Donderdag, 31 Desember 2015

YSKOFFIE

Rista Greyvenstein het vir my haar dogter se yskoffie resep gestuur. Ek het dit gemaak en dit is ongelooflik lekker. Veral in die versengende hitte van hierdie somer seisoen is dit regtig ‘n welkome lafenis! Baie dankie vir die deel van die resep!

RESEP
25 ml Espresso of
30 ml Sterk swart koffie
200 ml Melk
3 scoops Vanielje roomys (1 k)
4 - 5 Ysblokkies - kap fyn in voedsel verwerker
room vir versiering

METODE

1. Voeg al die bestanddele in ‘n voedsel verwerker en meng tot ‘n gladde konsistensie.

2. Gooi in verkoelde glase en versier met room en sjokolade splinters.


NOTA: Vries oorskiet koffie van die perkuleerder in ysbakkies om in die mengsel te gebruik ipv gewone ysblokkies. Hang af van hoe sterk jy van jou koffie geur hou.


HOEVEELHEID: 1 porsie.


BRON: Rista Greyvenstein en Juney Greyvenstein, 2015.


Donderdag, 17 Desember 2015

RYS SLAAI

Ek is baie lief vir enige vorm van slaai, koud of warm. Ek geniet my slaaie as ‘n bykos, hoofmaal of kosblik bykos maar slaai is daar tenminste een keer per dag op ons borde. Hierdie slaai kan verder op getower word met die byvoeging  van 1 k bestanddele ekstra of deel die koppie op soos bv: ½ k blokkies kaas met ½ k ham, spek of wat ook al. ‘n Rukkie gelede was ek weg met werk en my man het die slaai gemaak en die vorige aand se braaivleis wors in wieletjies in gesny. My kinders het gedink dit is koningskos. Geniet 

RESEP
2 k Rou rys - Tastic se wit rys of Bruin rys
2 Soetrissies - fyn gekap
2 Knoffeltoontjies - fyn gedruk
1 Medium ui - grof gekap
20 ml Olie
½ Blikkie mielie pitte
20 ml Kerrie poeier
2 x 410 g Blikkies perskes - gedreineer en grof gekap
Sout en peper na smaak

METODE

1. Ek vind dat Tastic rys nie pap kook nie en beter werk vir hierdie slaai. Kook die rys in soutwater totdat dit gaar is en laat goed afkoel. 

2. Braai die ui en  soetrissie totdat dit gaar is. Voeg die knoffel en kierrie by en braai weer vir 1 minuut om die geure te laat ontwikkel.


3. Meng die res van die bestanddele met die rys en verkoel tot en met opdiening.


SOUS
300 ml Mayonnaise
200 ml Room
1 e Heuning

METODE 

Meng alles goed deur en gooi oor net voor opdiening. Indien haastig kan alles saam gemeng word en so in die yskas geplaas word.

GARNERING - OPSIONEEL  

Vars spriet uie
2 e Vars rooi ui - gekap
2 e Neute van keuse

BRON: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za


Woensdag, 16 Desember 2015

JY HET 'N WENRESEP ERVARING

Ek mag nie uitpraat oor die dinge wat binne die ateljee gebeur het nie, maar ek kan vir julle ‘n ongelooflike storie van vriendskap vertel...Daleen Lotter van Schalkwyk is ook 'n Boerekos met 'n Twist lid!

Ek klim die vliegtuig op Lanseria net voor 05:00 die maandag oggend en vlieg Kaapstad toe. Ek het nog nooit alleen met ‘n gehuurde kar rond gerits in die Kaap nie, maar het in die jaar deur werk wat ek moes gaan doen het, wel myself georiënteer en my pad gevind. Met die verfilming van my dis moes ons self al die bestanddele verskaf en is toe fort na al wat ‘n winkel om my kruideniers te kry. Die dag om gekry deur vriende te sien, op die strand te stap (roomys en vis en chips geëet) en toe by my skoon familie in Stellenbosch net agter Spier gaan afpak vir die volgende dag. My skoonsus is ‘n mediese dokter en sy het die vorige aand gespoed en was moeg, dus is ons almal vroeg bed toe. 


Die volgende oggend pak ek my goedjies, bakkies, lepels, borde, bestanddele en ry vroeg oggend na Spier. Daar gekom was dit ‘n hele pakkaas wat ek moet dra, die ateljee is ver. Kom by die plekkie aan en twee dames sit op die stoep. Ek vra of ek op die regte plek is en hulle beaam dit is reg. Loop die derde keer en uitasem sit ek op die stoep se muurtjie. Ek vra toe of hulle deel is van die kamera span en hulle lag, nee ons is hier vir Wenresepte. Ohhh okey, ons gesêls te heerlik oor ons disse, min weet ek en Daleen (een van die deelnemers) dat dit ‘n kompetisie is. Ons word by mekaar geroep en sit op die stoep om papiere in te vul wat sê ons mag nie uitpraat, as ek dit so kan stel. Maar daar op die papier staan dit, deelnemers,  kompetisie...??? Ek en Daleen kyk na mekaar en beide se oë wys groot vraag tekens? 


Die knapie wat die papiere gebring het: ”Oooo, weet julle nie dat dit ‘n kompetisie is nie?” Goed, my gedagtes was nie vriendelik. Ek aanvaar my lot, ek het ver gevlieg en baie moeite gedoen. Ons drie dames besluit toe om kleedkamer toe te gaan. Terwyl ons hande was vra Daleen vir my: “Maar ek ken jou mos?” Ek sê wie ek is en sy vra of ek van BKT is. Mense wag, dit word nog beter! Hierdie einste Daleen is die vrou wie se kuiertjie ek by my gastehuis gemis het. Ons het toe sy in my area was met vakansie, ‘n paar keer by mekaar probeer uitkom vir kuier. Elke keer was ek of in die dorp met die kinders se aktiwiteite of sy was iewers aan die kuier met haar sussies. Ons het al soos twee ou vriendinne op FB gêsels en gedroom oor ons ontmoeting eendag. Daleen is wraggies ‘n baas bakster en as ek luister en ook sien die fenominale hoeveelheid koeke wat sy per week bak, dan weet ek nie hoe sy staande bly. Ons twee omhels mekaar toe ons besef wie voor mekaar staan! Arme Tamara se wind skoon uit haar seile! Daleen het nog baie talente soos om grimering te doen. Dit is nou die een deparement wat ek NIE mee goed is nie. Ek het skoon vergeet om grimering aan te sit en sy het gou-gou my gehelp dat ek nie soos ‘n indiaan lyk nie! Nee, daar was geen slegte vibes op die stel van kompetrendheid nie, ek en Daleen was oopkop en het te lekker gegiggel die heeltyd!


So het ons die dag om gekuier en laat ek vir julle vertel, ek is nie TV materiaal nie. Die goed wat ek moes sê of die reëltjies wat ek moes oor sê, wel, ek dink die produser wou my aanrand, want ek kon niks onthou nie. Ek het op ‘n stadium seker een rëeltjie 10 keer oor moes doen en dit was net flippen 6 woorde! Nee, dit was ‘n lang en moeilike dag. Ons het 20:30 klaar gemaak en almal was vodde moeg. Al die mense op die stel wat dit vir ‘n lewe doen en Carmen wat die heeltyd moet smile, wel ek het nuwe respek vir elke storie wat op TV kom. Dit is nie grappies nie! Was lekker gewees om die binne werke van dinge te sien, hoe georden die span is, elkeen weet presies wat om te doen, waar om te staan. Die klankman was die beste! Hy kom ook van Harties af dus het ons lekker geklets oor ons geweste. Daarom gee ek nie 5 sterre vir die span nie maar 10 uit 10 vir ‘n goed geoliede masjien!


Ek het met ‘n prys weg gestap, ’n pakkie met Huisgenoot se puik boeke en wel, my vrees oorwin om alleen te reis, en Daleen ontmoet! Die tog was toe die moeite werd!


Dankie Huisgenoot vir die geleentheid!

Dinsdag, 15 Desember 2015

WIT EN DONKER SJOKOLADE TRUFFELS

Indien jy iemand lekker wil bederf met hierdie dekadente en sysagte sjokolade bederfies, dan is jy by die regte resep!

RESEP
125 g Donker of wit sjokolade van keuse - grof gekap
50 g wit Malvalekkers - klein op gesnipper
110 g Ideal melk
125 g Wit suiker
15 ml Rum - enige alkhol sal werk soos Amarula ens
60 g Glans kersies vir die middel
125 g Sjokolade vir die doop van die truffels OF jy kan die balletjies rol in kakao en ook versiersuiker

METODE
1. Plaas die Ideal melk in ‘n kastrolletjie met die suiker en laat die suiker oor lae hitte smelt voordat dit gekook word. Kook dan die mengsel totdat dit net wil kleur verander.

2. Voeg dan die sjokolade en malvalekkers by en laat dit oor die lae hitte smelt. Sodra die mengsel glad is voeg die alkhol by. Laat die mengsel tot kamer temperatuur afkoel voordat jy bolletjies rol.


3. As dit ‘n baie warm dag is plaas eers die mengsel in die yskas om effens te set, maar nie heeltemal nie.


4. Rol 15 ml balletjies en plaas op koue bord en bedek en plaas in die yskas en laat goed hard word. Hier kan jy dan besluit of jy ‘n kersie in die middel wil sit. Ek het onlangs gemarineerde pruimedant halwes in die kerne gesit en ook heerlik gewees. Gekristaliseerde gemmer stukke is ook heerlik. Speel lekker met jou kombinasies.


5. Smelt die sjokolade sodra die balletjies deur koud is. Druk ‘n sosatie stokkie diep in die balletjie in en doop in die sjokolade. Neem jou staan rasper en druk elke stokkie in die gaatjies van die growwe kant in om die balletjies te laat set voordat jy dit afhaal. Jy kan ook jou kolander vir dieselfde doel gebruik. As jy die balletjie afhaal bedek dan die gaatjies met ‘n teen oorgestelde kleur van die sjokolade deur die agter kant van die sostatie stokkie in die sjokolade te sit en dan net ‘n kolletjie oor die gaagtjie te druk. Sommer mooi op getooi.


HOEVEELHEID: Ongeveer 30.


BRON: Annelien Pienaar, 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za



MURGPAMPOENTJIE EN BRIE SOP

Hierdie sop is om van huistoe te verlang. Ek het al menige gas se smaak kliere aan die dans gesit met hierdie kombinasie van geure.

RESEP
1 Bossie preie - haar fyn ringetjies (leeks)
600 g Murgpampoentjies (baby marrow of zuchinni)  in wieletjies - kan geskil word vir 'n ligter kleur
1 Medium ui - opgekap in fyn blokkies
50 g Botter
500 ml Hoender aftreksel
750 ml Melk
250 ml Room
170 g Brie
10 ml Dill tippies

METODE

1. Braai die preie, ui en murgpampoentjies saam tot sag. Puree hierdie mengsel tot baie fyn en glad. Jy kan hier bietjie melk byvoeg om die mengsel makliker te laat puree. Ongeveer 100 ml. Plaas die mengsel terug in die kastrol.

2. Voeg nou die vloeistowwe (behalwe room) by en al die ander geur middels en meng goed deur in die kastrol oor medium hitte. Laaste krummel die brie in die mengsel in en meng baie goed. Plaas weer op die plaat en maak goed warm. Meng die room net voor opdiening by. 


3. Omdat die sop reeds aftreksel in kry wat sout is stel ek voor proe en pas die sout en peper aan na smaak. 


4. Bedien met volkoring tuisgebakte broodjie.


HOEVEELHEID: 6 - 8 porsies.


BRON: Annelien Pienaar, 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za


ROQUEFORT EN PORT BALLETJIES


Ek het op hierdie wonderlike reseppie van my Moeder afgekom. Sy het elke jaar vir my Pa se werksmense wat kom kuier het hierdie duur happie saam met drankies gemaak. Keurig en met skop!

RESEP
200 g Rosyne of pruimedante - ontpit en fyn opgekap en dan geweek oornag in Port of sjerrie, dit moet genoeg wees om die mengsel te bedek.
250 g Roquefort kaas
100 g Pistasio neute - gedop en fyn gekap
100 g Pekans of amandels

METODE

1. Dreineer die druiwe en meng met die kaas goed deur. Laat eers weer in die yskas set voordat bolletjies gerol word.

2. Omdat die kaas ‘n baie sterk smaak het maak ek net 5 ml balletjies op ‘n keer en rol dit dan in die gekapte neute. Die pistasio neute gee ‘n pragtige groen kleur aan die balletjies. Dus kan jy lekker met die verskillende kleure neute speel. Onlangs het ek met sesam saad en papawersaad gewerk om dat die neute uit voorraad was. Biltong is ook heerlik en gee ook variasie in kleur soos op die foto.


3. Hou die balletjies verkoel en bedien saam met bretzel stokkies en geroosterde brood skyfies soos bruchetta.


HOEVEELHEID: 30 - 40 balletjies afhangend hoe hoog jy jou 5 ml meet!


BRON: Annlien Pienaar, 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za



SON GEDROOGDE TAMATIES

Hierdie is so maklik om self te maak en dit is baie goedkoper as wat jy dink. Preserveer die klaar produk in gegeurde olie en jy het 'n smaak ontploffing soos min. Ek gebruik dit in risotto, pasta, patee, pesto, gevulde brode en vele meer vorme. Verder dien dit ook as 'n pragtige geskenkie vir 'n vriendin, kollega of iemand wat dit net baie sal waardeer. 

Jy het twee keuses hoe jy die eind produk kan stoor. Jy kan dit in olie sit wat langer sal hou of jy kan dit onbedek in 'n lugdigte houer in die vrieskas bêre vir maande. Waarom wag, kom ons begin!

Die projek is geispireer deur tannie Lili Dreyer en Akkedis Viljoen het toe die hele storie verder geneem en die resep gemaak en vir ons gefotografeer. Dankie beide dit is pragtige werk en idees!!

RESEP
2 kg Roma tamaties - gehalveer - sap en sade verwyder
30 ml Sout - fyn
30 ml Bruin suiker
750 ml Olie van keuse - genoeg om die tamaties te bedek
30 ml Kruie van keuse - op die foto is roosmaryn gebruik

METODE

1. Skep al die sap en sade uit die tamatietjies uit en plaas met gesnyde kante na bo op 'n bakplaat.

2. Sprinkel die sout en bruinsuiker oor die tamaties en droog vir 7 ure by 90 ˚ C. Die tamaties sal krimp en verrimpeld lyk.

3. Laat die tamaties baie goed afkoel voordat dit verpak word. Plaas die tamaties in 'n gesteriliseerde fles en vul met olie aan. Jy kan 1 knoffeltoontjie per botteltjie insit asook takkies vars kruie.


Of verpak in lugdigte houer met 'n knippie rys meel om die vog te absorbeer en plaas in yskas of vrieskas.

BRON: Annelien Pienaar, Lili Dreyer, Akkedis Viljoen, 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za

Sondag, 13 Desember 2015

GEKOOKTE MAYONNAISE

Hierdie is my gunsteling mayo om in die huis te hê. Geen preserveermiddels en kunsmatige bestanddele wat sleg is vir ons gesondheid. Die kleur van die mayo word bepaal deur die eiergeel. Hierdie mayonnaise is so bleek weens die eiers wat ek by 'n grootmaat handelaar gekoop het en ek vermoed die arme hoendertjies se kos was meer mielies en gemors as wat dit "free range was".

RESEP
12 Eiers
30 ml Mosterd poeier
300 g Witsuiker
40 ml Maizena
500 ml Wit asyn
1.25 liter Water
12.5 ml Sout
Peper na smaak

METODE

1. Klits die eiers en water saam.

2. Maak met die res van die bestanddele ‘n pasta aan.


3. Meng dan al die bestanddele saam en gebruik een van jou beste kastrolle wat nie kan aanbrand nie. Verhit die mengsel oor stadige hitte vir 5 - 10 minute totdat dit verdik het met ‘n draadklitser. 



                                                                              OF

4. Verhit die mengsel in die mikrogolfoond en stop elke minuut en roer goed deur met elke stop. 

Ek verkies vir alle souse om ‘n draadklitser te gebruik om die sous perfek glad te kry.

5. Bottel en hou in die yskas.


HOEVEELHEID: 2.5 liter.


BRON: Annelien Pienaar, 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za




Woensdag, 09 Desember 2015

DIE EMMER EN DIE VRY

Gewoonlik is ek die bekkige een met ‘n kwinkslag altyd gereed maar vir ‘n bekkige tiener, maar vir die ene het ek nie woorde voor gehad nie!

Ons het  as tieners en jong studente ons lewens skielik met wesies moes deel. Ek het met ouers groot geword wat beide laat lammetjies was en baie jonk sonder ouers was. Hul deur en harte was altyd oop vir al wat ‘n afvlerk siel. So kom hierdie twee seuns in ons lewens in deur ouers wat nie vir hulle kan sorg nie en hulle is tieners. Dit was nie aldag maklik met die kinders nie en veral in die begin tye met die jongste enetjie wat maar nukkerig was.


Ons was drie dogters en my Pa het soveel geduld met die seuns gehad, dat ons soms verbaas gestaan het. Drie dogters en my Ma in een huis was nie aldag maklik nie. Die jongste seun het in die begin baie gesukkel om kos binne te hou van wee die erge wanvoeding wat hulle beleef het. Beide was geraamtes gewees. Ek het self vir die knapies baie lief geword. Ek was toe ‘n student en het so elke tweede naweek plaas toe gegaan. Ek het my naweke om gekry deur hulle wiskunde en wetenskap te verduidelik by my Ma se ou ronde eetkamer tafel. In die week moes my Ma, wat goed was met die rekeningkunde gedeelte, inspring en vure doodslaan. Die kinders het goed aangegaan en mooi deur hul skool loopbaan gewoeker. Met baie aanmoediging het hulle in tegniese rigtings gekwalifiseer en is Pappa’s wat vandag mooi na hulle gesinne omsien.


Wat ek eintlik wil vertel....Met die jongste bulletjie se matriek afskeid het ek hom vreeslik geterg oor sy lengte. Omdat hy van kleintyd so ondervoed was, het hy belemmerde groei gehad en dus baie kort en ook klein vir sy ouderdom. As ek nou so terug dink, vermoed ek fetale alkohol sindroom het hier dalk wel ‘n rol gespeel. Ons gesprek het begin by sy keuse van meisie vir die afskeid. Sy het bene tot onder haar arms en die tweetjies was vreeslik danig met mekaar. 


So sit ons weer by die ronde tafel en werk terwyl ek sy werk merk. Ek vra hom skertsend met ‘n glinster in die oog: “Renier, hoe gaan jy by kom om hierdie meisiekind ‘n lekker soen te gee?”. Eers kyk hy my so skeef aan en vra: “Weet jy ons het al gesoen?” Van skok trek ek een merk deur die werk wat effens lyk soos ‘n pyl wat sy teiken mis! Ek hou my “pose” en vra toe tergend, maar ook bekommerd oor die antwoord wat ek gaan kry: “Jy het seker op Ma se blikemmer gestaan om by te kom vir die soen!” Hy lag uit sy maag en reken toe: “Het jy nog nooit op die gras lê en vry nie?”. Wel, ek het gehoes en proes van die skrik, skok en lag so deur mekaar. My pen neergesit en hom aangestaar. “Nou toe, wat is jy so stil?” was die knaap se vraag. Ek antwoord hom met:”Het Ma al met jou gepraat oor die bye en blomme?” Renier was bloedrooi in die gesig en net so sydelings gemompel:”Ja, ek is nie meer ‘n kind nie!” 


Wel, so leer mens, tieners kan soms die wind behoorlik uit jou seile haal!


Maandag, 07 Desember 2015

MARSHMELLOW FLUFF VERSIERSEL


Hes Snyders het kom spog met hierdie resep van haar en werk wonderlik vinnig. Daar kom nie marshmellows in die beslag soos van die lede gevra het nie. Die tekstuur is soort gelyk aan marshmellows. Hierdie is die basis vir die Italian en Swiss meringue versiersel, dit kry net nie botter in nie. Die tegniek wat gebruik word om die versiersel te maak behels ‘n dubbelkoker. Wanneer ‘n mens ‘n dubbel koker sisteem gebruik is daar ‘n paar aspekte wat jy vir eers moet op let om te verseker dat jou eindproduk suksesvol sal wees. Jou bak waarin jy die mengsel gaan klits wat oor die pot kokende water gaan hang, mag nie aan die water raak nie. Die water moet ook nie so vinnig kook dat die stoom en water in die mengsel sal ingaan nie. Matige hitte verkieslik. Die bak wat gebruik word moet van glas of metaal wees. Verder het Hes gesê jy moet perfek afmeet, dit is een van die maak of breek dinge. Kom ons begin.

RESEP
1½ k Suiker (300 g)
⅓ k Water (83 g)
2 Eierwitte (large eiers)
¼ t Kremetart (cream of tartar)
Vanielje of geursel na smaak
Kleursel na smaak

METODE
1. Meng al die bestanddele in die mengbak saam en mbv ‘n draadklitser klits die mengsel oor vinnig kokende water en klits vir 7 - 10 minute totdat die mengsel dik en wit word. Ek is sterk in my arms, dus stel ek voor as jy nie wil sukkel gebruik maar ‘n elektriese klitser vir die werkie. Tydens hierdie klits proses sal die mengsel soos ‘n meringue word en die suiker sal ook heeltemal opgelos wees teen die tyd wat dit gereed is.

2. Verwyder van hitte en voeg die geursel en kleursel by en klits goed sodat die mengsel afkoel en ook smeerbaar word.

3. Genoeg versiersel vir ‘n dubbel laag koek of 12 kolwyntjies

BRON: Hes Snyders, internet, 2015

BAYERSE APFELSTRUDEL

Ek is bevoorreg om ‘n skoonsus te hê wat ‘n stoere Duitser is. Sy kook net eg Duitse disse in haar huis. Ek het met elke kuiertjie in Stellenbosch nog net die heerlikste disse geëet. Terwyl ek eendag besig is om my huis reg te pak en bietjie my resepte boeke van lank na kort pak val my oog op ‘n resepte boek wat Christa vir my gegee het as ‘n troupersent. Die boek is uniek in die sin dat dit oop blaaie het waarop jy jou eie resepte per afdeling kan inskryf. So met die deur blaai kom ek af op ‘n juweel van ‘n resep wat sy nog van haar Moeder gekry het wat sy as troupersent vir my neer geskryf het. Ek moet skandelik erken dat ek nooit die resep gesien het nie, want die boek het ek net so in sy houertjie op die boekrak bewaar vir eendag. Nooit deur geblaai nie, nie eens een van my eie resepte in geskryf nie omdat die blaaie so pragtig is. En natuurlik skryf ek soos ‘n krap en wil nie die boek ontsier nie, my gedagte was om resepte mooi te tik en dan in te plak, 19 jaar later, nog steeds nie gedoen nie!

Hierdie resep is regtig ‘n liefdes taak want dit verg baie geduld en passie. Die deeg word eers geknie en dan laat rus vir so 4 - 6 ure sodat die gluten raamwerk kan vorm en die deeg super sag word. Daarna word die deeg op ‘n laken wat met broodmeel bestrooi is gerol en dan verder met die hand gerek sodat dit so dun soos papier word. Jy moet letterlik jou koerant daardeur kan lees. Die vulsels word dan opgesit en dan word die rol deur die oplig van die laken bygestaan. Bak en geniet! 


Hierdie resep is vir 4 persone en is ‘n groot genoeg stukkie deeg om op te oefen. Later as jy goed gekonfyt is, wel dan maak jy groter volumes deeg.


RESEP
VULSEL
5 Granny Smit appels met 15 ml suurlemoensap oor vir verbruining te stop - dun skyfies
4 e Rosyne vorige dag in rum geursel geweek of alkhol van keuse
5 ml Kaneel
5 e Sagte bruinsuiker (treacle)
100 g Botter - gesmelt

METODE

1. Meng die appels en rosyne saam en sprinkel die kaneel oor.

DEEG

125 g Witbrood meel
1 Eier
2 - 3 e Water
1 e Olie
1 t Asyn

METODE

1. Plaas al die bestanddele in ‘n voedsel verwerker en meng vir 30 sekondes totdat die deeg ‘n bal in die bak vorm. As jy nie ‘n voedsel verwerker het nie, kan alles met die hand gemeng word soos met gewone brood deeg wat geknie word. Die deeg moet sag en hanteerbaar wees, nie hard nie. Dit moet maklik kan knie. Knie die deeg op een van twee maniere. Jy kan die deeg slaan teen die toonbank vir ongeveer 100 keer om gluten te ontwikkel of knie met die hand vir 10 minute. 
Laat die deeg dan vir 4 - 6 ure rus om sy sag te word.

2. Hierdie is ‘n proses waar jy maar baie geduldig moet wees. Plaas ‘n laken op ‘n tafel en sprinkel met ekstra broodmeel. Plaas die deeg in die middel van die tafel op die laken. Trek die deeg in ‘n effense reghoek so groot soos ‘n A4 papier. Plaas olie op die deeg en begin die deeg verder in ‘n reghoek uit te rol totdat dit ongeveer 1 cm dik is. Sit die rolstok weg en lig nou die deeg met die hande op. Begin om in die middel van die deeg die naaste aan jou lyf saggies te strek, dan gaan jy weer na bo en doen ook so met die kante. Dit neem tyd om die deeg so te trek, wees geduldig en werk maar net reg rondom en trek. Lig die deeg ook gereeld op sodat jy kan sien waar die deeg dik vertoon en rek dit uit deur jou hand onder in te sit en saggies te strek. Jy sal sien dat die randte effens dikker gaan wees, moenie kommer dit word later afgesny voordat die rol werk gedoen word. Toets of die deeg dun genoeg is deur ‘n koerant onder te sit en jy daar deur kan lees. Dan is die deeg dun genoeg.


3. Sny nou die randte van die deeg af en sprinkel die deeg met die gesmelte botter. Moenie die botter probeer smeer met ‘n kwassie op die dun deeg nie. Dit gaan skeur. Dus stel ek voor om sagkens met jou vingers die botter op te smeer. Sprei die appels, rosyne, amandels oor die deeg, sprinkel die suiker en kaneel oor. Vou die een punt van die oor soos mens met ‘n rolkoek sal maak...lig dan die laken op om die deeg te rol. Sny die punte van die deeg ongeveer 5 cm van die vulsel af en druk mooi netjies onder in. Plaas die rol op ‘n gesmeerde bakplaat met die naat na ondertoe. Bestryk met ekstra gesemelte botter net voordat dit gebak word.

4. Bak vir 35 - 60 minute by 170 ˚C en tot goudbruin. Indien die deeg te bruin word kan jy foelie met die blink kant na buite op plaas om die hitte weg te reflekteer.

5. Bedien met styf geklopte room en sprinkel versiersuiker op die rol voor opdiening.

BRON: Dr. Christa Domesle Pienaar, 1995, www.bosenbergguestfarm.co.za

Vrydag, 04 Desember 2015

AARTAPPELSEEP VAN MEV TULLEKEN

Aartappel seep met hawersemels, heuning en honeysuckle
Vir ons boek voorlesing van ons resepte bende het ek hierdie eienaardige reseppie nogal vreeslik interessant gevind. Ek self die seep probeer maak en regtig met stampe en stote by ‘n redelike eindproduk uitgekom. Ek was effens haastig om te loer en het nie lank genoeg gewag dat die seep kan “uitdroog” nie.

Ek kan nog nie agterkom of die seep ‘n verskil maak met die aartappel in nie, dit is net effens growwerig. Dit was nogal ‘n interessante storie om die vet en die vormpie in die hande te kry. Ek het baie plankies in die stoor ontdek van ‘n kasbou projek van my en toe klein skarniertjies gaan koop om die vormpie soos ‘n botter vormpie te maak wat aan die een kant kan oop swaai. Anders weet ek nie hoe ek die storie sou uit kry sonder om die seep te breek of kraak. Later besef ek maar ek het mos baie leë bakkies en kon dit ook ingespan het!

Die tekstuur van die seep laat my amper aan Parmesaan kaas dink. Vrek hard maar krummelrig. Ek gee vir julle die oorspronklike resep net so...ek het bietjie bos gegaan met die tweede maaksel en het lanolien, jojoba olie en laventel (my gunsteling blom) met die blom en al ingesnipper. Hier moet jy maar eie oordeel gebruik...ek het een helfte van die konkoksie hawersemels en ook papawersaad ingesit...dit skuur nogal voete en hande heerlik. Dan kon ek natuurlik ook nie geskikte kleursel kry nie en het toe 'n oliebasis kleursel by die koekversier afdeling gekoop. Dit moet verkieslik 'n ligte kleur wees. Verder het ek ook al heuning en ook bruinsuiker net voordat die mengsel so dik word soos styf geklopte room die suiker ingemeng om nie uit te sak nie, ook 'n wonderlike skrop vir growwe plekke op die lyf, wonder of dit vir harde koejawels ook sal werk?

RESEP
10 pond aartappels (met skille gekook, die skille afgetrek as dit gaar is en in die vleismeultjie gemaal). 10 pond vet, 2 pond seepsoda, 4 ½ bottels water. Gooi nou die aartappels in die pot en voeg 2 ½ bottels water by; roer oor die vuur totdat dit ‘n gladde, romerige massa is, omtrent 10 minute vandat dit begin te kook. Neem van die vuur af; laat afkoel, voeg die gesmelte vet by (warm, maar nie kokend nie). Roer baie goed, voeg nou die loog stadig by, roer nog 10 minute, gooi uit in ‘n kissie met ‘n nat kamerdoek uitgevoer. Sny die volgende dag groot stene uit, dit droog baie weg, maar skuim pragtig.

OPMERKING
Soos julle kan sien is die resep nie te gebruikers vriendelik nie. Ek het met die intrapslag lekker gesukkel met die vet gedeelte. Ek het nooit besef die vet moet eers uitgekook word, dan gesuiwer word voordat dit gebruik kan wordnie anders het jy gaar stukkies vleis in jou seep! Ek het nooit besef wat my Ma en Ouma Kit gedoen het, nou na al die jare het ek baie groot “respekte” vir hulle hande werk. Ek het onlangs nog op ‘n stukkie boerseep van die jare 90 afgekom en dit het net so lekker geskuim soos toener tyd!

BRON: Mev Tulleken se Die praktiese kookboek vir Suid Afrika. 1922.

Woensdag, 02 Desember 2015

KROEK MET BESTANDDELE SOOS SUIKER.

Ek glo dit het al menige keer met ons almal gebeur dat jy wil bak en dan kort jy 'n bestanddeel? 

Wel ek gaan die sluier so bietjie lig rondom suiker. Onlangs het  ek die vraag gekry om suiker met strooisuiker te vervang. Die persoon het nie mooi aangedui in watter resep die suiker gebruik gaan word en ek sal dus die vraag in die algemeen beantwoord.


Suiker in fyngebak gee kleur, smaak en het 'n invloed op die tekstuur van die eindproduk. Wanneer mens na sponskoeke en meringues (skuimpies) kyk word meeste van die resepte deesdae geskryf met strooisuiker in. Hoekom? Wel die strooisuiker is baie fyner in tekstuur en klits baie vinniger. Tydens die klits proses moet die suiker kristalle baie fyn opgelos word en dit is waar jy effens tyd bespaar deur die gewone suiker met strooisuiker te vervang. Jy moet tydens die klits proses bietjie van die mengsel tussen jou vingers vryf om te voel of al die suiker opgelos het. Anders is dit klits en nogmaals klits totdat al die kristalle opgelos het. Indien jy dit nie doen nie sal die finale produk 'n growwe en sanderige tekstuur op die tande hê. Onthou in die ou dae was daar nie die luukse van strooisuiker nie. Dus moes die tante's nogal met gewone handklitsers baie hard werk om die gewenste resultate te kry.


Maar jy moet nou onthou dat strooisuiker nie so soet is soos gewone suiker en jy moet dus effens meer in jou mengsel ingooi. Of anders om minder suiker as jy andersom werk. Ek het my eie formule met die jare saam uitgewerk vir die vervanging. 


1 k suiker = 1 k strooisuiker +
 k strooisuiker ekstra

1 k wit suiker = 200 g
1 k strooisuiker = 210 g
1 k bruin en geel suiker = 200 g

Lekker werk.

Dinsdag, 01 Desember 2015

CUPPACHINO CHOC-CHIP KOEKIES

Hierdie resep bak ek oor en oor met my kinders gedurende die vakansies. Veral die kleiner kindertjies geniet die tyd in die kombuis en is selfs bereid om skottelgoed te was en “opruim-tyd” te doen. ‘n Heerlike gesins projekkie. 

Ek vervang die sjokolade splinters met neute of helfte van beide in die koekie se basiese resep. Indien jy ‘n groot koffie liefhebber is en hou van die bitter smaak van koffie bone, kan koffie bone grof gekap en ook in die beslag gebruik word...ek stel voor so 1 e is genoeg anders word die koekie te bitter. Hoop julle speel lekker met die resep!


RESEP
560 g Koekmeel
60 g Mielieblom (maizena)
470 g Sagte botter
140 g Sagte bruinsuiker
150 ml Kitskoffie - Douwe Egberts aangemaak in 50 ml kook water - afgekoel
150 g Choc chips
Ekstra sjokolade splinters - koffiebone om mee te versier
Karamel sjokolade om oor te smelt

METODE

1. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit. Voorverhit die oond tot 160 ° C. 

2. Sif die koekmeel en mielieblom saam in ’n groot mengbak vir twee keer.


3. Room die botter en suiker tot lig en donsig. Meng die koffie deur. Daarna die sjokolade splinters. 


4. Meng dan die koekmeel by en moenie te veel meng. 

5. Gebruik nou ‘n 15 ml maatlepeltjie en meet die deeg af.  Rol 'n bolletjie en druk effens plat. 

Druk ’n pekan nueut/koffieboon of versiering van keuse liggies bo-op elke koekie en sit vir sowat 1 uur in die yskas, bedek met kleef plastiek.  Koekies wat eers verkoel word voordat dit bak se vette bak nie uit nie en die koekie kom mooi bros uit.

6. Bak die koekies vir 25 minute tot mooi ligbruin en bros. Laat afkoel. Bêre in ‘n lugdigte houer.


HOEVEELHEID: 100 koekies.


BRON: Annelien Pienaar, 2015, vir Bos en Berg gasteplaas.