Maandag, 30 November 2015

GARINGTJIES VLEIS SKAAPBLAD

Ons het groot geword in ‘n gemeenskap waar daar verskeie nasionaliteite saam gewoon het. Een daarvan was die Hollanders. Ek het baie saam met my ma rond gerits as sy bestellings by mense gaan aflewer het. So het ek by die een gesin leer garingtjies vleis eet. Deesdae noem die slim mense dit “Pulled leg of,” ek noem dit soos ek dit leer ken het. Wat vir my baie interessant was, was die tannie het baie kruie en speserye gebruik vir die voorbereiding van die vleis. Die vleis was gewoonlik van ‘n ouer skaap en dan word dit vir 2 dae in karringmelk gemarineer. Die tannie hulle het kaas gemaak en dan het sy sommer die suur melk vir die doel gebruik. So met my studies saam het ek later geleer dat die “karringmelk” of amasi soos ons dit deesdae op die winkel rakke te koop kry, eintlik net suurmelk is. Regte karringmelk kom van botter af. Dit is die waterige gedeelte wat uitkom nadat die botterdeeltjies aan mekaar gaan vassit. Dus, kom ons kook regte kos!

Ek weet die bestanddele lys lyk baie lank maar die stappe in die maak proses is baie kort en vinnig, want die Hutspot doen al die werk, aka, slow cooker.


RESEP
1 Skaapblad - met of sonder been
500 ml Karringmelk
30 ml Tamatiepuree
10 ml Garam masala (sien my resep op die blog onder soute)
5 ml Komyne saad - gerooster (cumin)
5 ml Vars gemmer - gerasper
15 ml Vars roosmaryn
30 ml Suurlemoensap
1 Suurlemoen se skil
8 Knoffel toontjies - grof gekap
Sout en peper na smaak
125 ml Rooiwyn - gooi later eers by

GARNERING

50 ml Sesam saad
50 ml Sprietuie - fyn gekap

METODE

1. Meng al die bestanddele met mekaar en vryf oor die vleis. Laat die vleis vir 2 dae sag word en draai die vleis elke halwe dag.

2. Plaas die vleis in die slow cooker en laat dit vir 8 ure gaar word op high. Verwyder die vleis uit die pot en plaas op drup rakkie en verbruin in die oond.


3. Daar sal ongeveer 500 ml vleis sous in die slow cooker oorbly, verwyder die sous en kook dit oor matige hitte totdat die vloeistof met die helfte weg gekook het om ‘n dik sous te vorm. Voeg ongeveer 125 ml rooiwyn by en kook deur. Bedien saam met die vleis as vleis sous.



4. Hierdie vleis kan so wonderlik aangewend word. Deur die vleis in garingtjies te verwerk, trek jy die vleis met vurke van mekaar weg. Hierdie vleis word dan met die vleis sous klam gemaak om te voorkom dat dit uitdroog. Ek bedien dit saam met somer slaai soos Waldorf op ‘n oop broodjie, of saam met cous-cous of lekker mielierys. Jou keuse. Lekker eet!

HOEVEELHEID: 6 - 8 mense. 


BRON: Annelien Pienaar, www.bosenbergguestfarm.co.za, 2015.




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking