Woensdag, 30 Desember 2015

KETELGEBRAAIDE UIE

Ek het al male sonder tal gesit en droom oor geregte waar in ek hierdie uie kan gebruik. So sit ek en dink aan sout groente as bykosse met hierdie krakerige uie bo-op gesprinkel. Of as ‘n bros bolaag vir slaaie of deel van ‘n vulsel vir ‘n heerlike kouevleis toebie, vervang crutons met die bros uie, risotto, viskoekies, poffertjies! Die lys hou net aan. Wat is jou gunsteling gebruik?

Wat vir my wonderlik is van hierdie uie, jy kan dit vir ongeveer 3 maande in jou yskas hou en dit bly heerlik. In my huis verdwyn dit soos die lekkergoed en koekies in die spens, spoorloos!


RESEP
2 Uie, groot - in eweredige dikte gesny (2 mm)
1 k Karringmelk
1 k Koekmeel (kan met maizena of chickpea meel vervang word vir gluten allergie)
1 k Mielieblom (maizena / cornstarch)
1 t Gerookte paprika of gewoon
1 t Sout
¼ t Neut muskaat (nutmeg)
½ t Bakpoeier
Olie vir braai

METODE

1. Plaas die gesnyde uie ringe in die karringmelk vir ten minste 4 - 12 ure.

2. Meng die res van die bestanddele saam en sif goed deur sodat alle bestanddele goed deur gemeng is. 


3. 
Verwyder klein hoeveelhede uie uit die karringmelk, skud eksta vog af en plaas in die meel mengsel, bedek goed met die meel. Alternatiewelik, plaas meel in sakkie en skud die uie in die meel. Baie belangrik laat die uie eers vir 'n uur staan voordat dit gebraai word sodat die meel nie af gaan nie. Oornag is nog beter.

4.
Voorverhit olie. Plaas genoeg olie in die kastrol sodat die uie goed bedek word. 

5. Braai klein hoeveelhede op ‘n slag sodat dit nie aan mekaar vas sit nie. Plaas op dreineringspapier en laat afkoel. Plaas in lugdigte houer en hou in die yskas.


6. Die meel kan gesif word en gestoor word vir latere gebruik vir nog ‘n baksel oor ‘n week of wat.


HOEVEELHEID: 2 - 4 porsies.


BRON: Annelien Pienaar, 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking