Vrydag, 04 Desember 2015

AARTAPPELSEEP VAN MEV TULLEKEN

Aartappel seep met hawersemels, heuning en honeysuckle
Vir ons boek voorlesing van ons resepte bende het ek hierdie eienaardige reseppie nogal vreeslik interessant gevind. Ek self die seep probeer maak en regtig met stampe en stote by ‘n redelike eindproduk uitgekom. Ek was effens haastig om te loer en het nie lank genoeg gewag dat die seep kan “uitdroog” nie.

Ek kan nog nie agterkom of die seep ‘n verskil maak met die aartappel in nie, dit is net effens growwerig. Dit was nogal ‘n interessante storie om die vet en die vormpie in die hande te kry. Ek het baie plankies in die stoor ontdek van ‘n kasbou projek van my en toe klein skarniertjies gaan koop om die vormpie soos ‘n botter vormpie te maak wat aan die een kant kan oop swaai. Anders weet ek nie hoe ek die storie sou uit kry sonder om die seep te breek of kraak. Later besef ek maar ek het mos baie leë bakkies en kon dit ook ingespan het!

Die tekstuur van die seep laat my amper aan Parmesaan kaas dink. Vrek hard maar krummelrig. Ek gee vir julle die oorspronklike resep net so...ek het bietjie bos gegaan met die tweede maaksel en het lanolien, jojoba olie en laventel (my gunsteling blom) met die blom en al ingesnipper. Hier moet jy maar eie oordeel gebruik...ek het een helfte van die konkoksie hawersemels en ook papawersaad ingesit...dit skuur nogal voete en hande heerlik. Dan kon ek natuurlik ook nie geskikte kleursel kry nie en het toe 'n oliebasis kleursel by die koekversier afdeling gekoop. Dit moet verkieslik 'n ligte kleur wees. Verder het ek ook al heuning en ook bruinsuiker net voordat die mengsel so dik word soos styf geklopte room die suiker ingemeng om nie uit te sak nie, ook 'n wonderlike skrop vir growwe plekke op die lyf, wonder of dit vir harde koejawels ook sal werk?

RESEP
10 pond aartappels (met skille gekook, die skille afgetrek as dit gaar is en in die vleismeultjie gemaal). 10 pond vet, 2 pond seepsoda, 4 ½ bottels water. Gooi nou die aartappels in die pot en voeg 2 ½ bottels water by; roer oor die vuur totdat dit ‘n gladde, romerige massa is, omtrent 10 minute vandat dit begin te kook. Neem van die vuur af; laat afkoel, voeg die gesmelte vet by (warm, maar nie kokend nie). Roer baie goed, voeg nou die loog stadig by, roer nog 10 minute, gooi uit in ‘n kissie met ‘n nat kamerdoek uitgevoer. Sny die volgende dag groot stene uit, dit droog baie weg, maar skuim pragtig.

OPMERKING
Soos julle kan sien is die resep nie te gebruikers vriendelik nie. Ek het met die intrapslag lekker gesukkel met die vet gedeelte. Ek het nooit besef die vet moet eers uitgekook word, dan gesuiwer word voordat dit gebruik kan wordnie anders het jy gaar stukkies vleis in jou seep! Ek het nooit besef wat my Ma en Ouma Kit gedoen het, nou na al die jare het ek baie groot “respekte” vir hulle hande werk. Ek het onlangs nog op ‘n stukkie boerseep van die jare 90 afgekom en dit het net so lekker geskuim soos toener tyd!

BRON: Mev Tulleken se Die praktiese kookboek vir Suid Afrika. 1922.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking