Woensdag, 11 November 2015

SLAPDEEG VETKOEK

Hierdie vetkoekies is gemaak met mielies
Op ‘n dag kry ek ‘n inbus van Christo de Beer en hy vra vir die Boerekos met ‘n Twist se epos adres (boerekostwist@gmail.com). Dit neem ‘n wyle voordat ek weer van hom hoor. Maar toe hy kontak maak stuur hy vir my ‘n magdom wonderlike resepte van sy Moeder en van reise deur die wêreld heen aan. 

Ek het stelselmatig deur die arsenaal gewerk en ek dink Christo se Ma kon kook. 

Ek dink haar resepte is vir die gewone mens toeganklik, bekostigbaar en eenvoudig sonder fieterjasies! 

Baie dankie Christo dat jy jou Moeder se pêrels van wysheid met die BKT lede kom deel het!


RESEP
3 k Koekmeelblom (420 g)
1 t Sout
6 t Suiker (25 g)
10 ml Kitsgis
2 k Louwarm water (500ml)

METODE
1. Sif sout en koekmeelblom saam en strooi suiker en kitsgis oor en meng liggies.

2. Voeg water by en meng tot gladde loperige deeg.

3. Bedek die mengsel met olie gesmeerde plastiek en laat ongeveer 1 uur op ‘n warmplek rys tot dubbel in volume.

4. Skep lepelsvol in warm olie en braai tot goudbruin.

VARIASIE 
Indien verkies kan 'n blikkie room mielies met gebraaide spek of 'n handvol gerasperde kaas by gerysde deeg bygevoeg word.

ANNELIEN SE TWIST
Doop blomkool blommetjies of enige groente, worsies of kaas in die beslag en bak dit so.
Dit is voorwaar heerlik en bros, die kinders sal mal wees daaroor.

BRON: Christo de Beer, Pretoria, 2015.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking