Saterdag, 21 November 2015

MEBOS

As ek dink aan my kindertyd en hoeveel Mebos ek geëet het, het ek nie meer nodig om te wonder waar my boepensie vandaan kom nie! 
Ons het ‘n appelkoos boord gehad en die Vader allenig weet wat my besiel het elke jaar, maar die gietergat situasie het my nooit gestop nie. 
Ons perskes en appelkose was so soet weens die tipe grond waarin dit gegroei het. 
As jy dit so oop gesny het, het die sous soos dik stroop drade gevorm as jy die lagies skei. 
Die smaak was altyd intens en heerlik. 
My Ma het altyd perske rolle en mebos gemaak.

Vir diegene wat nie weet wat Mebos is nie, wel dit is maar ‘n puree van appelkoos hoofsaaklik wat dan in bolletjies gerol was in die ou dae. 

Daarna was dit plat gedruk en gelos om effens droog te word. 
Dit was dan in lagies botter papier verpak met ekstra suiker oor. 
Dit kan lank op die rak bewaar word. 
Moet nooit op die suiker minder maak nie, dit is juis die preserveermiddel wat bakteriële groei en swamme teë werk.

RESEP
1.5 kg Appelkoos helftes - gedroog
Kookwater
15 ml Sout
1.5 kg Wit suiker
Ekstra suiker vir oorsprinkel vir die wegpak slag

METODE

1. Plaas die appelkooshelftes in 'n groot pot en bedek met kokende water.
Laat die appelkose in die water uitswel vir niks meer as 10 minute nie.
Die idee is om die appelkose effens te laat uitswel om die maalproses makliker te maak ander word dit te pap.

2. Spoel nou die appelkose af in koue lopende water en dreineer soveel as vog moontlik.
Druk dan droog met lappe sodat die meeste vog af is en die appelkose droog voorkom.
Ek laat die appelkose vir so 10 minute op 'n lap lê nadat dit droog gedruk is om net effens wind droog te word.

3. Plaas bietjie vir bietjie van die appelkose in 'n voedsel verwerker en kap so fyn as moontlik.
Indien jy nog 'n vleis meuletjie het of 'n elektriese een op jou menger, sal dit ook perfek werk.

4. Voeg nou die sout en suiker by die mengsel en meng baie goed deur sodat die suiker kan oplos asook die sout eweredig kan versprei.
Laat die mengsel vir 1 - 2 ure met 'n net bedek staan voordat jy begin vorms maak.

5. Jy het 'n hele paar opsies om die vorms te maak.
Tradisioneel rol jy balletjies van ongeveer 15 - 20g en druk dit met die palm van jou hand plat soos 'n pattie, of jy kan dit in 'n pan druk en dan vormpies druk, of rol stafies of sny in vierkante.
Jou keuse.

6. Laat die lekkers weer droog vir 1 - 2 ure en draai dit halfpad om sodat die ander kant ook kan droog voordat jy dit in die ekstra suiker rol.
As jy 'n sif het werk dit ook wonderlik.
Pak dan die mebos in lugdigte houers met lagies waspapier om vaskleef te voorkom.

WAARVOOR WORD DIT GEBRUIK?
Ek gebruik dit in my koeke wat ek bak, muffins, mousse, versiersels of vir my kinders se skool kosblikke vir 'n energie happie.
Vir vleis geregte soos potjies, hoender disse, selfs in my yoghurt.
Maak dit deel van jou marinade en dit transformeer enige taai stuk vleis.
Appelkoos is baas!

HOEVEELHEID: 50 - 100 stukke afhangend van groottes.

BRON: Annelien Pienaar. 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za


FOTO: www.driedfruitandherbs.co.za

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking