Dinsdag, 15 Desember 2015

GEDROOGDE SAMPIOENE

Vir my persoonlik is daar niks so lekker om altyd 'n vol spens te hê nie. Die gedagte aan gedroogde sampioene laat jou seker frons...maar raai wat, dit is 'n ryk bron van fosfor en selinium wat weer goed is vir jou brein en ook jou beendigtheid. Ek koop direk by die sampioen plaas my sampioene en droog dan so 10 kg op 'n keer sodat ek my bottels kan vul. Soms as ek die sampioene te lank gedroog het, dan maal ek dit fyn in 'n poeier. Veral vir kinders wat nie lief is vir snaakse groente is die poeier nogal 'n maklike plan as jy soppe en souse berei. 

RESEP
Enige hoeveelheid van enige soort sampioene
Indien jy knopie sampioene gebruik, sny dit nie dikker as 3 mm
Sout vir sprinkel (gegeurde sout is ook heerlik)

METODE

1. Vee die sampioene met 'n lappie skoon, moenie die sampioene in water week nie. Die sampioene sal te veel vog absorbeer en dan droog die sampioene veels te lank.

2. Sprinkel sout oor soos wat jy oor jou kos sou strooi. Die sout is higroskopies, dit sal altyd kompeteer vir water om homself op te los en onttrek dus die vog vinniger uit die sampioen. Indien jy 'n hartlyer is, kan die sout uitgelaat word. 


3. Droog die sampioene tussen 90 ˚ C en 110 ˚ C. Indien jy 'n waaier oond het is 90 ˚ C perfek en dit lug droog nogal vinnig. Dus kan die uitdroog enige iets van 2 - 5 ure neem.


BRON: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za, 2015.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking