Donderdag, 19 November 2015

KENWOOD ELEKTRIESE STAANMENGERS - VERSTEL JOU SPANE VIR OPTIMALE MENGAKSIE

Kenwood Major Titanium
Ek wil graag ietsie van die Kenwood staan mengers vir julle verduidelik. Ek het agter gekom toe ek as dosent gewerk het by ‘n Tersiêre instansie in Pretoria, dat die mengers nie deeglik tot onder meng nie. Dit het my grensloos irriteer en ek het die boekie van Kenwood van voor tot agter deur gelees en niks wyser geword nie. Wat gebeur is, dat iets wat jou tyd moet spaar jou later tyd kos! Jy meng stop en skraap af, dit was mos nie die idee nie? Was dit?

Eendag staan ek weer die monster van ‘n menger en begluur. 
Dink toe by myself daardie ding het mos ‘n moer aan die haak. Dus, as daar iets is wat kan draai dan beteken dit daar is ‘n doel vir die moer! Stap na die opsigter en vra vir ‘n paar moersleutels. Gaan terug na die Lab en begin elke menger se haak te stel. Ek het toe besef dat die spane te kort is en dus laat sak moet word tot omtrent 2 mm van die bak se bodem. ‘n No 19 moersleutel is die regte grootte vir die moer. Maak nie saak watter model,’n no 19. Daardie dag het ek Kenwood oorwin.

WAT OM TE DOEN AS JOU STAANMENGER NIE MOOI AL DIE DEEG VAN ONDER MENG NIE
As jy na die verskillende spane kyk sal jy ‘n moer aan die bopunt sien. Daardie moer moet na bo geskuif word sodat die spaan langer kan word. Plaas 'n 5c muntstuk in die bak en draai die lem. As die lem die muntstuk eweredig met elke draai skuif is die lem reg. As die lem die muntstuk effens raak en soms oorslaan om te skuif in die bak, is die lem nog te hoog. 

Dit is baie belangrik wanneer jy jou menger gebruik en jy die bak uitskraap vir byvoorbeeld ‘n koek, daar geen droë bestanddele mag agter bly nie. 
Dit beteken dat die haak te hoog is. 
Selfs met brood knie is die deeg nie veronderstel om droë kolle onder in die bak te hê nie.


SIEN DIE MOER AAN DIE BO PUNT VAN DIE SILWER STANG?
DIT IS DIE MENEER WAT GEDRAAI MOET WORD!
Ek hoop julle gaan julle mengers sommer baie geniet. My menger is 22 jaar oud en my pa het dit nog vir my op my 21ste verjaardag vir my gekoop...daardie tyd was die probleem nie in die boekie gestipuleer nie, asook nie gekom met die bypassende moersleutel nie. Deesdae is die nuutste Kenwoods almal toegerus met hierdie inligting in die Handleiding asook die spanner wat saam kom.

Lekker bak.

Annelien!







Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking