Vrydag, 20 November 2015

HEEL KORING VOLGRAAN BROOD



Ek het hierdie resep by die Drosdy Hotel in Graaff-Reinette op my wittebrood gekry. Ons het met aandete hierdie ongelooflike broodjie geniet, met die snye wat vol sit met die vet uit geswelde koringkorrels. As jy in die broodjie byt dan ontplof die koring korreltjies behoorlik tussen jou tande en jy kry die ongelooflikste neutagtige smaak met die heuning in die agtergrond. Die volgende oggend met ontbyt vra ek toe die kelnerin in haar swart en wit rokkie, soos die ou slawe geklee of daar nie dalk nog van die brood is nie. Terwyl ek so opstaar na die plafon se pragtige geelhout balke en glimmende koper kandelare wat soos wortels uit die dak hang, so asof dit al vir eeue daar hang.

Kom sy met ‘n bordjie van hierdie ongelooflike broodjie aangestap en ek dog ek soen haar! Met ons vertrek vra ek of ek die Kok mag toespreek en het behoorlik sy lof besing oor hierdie onvergeetlike happie. Ek vertel hom van my liefde vir spesefiek brood en sourdough produksie. Ek skribbel ‘n paar idees vir hom neer oor goedjies waaroor hy raad soek en hy bring toe die brood resep navore en ek skryf dat dit klap. Ons het met mekaar kontak gehou en ongelukkig is hy ‘n paar jaar gelede oorlede. Ongelooflike man gewees! Hoop julle geniet hierdie roer broodjie net soveel soos ek.

RESEP
2½ kop Pêrel gort of koring, gaar (met sout water gekook, gespoel), goed gedreineer anders sit jy te veel vog in die resep in.
10 g Kits gis
15 ml Bruinsuiker
15 ml Heuning
400g ml Lou water
420 g Bruinbrood meel
10 ml Sout
70 ml Kookolie of gesmelte botter

METODE:
1. Ek kook die koring soos wat ek bruin rys sou kook. Gewoonlik kook ek ‘n hele pakkie op ‘n slag en vries wat ek nie gebruik. Dit is in elk geval gesonder as dit afgekoel het en weer opgewarm is. Dus hou hierdie altyd invoorraad in jou vrieskas.

2. Meng die koringkorrels, bruinbrood meel, suurdeeg en sout in ‘n mengbak saam.

3. Los die suiker en heuning in die water op en voeg die olie by. Roer goed deur.

4. Meng die water by die meel mengsel en roer goed deur met ‘n hout lepel.

5. Skep die beslag in ‘n vooraf gesmeerde brood pan tot halfpad vol. Laat dan om te rys tot dubbel die volume. Die beslag is baie broos. Dus moenie die pan ruk en pluk of hard neersit nie, die mengsel kan plat val. Sodra gereed vir bak, sprinkel met sade van keuse soos sesam, pampoen en selfs hawermout.

6. Plaas die pan versigtig in vooraf verhitte oond en bak vir 10 minute by 200 ˚ C en 50 minute by 180 ˚ C.

VARIASIE:
Ek sit soms ‘n eetlepel papawersaad of 3 eetlepels sesame saad by die beslag. Dan kan jy ook 'n kwart koppie pampoensaad of selfs neute insit. Lekker speel met jou kos!

HOEVEELHEID: 2 medium groot brode.

BRON: Chef Vincent Gogga (Hy het homself so genoem), verwerk deur Annelien Pienaar.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking