Woensdag, 23 Desember 2015

DADEL BLOKKIES MET 'N TWIST!

As kind het ek niks van dadels in die algemeen gehou nie. Ek dink ek het dit iewers geëet en dit was nie mooi sag gemaak voordat dit gebruik is nie. Maar toe trou ek met ‘n man wie se Ma die heerlikste blokkies maak! Nooit ‘n resep van haar gevra nie, want sy het ons altyd met dit oorlaai. Na haar dood het die skoon sussies haar boeke weg en ek het nooit die geleentheid gekry of die vrymoedigheid om vir die resep te vra nie. So sit ek eendag en blaai deur ‘n ou handgeskrewe boekie van my Ma en sien ‘n soortgelyke resep wat vir my sin maak. So begin ek mos ook die dadel vingers maak. Ek het geskaaf en skuur aan die tekstuur totdat ek dit soos ouma Ria se resep kon kry. 

Onlangs besluit ek mos om gou weer blokkies vir die seuns te maak want dit is vakansie tyd en dit is ‘n geswem en speel, as hulle uit die swembad kom is hulle rasend lus vir ‘n soetigheidjie. MMMhhh een probleem ek het net 1 pakkie Marie koekies en weet as ek die resep halveer dit nie lank genoeg gaan hou nie. Die waaghals in my steek nek uit en gooi to Rice krispies in.Wel, die kinders was so vol lof dat ek self ook eers moes proe. Jip, ek sal dit nooit weer die resep sonder die Rice krispies maak nie. Dit is voorwaar ‘n wenresep! 


RESEP
500 g Rama of Stork bake
1 kg Versiersuiker
500 g Dadels - gekap
60 ml Kakao (opsioneel)
2 ml Kaneel
160 g Klapper
4 Eiers
10 ml Vanielje geursel
¼ t Sout
250 g Marie koekies - grof gekap
150 g Rice krispies

*Indien jy nie die Rice krispie weergawe wil maak nie, gebruik 400 g Marie koekies. 


METODE

1. Smelt die botter en versiersuiker oor lae hitte, dit moenie kook nie.

2. Voeg die dadels, kakao, kaneel, klapper by die mengsel en kook vir 3 - 5 minute saam oor medium hitte.


3. Klits die eiers, vanielje en sout saam en voeg by die gekookte mengsel. Moenie bang wees dat die eiers sal skif nie, dit klits perfek deur sonder om te skei.


4. Voeg die koekies en rice krispies by en meng goed deur. Plaas in ‘n gesmeerde pan wat goed gesprinkel is met ekstra klapper sodat die koekies maklik kan uitkom. Die mates van my groot beskuit pan is 30 cm x 45 cm pan en druk plat in pan en laat eers buite afkoel. Daarna sny in vingers binne in die pan. Plaas in yskas om verder te set voordat jy die blokkies skei en dan in ‘n bak met lae waspapier pak. Hou in die yskas of vrieskas. 


5. In die vrieskas hou die blokkies maande!


HOEVEELHEID: 100 blokkies.


BRON: Annelien Pienaar se verwerking van my ma Hantie Bezuidenhout se resep, 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking