Woensdag, 25 November 2015

PEPSI EN SY DINGE!

Pepsi, 2009
Onlangs gaan stap ek en my man deur ons boord en wat sien ek bo in die boom? 
Een van my perde se lungelines. Dit is basies ‘n lang sterk tou waarmee jy die perd werk tydens oefensessies en ook bad, dip en algemene versorging. Nee, hulle bind tou is te grof om takke wat swaar is te stut, so nou word al my ou perde toerusting aangewend vir allerlei plaas instandhouding.

Veeldoelige Lungeline!
As ek dink hoe daardie einste tou een van my kinders se Welsh cobs (ponie van so 13 hand) se nonsens uit hom gewerk het. Sy naam was Pepsi en vrek stout! Hy was super intelligent, kon deure vir al die ander perde oopmaak, die skape aangejaag huistoe as dit slapenstyd word en die ganse se eiers geëet! Hy het vir my soos 'n stout tiener seun gelyk , wie se hare altyd in sy gesig hang in sulke slierte en wind verwaai. Sy stert het op die grond gehang en as dit tyd word vir sny het die knaap ons laat bontstaan! Want die geluid van die geritsel van die skêr het hom baie vies gemaak. Jy kon jou vingers in sy ore steek, sy stert oplig, onder hom deur kruip, agter hom staan, inspuit, orale ontwurming toedien, bom proof...maar die skêr en hy was nie maats! Hy was sterk gebou, laat is sy lewe reg gemaak en daarom die groot sterk nek. Hy was vet voordat ons hom aan 'n ryskool vir outistiese kinders geskenk het. In 'n ring was hy 'n engel vanself...maar in die oopte...wel dit was 'n storie van sy eie!

Die dag toe ons vir Pepsi kry...wel het hy letterlik al my jare se kennis van perde werk en inbreek getoets tot die vlak wat ek hom wou skiet! Op ‘n dag sukkel ek weer met sy saal. Hy het ‘n kort rug en ‘n vet appelboud gehad. Ek het nog nie die regte saal gevind vir die kalant nie. My man het baie met my gestry dat ek vol dinges is oor die saal en ek het toe maar gekies om hom bloots te ry. So, kom pappie op ‘n dag met ‘n saal nader en ons sit die saal op en ek klim die perd, hy gee twee draaie en ons vat pad om die boord. Ons kom terug in die kampie en en hy bok, ek bly bo, hy swaai daai vet agter ent en die saal gly en ek val met my heup in ‘n gat. Ek bly lê want iets het gekraak en ek weet nie wat! Pepsi kom ruik so ewe wat aan die gang is en ek is dik de hel in vir sy nukke en die saal affêre.

My man kom aan gehol en gryp die perd, draai die saal reg en klim met sy 80kg op en jaag met die perd af lande toe om sy gal te werk. Soos ek daar lê vlieg ‘n TB merrie vul verby my agter die jaag-tog aan en halfpad vang sy op. Maar die beeld wat nou nog in my kop vas steek is hoe die merrie vul met haar boepensie en lang elegante bene langs Pepsi hardloop met die terug kom slag...Wat sien ek, my man gee vrye teuls, ek sien sy lyf skuif al hoe meer na links en soos asof in stadige aksie, val die man mos ook af van Pepsi. Skoon vergete is my pyn dat ek opspring en hol dat die stof strepe agter my sit...want my man lê plat in die pad, hy lig nie eens ‘n vinger. Die twee perde wei eenkant asof niks gebeur het nie. Ek vloek weer ouder gewoonte sulke lang stringe! Daar gekom vra ek op ‘n afstand...”Leef jy?”, “Ja, maar iets bloei”. Ek laat my man stil lê en maak seker sy nek is reg en die rug is ok.

Sy duim is oop gekloof deur die leisels en dit is steke stories. So loop ons twee met ons arms om mekaar want beide het ondersteuning nodig. Dik vies vir die verdomde ponie wat ons so seer gemaak het ry ons so vuil hospitaal toe. Kom by ongevalle aan en die suster kyk ons twee vuil mense met die drie skoon kinders skeef aan. Nou moet ons die opname vorms invul en verduidelik wat het gebeur. Ek moet vir ekstrale gaan en my man vir steke. So sit ons twee in die ondersoek kamer en wag vir die dokter om ons te ondersoek en die steke te doen. Die dokter kom in en lees vlugtig die papiere deur en vra so ewe droog: “ Nou vir wat ry julle saam op een perd, gin wonder julle het so seer gekry nie!” Nee, kyk ons bars in ‘n histeriese lagbui uit, besef die man nie die arme ponie sou plat op sy pens, wydsbeen gelê het as beide van ons op hom was!

Ja...daar is nog stories van Pepsi...dit kom met tyd...lekker lag vir ‘n stoute perd, met ‘n klein lyf en ‘n hart soos ‘n leeu!

Groete Annelien Pienaar

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking