ t fyn gemmer
½ t fyn chillie poeier
2 t gerookte paprika (Cape Herb & Spice)
1 t rysmeel (voorkom klonte)

Rooster die koljander saad in ’n droë pan op die stoofplaat. Maal die sade daarna totdat dit medium grof is. Meng al die bestanddele, behalwe vleis saam. Stoor gegeurde sout in lugdigte houers.

Voorverhit oond na 150 en pak die kortrib skywe in die pan. Sprinkel met die gegeurde sout aan beide kante. Bak die vleis vir 3 ure. Geniet!

Hoeveelheid: 6 porsies.

Bron: Annelien Pienaar, Geskenke uit jou koskas reeks 2015, Klasse:boerekostwist@gmail.com





Dinsdag, 15 November 2016

Kersfees inspirasie vir Klein en Groot

In my familie is die gebruik om elke jaar vir Kersfees ornamente vir die kersboom te maak. Hierdie versierings is ook vir ons gaste 'n blykie van waardering en hulle mag 'n versiering van die boom neem. Dit is tradisie dat daar geen kommersiele geskenke gegee word nie. Die ouer wat vir sy kind 'n duur geskenk wil gee, kan dit tuis doen. By ons, is daar nie sulke stories nie. Samesyn, liefde, kers-sang, swem, buite speel tot die son weer opkom is wat ons deel.






















Maandag, 07 November 2016

Gestoofde Vrugte (Compote)

Gestoomde gedroogde vrugte is vir my ‘n heerlike bykos saam met ontbyt asook sekere soort nageregte soos roomys, wafels, pavlova...en die lysie hou nie op nie! My gewoonte is om die droëvrugte van my keuse eers oornag in rum gegeurde water te laat hidreer. Die volgende oggend is dit 10 minute se kook en voila!

500 g pruimedante (of enige van jou gunsteling gedroogde vrugte)
500 mℓ (2 k) kook water
1 kaneel stokkie of ster anys peul
5 mℓ rum geursel
100 g (½ k) sagte bruinsuiker (treacle sugar)
15 mℓ (heuning)

Plaas vrugte in vlekvrye staal kastrolletjie en voeg die kookwater, kaneelstokkie by en roer goed deur. Voeg die rum geursel laaste by. Laat oornag staan met deksel op. Indien jy nie oornag laat staan het nie, is ‘’n uur meer as genoeg vir hidrasie.

Verhit die vrugte met suiker en heuning, kook vir 10 minute tot sag en uitgeswel. Laat afkoel.

Vir my ontbyt happie wat ek gemaak het, het jy nodig:
500 mℓ Yoghurt van keuse
200 g Bessies van keuse (kersies gebruik)
500 g Meusli (resep op die blog)
1 takkie vars ment blare gekap
Eetbare blommetjies

Pak die vrugte in lagies net soos dit jou die dag pas...ek pak nooit die lagies dieselfde nie...so lekker speel en lekker eet. Onthou...jy kan dit saam met nageregte ook bedien.

Bron: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za, 2016
Hoeveelheid: 6 porsies



Maandag, 17 Oktober 2016

Waarom Sourdoughbrood eet?

Baie mense is op allerlei diëte vir allergieë en kinders word toenemend gediagnoseer met ADHD, ADD en my vraag is: Is Gluten of brood regtig die “culprit”? Ja, jy gaan my seker nou hard oor die vingers tik, maar lees eers my artikel voordat jy baklei. Ek erken dat mense allergies kan wees vir gluten, maar die persentasie allergiese reaksies kan verlaag en mense kan beter gediagnoseer word. Konstante kortisoon behandeling is glad nie gesond nie en het weer ‘n ander slegte uitwerking op jou liggaam. Verder is die ADD en ADHD medikasie inhiberend op kinders se groei en maak sommige kinders aggressief...alles omdat die industrie goed in ons kos gooi wat doodeenvoudig sleg is vir ons! Die FDA doen nie hul werk nie.

Kom ons begin by die begin en die spil waarom alles draai...die graankorrel en gluten. Wanneer die graankorrel in die landery groei, word dit aan omgewings elemente blootgestel soos mikro-organismes, in die vorm van skimmels en bakterieë. Hierdie mikro-organismes word vervoer na die verwerkings aanleg na afloop van die oesproses. Die graankorrel word deur die industrie op twee maniere verwerk naamlik die kommersiële- of natuurlike verwerkingsproses. Hier is dus waar die waterskeidings merk vir allergieë begin.

Kommersiële proses: die korrel se drie dele, kiem, endosperm en semel laag word geskei. Die endosperm word dan deur metaal rollers gerol en dit veroorsaak dat die meel warm word. Hierdie proses het strukturele veranderinge wat plaasvind t.o.v. proteïene en stysel. Daarna gaan die meel na ’n kamer waar dit dan deur chemiese middels soos peroksiede en bromate wit gekleur en ook gedroog word. Hierdie proses is ’n baie vinnige proses en meel se draai tyd is baie vinnig vir die kommersiële mark. Daarom dat die meel goedkoper is deur vinnige prosesse. Die kiem word nie met die wit meel verenig nie. Verder moet daar vir jou vraagtekens opkom oor hoekom daar gesê word dat ‘n produk verryk word. Hoekom moet dit verryk word, hoekom het dit verlore gegaan? Dieselfde geld vir winkelbrood...vol preserveermiddels wat ’n sneller is vir ADD en ADHD kinders. Ek praat hier uit ervaring! Wat gebeur in die bloedstroom as vreemde elemente dit betree? Witbloedselle (leukosiete) is soos soldaatjies. Ek noem hulle packman mannetjies waarvan elkeen se mondjie ’n ander vormpie is om die vreemde voorwerpe wat daarin pas te verwyder wat sleg is vir die liggaam. Goed, nou kom daar iets in wat daar nie voor ’n mannetjie is nie, dan gaan die liggaam en produseer teen die spoed van witlig antiliggame om die vreemde voorwerpe te  vernietig. Dit is hoe ‘’n allergiese reaksie gebeur! Jou DNA is nie gemaak om peroksiede en bromate te herken nie...dit is dus die outjies wat deel is van die probleem.   

Natuurlike proses: die korrel se drie lae word geskei. Die endosperm word teen ‘n lae spoed gemaal om friksie wat hitte opwek te minimaliseer en dus ook veranderinge in strukture te voorkom. Daarna word die kiem wat die voedsame deel is met vitamiene, olies en minerale teruggesit by die endosperm (wit deel). Dus is hierdie meel ook op ‘n normale manier verryk. Daarna lê die meel vir ’n wyle en suurstof word daardeur geblaas om oksidasie en verkleuring van die manier op ‘n natuurlike manier plaas. Hierdie is wel ‘n lang proses en kos duurder, maar gesonder by uitstek. Meeste van die grane in SA wat deur die verskillende meulenaars gebruik word, is gesertifiseer as G.M.O vry.

Wanneer ons sourdough doen gebruik ons glad nie kommersiële meel nie, omdat dit vol chemiese middels is wat die goeie mikro-organismes gaan dood. So moenie eers probeer om ‘n plantjie aan die gang te kry met kommersiële meel. Die plantjie wat gebruik word kan verskeie name kry soos Levain, Altus, Pate Fermente ens...beginsel vir almal is: meel en water word saamgemeng en is die omgewing waarin al die mikro-organismes sal intrek en dit sal laat fermenteer. Nou kyk ons dieper in hierdie proses. Die mikro-organismes wat intrek is hoofsaaklik Sacchromyces Verguus (giste) en Lacto Bacillus (bakterieë). Hierdie is die goeie mikroörganismes wat gebruik gaan word om die brood mee te rys. Dit is ook hierdie mikroörganismes wat voordelig is vir spysvertering en goeie ensiematiese werking bevorder.

Die proses van sourdough is een van geduld en tyd. As ons na die prosesse kyk is daar elemente wat mooi verstaan moet word wat gebeur in die meel. Wanneer water en meel saamgemeng word vind daar struktuur vorming plaas in die meel. Die proteïene gliadien en glutenien absorbeer water en vorm gluten. Hoe langer die deeg gelos word, hoe beter die bindings...hierdie proses word “autolyze” genoem en skakel ellelange knie prosesse uit. Gedurende die proses van autolyze word daar ’n ensiem met die naam “amylase” geaktiveer. Hierdie ensiem breek komplekse suikers in die stysel van die meel af, na eenvoudige suikers vir die mikroörganismes om te gebruik vir fermentasie. Hoe langer die proses hoe meer komplekse suikers word afgebreek en beter strukturele bande in die gluten word gevorm. Kan jy dus sien dat die kommersiële brode nie deur ’n lang proses gaan van brode produseer nie? Jou liggaam reageer baie meer positief op hierdie natuurlike prosesse.

Wanneer giste hierdie vereenvoudigde suikers verbruik word daar CO2 (koolstof dioksied gas) en alkohol (smaak komponent) vrygestel. Die bakterieë in die plantjie gebruik ook die vereenvoudigde suikers en stel ook CO2 vry maar lewer ’n suur in die vorm van Astetic- en melksuur. Hierdie suur is baie belangrik omdat dit ’n pH van die plantjie na voedsel veilig verlaag. ’n Veilige pH vir plantjies is pH 4.1. Indien jy nuuskierig is om te toets gebruik swembad strokies.

Nou is jy seker lekker deurmekaar en nie meer lus om die proses aan te pak nie. Dit is makliker as wat dit lyk. Die punt is jy moet eers verstaan wat in jou liggaam gaan gebeur as jy winkelbrood eet of sourdough brood. In die klas is daar die 10 gebooie van broodbak en as jy dit eers ken bak jy toe-oë sourdough brood. Onthou ons oumas het hierdie brood gebak en in hulle tyd het jy nie gehoor van enige gluten allergie en nonsens nie. Hulle het met plantjies gebak en die aand voor die tyd ingesuur. Dan vroegoggend deeg opgemaak en dan middag se tyd gebak. Sien, dit is nie veel anders as wat ek nou beskryf het nie, ons het vandag yskaste en die laaste rys kan gemanipuleer word...

So, kom kuier vir my en doen jou eerste Sourdough klas en maak ‘n belegging soos ek, in die gesondheid van jou hele gesin.

epos my by: boerekostwist@gmail.com


Bakkers vla of Crème Patisserie

Ons het met hierdie resep grootgeword as melktertpap. Min het ek geweet dit is Crème Patisserie totdat ek die dag verder gaan studeer het. Basies is dit ‘n eiervla wat verdik word met stysel en uitsluitlik met eiergeel gemaak word.

500 mℓ melk
6 ekstra groot eiergele (eierwitte kan gevries word, of gebruik word in Pavlova of meringues)
75 g (80 ml )(6 e) strooisuiker
20 g (45 mℓ) (3 e) mielieblom
25 g (45 mℓ) (3 e) koekmeel
5 mℓ (1 t) vanieljegeursel
15 ml (1 e) botter

Verhit melk totdat dit begin kook....wenk: smeer kastrol se bodem met olie om aanbrand te voorkom.

Klits eiergele en suiker saam tot liggeel en romerig vir ongeveer 5 minute. Voeg die mielieblom en koekmeel by en klits weer baie goed. Voeg kokende melk by mengsel en klits goed deur. Giet terug in kastrol en kook vir 10 minute terwyl jy roer tot gaar. Verwyder van hitte en giet in skoon bak.

Voeg vanieljegeursel en botter by. Klop tot glad. Plaas kleefplastiek opwarm vla en laat afkoel.

Gebruik om doppies, terte ens. te vul.

Bron: Annelien Pienaar, 2016, Patisserie klasse: boerekostwist@gmail.com

Hoeveelheid: 600 mℓ vla.


Maandag, 26 September 2016

Aartappel en Spek Gebak

Abraham Maas het hierdie heerlike resep van sy vriend met ons kom deel. Ek het dit gemaak en dit is regtig heerlik. Foto en resep behoort aan Abraham.

5 medium aartappels, geskil en in blokkies gesny, half gaargekook in sout water 
1 groot ui, gekap
15 mℓ (1 e) olyfolie
200 g (2 k) gerasperde cheddar kaas
5 stingels gekapte spruit uie
250 g spekvleis, gekap
1 blikkie Ideal melk 
½ blikkie gevul met melk
8 Jumbo eiers
sout en peper na smaak

Voorverhit oond na 180 en smeer ’n pyrex bak met botter uit.

Verhit die olyfolie en braai die aartappels tot ligbruin. Gooi die aartappels in voorbereide bak. Pak lae, uie, kaas en spek.

Meng die eiers, ideal melk, melk, sout en peper, giet oor gepakte lae. Sprinkel met spriet uie en bak by 180
vir 45-55 minute of totdat die mengsel gestol het. Laat afkoel vir 10 minute voor bediening.

Wenk: Jy kan die spek vervang met blokkies ham. Idealmilk kan met melk vervang word.

Bron: Abraham Maas vir Boerekos met ’n Twist, 2016.

Hoeveelheid: 12 skywe

Sondag, 28 Augustus 2016

Visvang ekskursies is nie vir sissies

 
 Geseënd is ek voorwaar. Drie wonderlike, welgeskape kinders in soveel opsigte. Persoonlikhede verskil soos dag by nag en so ook belangstellings. Ouboet is vreeslik ingestel op feite en lees baie wyd. Op die gebied van sport verkies hy ‘’n individuele sport i.p.v. ‘’n span sport. So sy keuse van sport is swem. Die middelste filistyn is weer een wat verkies om buite te wees en alle sport soorte onder die son te toets. Een wat ons nooit eens aan gedink het, was visvang. Die probleem is dat ons as ouers se opvatting van visvang nie ‘’n baie positiewe prentjie was nie. In ons dae was dit net “damduikers” met boep pense en bierblikke wat gaan visvang het om die dam. Regtig, nie ’n rooskleurige prentjie nie.

Daar kom die geleentheid by die skool vir die kinders om by ’n nuwe sport betrokke te raak. Wat besluit die kind, hy gaan ook visvang saam met die maters. Ek en my man het mekaar net so gekyk en gedink, hierdie gaan hopelik ’n stil dood sterf, want hierdie rooikop gevaarte van ons is nie mal oor vroeg opstaan nie. Gerat met ’n gehawende visstok wat die buurman vir ons leen gaan pappa en boeta na die eerste vergadering en sogenaamde klassie. Terug by die huis straal die knaap want hy het baie visse gevang. Goed, ons sal sien hoe lank dit hou. Wel, dit hou nog en hier begin die reis saam met sy provinsiale span. Ons was op ’n vlak waar die visvang by die skool net gegaan het oor wie se pappa die beste sy kind kan help om vis te ving...ja, ek dink ons as ouers is almal al deur die stryd.

Hier sit ek met die kind wat boeke verslind rakende vis spesies, knope en verskeie baie interessanthede. My kind wat nie wou lees nie, lees nou boeke wat in Engels is en my mond hang oop oor sy kennis. Ons besef die kind het talent en die skool ding werk nie, want die kinders kry nie die opleiding wat adverteer is nie. Op
’n dag ry ons Krugersdorp toe en verdwaal in ’n stegie en sonder dat ons visgerei gesoek het sien die rooikop die winkeltjie met vis goed in ’n baie swak gedeelte van die dorp. Ons stop en ek sien die lamlendige veiligheidshek en druk die knoppie en ons gaan in. Looks can be deceiving! Hierdie “gehawende” geboutjie huisves alle visvang dissiplines wat net van gedroom word. Daar is drie verdiepings met visgerei...’n Visserman se droom!

Vas sti is nie vir sissies!
Daar het die reis begin vir my kind. Ons ontmoet die voorsitter van die Sentraal Noordwes Vishengel span per toeval. Die man hoor hoe ek en die kind redeneer oor sy ram wat hy verkoop het se geld en die feit dat ek nie sal toelaat dat hy dit spandeer soos in die verlede. Hy moet kundige advies kry oor wat hy regtig nodig, want ek voel hy moet van die begin die regte belegging maak. Die man kom aangestap en stel hom net as Pieter voor en ek sien die vader wat praat in hom. Hy neem ons deur die winkel en verduidelik wat gaan vir wat en waar om eerste te begin. Ek maak lysies en neem kort video’s oor wat die man praat. Die man se passie is so begeesterend dit is ongelooflik. Hy nooi ons uit na ’n werkswinkel vir drie dae in die skool vakansie en stel voor ons koop nou niks. Hy sal ons help op die vakansie opleidingsessie. Die koeël is deur die kerk. Daardie volgende vakansie kry die kind die opleiding wat enige visserman oor kan droom. Supercast se manne kom help. Die span is ongelooflik georganiseerd en groot name in die hengel industrie kom maak die maters touwys. My kind blom, die inligting word in sy eie skrif neergepen en nie lank nie of hy kry span om vir die Penkoppe te vis. Die nasionale kompetisie is om die draai en die knapie oefen dat dit klap. Desember is dit SA’s.
Hey Dude!!! Al weer!!!

Die naweek is mamma en seun naweek, pappa is met die oudste filistyn en sussie met ander verpligtinge besig en die punte waar almal moet wees, vêr uitmekaar. Mamma reël die ander filistyne se akkommodasie en vergeet om akkommodasie in Oranjeville by die Vaaldam te reël en ons moet toe maar van Skeerpoort direk ry. Twee uur Saterdagoggend pak ons die bakkie en vat die lang pad. Dit is die eerste keer dat ek alleen so vêr in die nag ry en is maar skrikkerig. Pappa het ons op sy Tracker via satelliet en sien ons waar ons ry. Ons klim op die N3 en die bakkie se groot wiele sing op die teer. By Heidelberg begin die mistigheid, dit is baie erg, ek volg die karre se liggies. Ons bereik Villiers en die tannie met die stemmetjie sê ons moet nog verby. Ek luister natuurlik sonder om te dink en ons ry. By die volgende Villiers bord draai ons af. Ons ry, in ’n stadium verloor ons sein en bid, bid ry ek en pluk toe maar die padkaart uit.

By die volgende bordjie draai ek af op ’n baie lang grondpad, die mis is nou so erg dat jy skaars 2 meter voor jou kan sien! Ons ry stadig aan 25km grondpad. Ons kom weer op ‘’n teerpad uit wat Villiers regs wys en Oranjeville links. Ek besef toe die GPS was verkeerd, ek is tans op die pad wat ek eers moes gevat het. Ons ry soos die GPS punt wys. Ons kom by die punt aan en daar is geen pad van ‘’n dag oud nie. Ek sit moedeloos in die digte mis en donker nag en copy en paste maar weer die koördinate. Dit toon aan dat ek nog 77km het om te gaan en dit is aan die ander kant van die dam waar ek moet wees. Ek sit met ’n sinkende hart want, ek wou voor die tyd by die plek wees sodat iemand ons kan wys hoe om stroppe te maak.

So met die hart wat klop in die keel kom daar ‘’n voertuig stadig aangery en stop langs ons. ’n Luukse sedan en toe ek vinnig loer sien ek die man het ‘’n klompie visstokke langs sy sitplek en weet die persoon sal ons nie skade doen. Die man vra of ons reg is en ek vra hom of hy weet waar Moolman se visvang plek is. Hy sê dit is net paar meter terug aan die regterkant van die pad en die plek is op ‘’n boer se plaas. Ek dink by myself dat die GPS vervang moet word want ek gaan nie weer in sirkels ry nie. Ons draai om en volg die man. Ry deur die plaas hek en kom onder by die krale aan waar die hoofhek na die dam gesluit is. Ons sit so ’n paar minute en wag en Pieter, die groot indoena van S.NW. kom sluit oop en ry voor. Ons is nog steeds gehul in digte mis en jy kan nie enige bakens op die pad, of selfs paadjies sien nie, jy volg maar die manne.

In ’n stadium vang ons spoed en ry vinniger, ek voel aan die stuurwiel dat die pad meer sanderig word en draai die venster af om na die grond te kyk. So tussen die misbolle deur, voel dit of my oë my bedrieg, want dit lyk soos ’n moeras gebied en die vis karkasse lê oral gestrooi. Ek maak die rooikop wakker en vra hom of ek reg sien. Ek begin stadiger te ry in die konfooi van 4 voertuie waarvan ek heel agter is. My kennis van plaaslewe het my paar goed al geleer, as jy dik sand kry, ry met respek, as die sand begin nat word, is jy in ‘’n vlei. Ek begin nog stadiger te ry en my instink vertel my dat iets nie pluis is!

Die volgende oomblik speel soos ‘’n fliek voor my af, ewe skielik is daar ’n helder kol waar daar nie mistigheid is nie. Die voorste voertuig tref die water op ’n redelike vinnige spoed en dit lyk soos ‘n mini Tsunami golf wat oor die Landcruiser trek. Ek besef nie mooi wat aangaan. Ek stop dadelik en gooi lig op die probleem. Ek klim uit en tot in my enkels in water. Ek spring terug en weet ek moet nou dadelik uit die moeras. Trek agtertoe totdat ek ’n droë kol kry en klim uit en gaan vra of ek kan help. Die man met die luukse voertuig jaag soos ’n ridder op sy swart perd weg, spoorloos, en ons drie 4x4 voertuie staan met ons ligte na mekaar. By nadere ondersoek het Pieter in die Vaaldam ingery! Die sleepwa se gewig trek die agterwiele in die modder in en die bakkie lê op sy as vas.

Die tweede voertuig is ook ’n Landcruiser en so begin die tog om die ander Landcruiser uit te trek. Binne ’n japtrap is die Cruiser uit en ons beweeg versigtig. Wat ons toe nie besef nie, ons is letterlik in die maag van ’n kom en Pieter ry wraggies weer in die laaste been van die kom in, sit weer vas. So besef ek net hoe gevaarlik digte mis kan wees. Ek hou my afstand en bly verkieslik op die enigste klein stukkie droë grond. Ek klim uit om te voet te kyk hoe die terrein daarna uitsien. Ek besluit om die bekwame manne uit te los en self hoër op te karring tot ek iewers ’n teken van ’n pad sien. Na wat ’n ewigheid gevoel het, is ons op beter terrein en vind ’n pad. Klim uit en kyk na die spore en sien dit gaan in ’n noordelike rigting, stadig maar seker ry ons totdat ons by Moolman se gat kom en die ander mense kry.

Ons dag begin in aller yl en die spanne word ingedeel. Die kinders pak hul goedjies uit en die nodige aas word aangemaak. Ek skink tee vir ons twee en so in die koue sit ons tweetjies lag oor al die stres vanoggend. Vinnig help rooikop se spanmaat vir die dag, Tertius, hom om ‘’n paar stroppe te maak en nie lank nie of die twee knape kuier soos ou vriende. Die dag verloop lekker rustig en die mis verdwyn teen tienuur. Maar nou kom daar net een probleem...moeder het ’n piepie groter as die Vaaldam en geen toilet insig. Nie ’n bossie of ’n boom insig nie. Nee, niks! Wat de hel nou? Die dorp is seker so 45km vêr en die ergste is ek gaan nie dit maak om so vêr te ry nie. Heel benoud trippel ek rond en diskreet begin ek die dames vra of hulle wis van ’n plekkie? Hulle lag so dat die trane loop. Die eerste dame vra my of dit my eerste keer hier is...wel, hulle het my natuurlik na die tyd lekker verpes. My inisiasie as nuwe toe treder moeder tot visvang is ingewy. Eenkant in ’n tent met ‘n draagbare toilet vir die dames en...wel...ek was vreeslik dankbaar oor daardie primitiewe en effektiewe bostoilet!

Met daardie krisis uit die weggeruim kom ek terug by die twee vissermanne en ek kan duidelik sien die rooikop se moer meter is deur die dak. As sy lippe so dun opmekaar gedruk is, weet ek hier is moleste. Ek het nie lank om te wonder wat die storie is nie. Die een groot geheim van visvang is die feit dat jy so reguit en sekuur as moontlik moet gooi. Maar eish...die knapie langsaan het nie ’n idee van cast. Hy gooi so skeef dat 6 lyne op ’n slag gekoek word. So hou dit aan vir ’n paar uur, nie een keer kom die man om sy gemors met die ander vissermanne reg te maak. Die kind het die koddigste lyfie en ’n attitude wat stink. Hy hengel op sy eie en blykbaar was die pa besig om by die seniors sy eie kompetisie te vang...seker maak gedink hy kan ons kom pla as wat dit sy probleem gaan wees. Dit het soos ’n Leon Schuster fliek gevoel, elke keer as rooikop en sy maat hul nuwe lyne gelaai het in ingegooi het, doen die knaap mos ook so. Dit is asof die kinders se merkers waar hul ingooi, vir hom ’n magiese aantrekkingskrag het. Hy gooi mooi dwars oor hul lyne. Dan sien hy die kinders kyk hom skeef aan en dan doen hy nog die ergste, hy trek weer sylyn uit en trek hul goed saam. Do het dit aangehou en aangehou, totdat die een senior seun besluit het, tot hier toe en nie vêrder nie!

Hy het die kind se lyne gesny en sy stokke konfiskeer. Hom opdrag gegee met die verduideliking in boere Engels: “This is not on man, you are going to get klapped so hard, you will cry for your mother!” Die kind het onder toesig kolgooi geoefen.

Die knaap staan kop onderstebo en die junior vat sy stokke en laat hom langs hom staan en hy moet kolgooi oefen. Dit is vir my die mooi van die sport, daar is nie die hengse wen motief soos met rugby nie, almal help almal. Daarna het die kinders so ’n uur nog lekker vis getrek en ons het nog ’n klas of twee tussendeur gehad.


Soos die Ingelsman sou sê: “I am hooked!”