Woensdag, 16 Desember 2015

JY HET 'N WENRESEP ERVARING

Ek mag nie uitpraat oor die dinge wat binne die ateljee gebeur het nie, maar ek kan vir julle ‘n ongelooflike storie van vriendskap vertel...Daleen Lotter van Schalkwyk is ook 'n Boerekos met 'n Twist lid!

Ek klim die vliegtuig op Lanseria net voor 05:00 die maandag oggend en vlieg Kaapstad toe. Ek het nog nooit alleen met ‘n gehuurde kar rond gerits in die Kaap nie, maar het in die jaar deur werk wat ek moes gaan doen het, wel myself georiënteer en my pad gevind. Met die verfilming van my dis moes ons self al die bestanddele verskaf en is toe fort na al wat ‘n winkel om my kruideniers te kry. Die dag om gekry deur vriende te sien, op die strand te stap (roomys en vis en chips geëet) en toe by my skoon familie in Stellenbosch net agter Spier gaan afpak vir die volgende dag. My skoonsus is ‘n mediese dokter en sy het die vorige aand gespoed en was moeg, dus is ons almal vroeg bed toe. 


Die volgende oggend pak ek my goedjies, bakkies, lepels, borde, bestanddele en ry vroeg oggend na Spier. Daar gekom was dit ‘n hele pakkaas wat ek moet dra, die ateljee is ver. Kom by die plekkie aan en twee dames sit op die stoep. Ek vra of ek op die regte plek is en hulle beaam dit is reg. Loop die derde keer en uitasem sit ek op die stoep se muurtjie. Ek vra toe of hulle deel is van die kamera span en hulle lag, nee ons is hier vir Wenresepte. Ohhh okey, ons gesêls te heerlik oor ons disse, min weet ek en Daleen (een van die deelnemers) dat dit ‘n kompetisie is. Ons word by mekaar geroep en sit op die stoep om papiere in te vul wat sê ons mag nie uitpraat, as ek dit so kan stel. Maar daar op die papier staan dit, deelnemers,  kompetisie...??? Ek en Daleen kyk na mekaar en beide se oë wys groot vraag tekens? 


Die knapie wat die papiere gebring het: ”Oooo, weet julle nie dat dit ‘n kompetisie is nie?” Goed, my gedagtes was nie vriendelik. Ek aanvaar my lot, ek het ver gevlieg en baie moeite gedoen. Ons drie dames besluit toe om kleedkamer toe te gaan. Terwyl ons hande was vra Daleen vir my: “Maar ek ken jou mos?” Ek sê wie ek is en sy vra of ek van BKT is. Mense wag, dit word nog beter! Hierdie einste Daleen is die vrou wie se kuiertjie ek by my gastehuis gemis het. Ons het toe sy in my area was met vakansie, ‘n paar keer by mekaar probeer uitkom vir kuier. Elke keer was ek of in die dorp met die kinders se aktiwiteite of sy was iewers aan die kuier met haar sussies. Ons het al soos twee ou vriendinne op FB gêsels en gedroom oor ons ontmoeting eendag. Daleen is wraggies ‘n baas bakster en as ek luister en ook sien die fenominale hoeveelheid koeke wat sy per week bak, dan weet ek nie hoe sy staande bly. Ons twee omhels mekaar toe ons besef wie voor mekaar staan! Arme Tamara se wind skoon uit haar seile! Daleen het nog baie talente soos om grimering te doen. Dit is nou die een deparement wat ek NIE mee goed is nie. Ek het skoon vergeet om grimering aan te sit en sy het gou-gou my gehelp dat ek nie soos ‘n indiaan lyk nie! Nee, daar was geen slegte vibes op die stel van kompetrendheid nie, ek en Daleen was oopkop en het te lekker gegiggel die heeltyd!


So het ons die dag om gekuier en laat ek vir julle vertel, ek is nie TV materiaal nie. Die goed wat ek moes sê of die reëltjies wat ek moes oor sê, wel, ek dink die produser wou my aanrand, want ek kon niks onthou nie. Ek het op ‘n stadium seker een rëeltjie 10 keer oor moes doen en dit was net flippen 6 woorde! Nee, dit was ‘n lang en moeilike dag. Ons het 20:30 klaar gemaak en almal was vodde moeg. Al die mense op die stel wat dit vir ‘n lewe doen en Carmen wat die heeltyd moet smile, wel ek het nuwe respek vir elke storie wat op TV kom. Dit is nie grappies nie! Was lekker gewees om die binne werke van dinge te sien, hoe georden die span is, elkeen weet presies wat om te doen, waar om te staan. Die klankman was die beste! Hy kom ook van Harties af dus het ons lekker geklets oor ons geweste. Daarom gee ek nie 5 sterre vir die span nie maar 10 uit 10 vir ‘n goed geoliede masjien!


Ek het met ‘n prys weg gestap, ’n pakkie met Huisgenoot se puik boeke en wel, my vrees oorwin om alleen te reis, en Daleen ontmoet! Die tog was toe die moeite werd!


Dankie Huisgenoot vir die geleentheid!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking