Maandag, 21 Desember 2015

BEESTONG MET SOETSUURSOUS

Beestong kan op ‘n verskeidenheid maniere voorberei word. Eerstens kan dit gekook word, tweedens kan dit gepekel word  of as ‘n gepekeld en gekook aangebied word. Verder kan dit ook in die oond gebak word en dan my gunsteling, die stoompot! Bedien met my ma se soet rosyntjie mosterdsousie dan is die Kaap Hollands!

Om die tong se velletjie makliker te verwyder help die pekeling ook nogal baie. Die suur in die vorm van koeksoda en kremetart maak die velletjie bros en dit trek met die hulp van sout aan jou vingerpunte dan makliker af. Die sout op jou nat vingerpunte gee net beter greep op die klein stukkies wat so glibberig is. Ek ontvel vis ook op hierdie wyse. Vir die tong begin van agter na voor met die aftrek. Ek trek ook ligte snytjies deur die vel oor die lengte van die tong en dan trek ek die velle in repe af. Dit is belangrik dat die velletjie dadelik terwyl die tong nog warm is afgetrek word. As dit eers koud geword het gaan jy regtig sukkel en die helfte van die tong weg sny.


GEPEKELDE BEESTONG
500 g Growwe sout
30 g Koeksoda 
15 g Kremetart
1 liter Water
Peperkorrels na smaak
500 g Sagte bruinsuiker
5 Knoffel toontjies - grof gekap
1 Beestong - kliere en are verwyder

METODE

1. Kook die water en gooi dit oor al die bestanddele en laat dit dan afkoel. Syg deur sif of kaasdoek.

2. Vryf die tong met ekstra sout goed in en sit dit dan in die koue soutoplossing vir 3 dae. Onthou om die tong in ‘n houer te sit wat nie met die suur en die sout sal reageer nie. Dus plastiek, enamel of glas. Sit ‘n bord op die tong met ‘n gewig soos ‘n 750 ml tot 1 kg bottel met water om die tong onder die sout oplossing te hou. Onthou: Die sout gaan deur die tong geabsorbeer word en vog gaan uit die tong getrek word, dus word die waterige sout oplossing flouer elke dag. Roer asb ten minste een keer per dag die sout water sodat die sout eweredig versprei kan word. Dit is nie nodig om die sout oplossing aan te vul nie. Maar roer asb goed. Draai die tong elke dag.


GEKOOKTE OF GEPEKELDE BEESTONG

5 Knoffel toontjies - heel
1 Groot ui - grof gekap

METODE

1. Spoel die tong eers baie goed af. Week die tong dan vir 1 uur lank in vars koue water.

2. Kook die tong in koue water met die knoffel en ui vir 3 - 4 ure totdat dit sag is. Of jy kan die tong in die drukkoker vir 45 minut stoom totdat dit sag is.


3. Trek die tong se velletjie af terwyl dit nog warm is. Sodra die velletjie verwyder is laat die tong mooi reguit koud word en stut dit indien nodig met koekrollers weerskante of enige iets wat dit sal reguit hou. Sny in skyfies en bedien met sousie.


ROSYNTJIE SOUS VIR TONG

200 g Sagter bruinsuiker
2 t Mosterd poeier
2 e Mielieblom
4 e Suurlemoensap
1 t Suurlemoenskil (opsioneel as jy nie vars suurlemoen het nie)
3 k Water
4 e Asyn
1 k Rosyntjies

METODE

1. Meng die suiker, mosterd en mielieblom saam en voeg die res van die bestanddele by en meng goed deur sodat die mielieblom goed opgelos het en nie klonte sal maak nie.

2. Plaas die bestanddele in ‘n vlekvrye staal kastrol en verhit oor medium hitte en roer aanhoudend met draad klitser totdat die mengsel verdik het. Kook dan vir 3-5 minute deeglik deur.


3. Bedien die sous koud of warm.


BRON: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za, 2015.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking