Maandag, 23 November 2015

HOENDER LEWER PATEE (SMEER)

Wanneer my Ma altyd vir ons vars gebakte warm bruinbrood gegee het, het sy die hoender lewersmeer na vore gebring. Hierdie is tot vandag toe die resep waarmee ons groot geword het. Ek sal dit toe oë in die nag kan maak!

RESEP
320 g Botter
15 ml Olyfolie
1 Klein ui - fyn gekap (nie gerasper nie)
2 Knoffel toontjies - fyn gekap
450 g Hoender lewertjies - skoon gemaak
125 ml Brandewyn of sjerrie (flambe die brandewyn vir die kinders se onthalwe)
Sout en perper na smaak
1 ml Neut muskaat (nutmeg)

METODE

1. Ons gaan nou eers leer om verhelderde botter te maak, ook bekend as Ghee of Clarified butter. In ‘n kastrol verhit, maar nie kook, die botter oor medium hitte. Jy sal sien dat die botter begin skei, daar gaan ‘n deurskynende geel laag en dan witterige vlokkies wees. Die wit vlokkies moenie daar wees nie. As jy na die foto kyk sal jy die stappies sommer baie mooi kan eien. Gooi dan die mengsel deur ‘n siffie om die onsuiwerhede een kant te hou. Hou eenkant totdat dit nodig is om die lewer te seel.
Verheldering van  botter, jy kan dit nie met margarien doen nie!
2. Verhit die olyfolie en uie in ‘n pan en braai totdat deurskynend, voeg die knoffel by en braai vir net ‘n minuut vir die geur om te ontwikkel.

3. As jou pan nie aangebrand is nie kan jy dieselfde pan waarin jy nou nou gewerk het gebruik om nou die hoender lewertjies in te braai. Hier is nou die maak of breek van die lewer. Die lewer moenie dood gaar wees nie. As jy dit te veel gaar maak gaan dit soos rubber wees en die eind tekstuur gaan grof wees in plaas van glad.

4. Voeg nou die brandewyn by die kokende halfgaar lewer en steek dit aan die brand sodat die alkohol kan verdamp, dit is wat mens flambe noem. Nou is die gereg veilig vir die kinders om ook saam te geniet. Maak net seker dat wanneer jy flambe daar nie te veel pan souse is nie want dan gaan die brandwyn oplos in die vloeistof en verdun wees en dan nie kan vlam vat nie. Verder moet jy jou aansteker gereed hou sodra jy die brandewyn oorgooi, dit aansteek.

5. Plaas nou al die gaar bestanddele in ‘n voedselverwerker of gebruik jou blits stick en maak die mengsel so glad as moontlik. Dit moet regtig ‘n gladde puree soos babakos wees.
Voeg nou sout en peper na smaak by. Smeer die lewer binne in ‘n rammekin bakkie of opdien bakkie van jou keuse en bedek met die verhelderde botter. As die verhelderde botter begin set, plaas vir ‘n paar sekondes in die mikrogolf oond om net weer loperig te word. Vul die rammekin sodat die lewer goed bedek is en nie uitsteek nie. Plaas in die yskas om goed te set voor gebruik.

HOEVEELHEID: 2 - 4 rammekins vol.

BRON: Annelien Pienaar. 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking