Dinsdag, 15 Desember 2015

SON GEDROOGDE TAMATIES

Hierdie is so maklik om self te maak en dit is baie goedkoper as wat jy dink. Preserveer die klaar produk in gegeurde olie en jy het 'n smaak ontploffing soos min. Ek gebruik dit in risotto, pasta, patee, pesto, gevulde brode en vele meer vorme. Verder dien dit ook as 'n pragtige geskenkie vir 'n vriendin, kollega of iemand wat dit net baie sal waardeer. 

Jy het twee keuses hoe jy die eind produk kan stoor. Jy kan dit in olie sit wat langer sal hou of jy kan dit onbedek in 'n lugdigte houer in die vrieskas bêre vir maande. Waarom wag, kom ons begin!

Die projek is geispireer deur tannie Lili Dreyer en Akkedis Viljoen het toe die hele storie verder geneem en die resep gemaak en vir ons gefotografeer. Dankie beide dit is pragtige werk en idees!!

RESEP
2 kg Roma tamaties - gehalveer - sap en sade verwyder
30 ml Sout - fyn
30 ml Bruin suiker
750 ml Olie van keuse - genoeg om die tamaties te bedek
30 ml Kruie van keuse - op die foto is roosmaryn gebruik

METODE

1. Skep al die sap en sade uit die tamatietjies uit en plaas met gesnyde kante na bo op 'n bakplaat.

2. Sprinkel die sout en bruinsuiker oor die tamaties en droog vir 7 ure by 90 ˚ C. Die tamaties sal krimp en verrimpeld lyk.

3. Laat die tamaties baie goed afkoel voordat dit verpak word. Plaas die tamaties in 'n gesteriliseerde fles en vul met olie aan. Jy kan 1 knoffeltoontjie per botteltjie insit asook takkies vars kruie.


Of verpak in lugdigte houer met 'n knippie rys meel om die vog te absorbeer en plaas in yskas of vrieskas.

BRON: Annelien Pienaar, Lili Dreyer, Akkedis Viljoen, 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking