Woensdag, 11 November 2015

DORPERSTOET EN KALAHARI REDS....SOOS VET EN VUUR!

Onlangs staan ek in die Korporasie en soek ‘n spuitmiddel.
Stap die rye op en af, opsoek na oom Jan met sy baie kennis, maar oom Jan is op middagete en ek soek toe maar verder self.
Kom by ‘n laaaaang rak aan en begin die soektog.
Langs my staan ‘n oom en vroetel met die een na die ander bottel, ek vra hom toe wat hy soek.
Nee reken hy, sy Kalahari Reds (Boerbokke) het vel myte en hy en die produk Dazzle werk nie lekker saam.
Ek wys toe vir hom ‘n ander alternatief en so raak ons twee toe aan die gesels. 
Ek vertel hom van die skape en hy blom behoorlik as hy oor die Kalahari Reds gesels, so loop ons gesêlsend na die till om te betaal.

Tannie Ina, ek weet nie haar van, ken my en my familie al jare en sy rammel die lid nommer so uit haar kop uit af.
Ja sê oom Boerbok, die tannie Ina ken almal se nommers.
Tannie Ina lag te lekker, sy is al 75 en ken almal in die dorp se lid nommers.
Ons drie staan toe so en gesêls oor dieregesondheid en nuwe kursusse vir plaaswerkers wat by Onderstepoort tans aan die gang is.

Die oom borduur nog voort aan sy slim bokkies en ek kon nie help, en die Vader alleen weet, soms kan my mond maar nie dink nie.
Ek kyk oom Boerbok in die gesig en sê vir hom ek dink sy bokke stink.
Eers staar hy my geskok aan en toe glinster die oog te lekker met 'n teen antwoord: "Meisiekind, jou skape is dom!"
Tannie Ina val amper van haar stoel soos sy lag vir ons twee se eerlikheid.
Ek en die oom skud blad en ek erken, my skape is dom!
Maak nie saak hoe jy hulle leer, die goed hol die wêreld vol!
Ek en die Oom het lekker gelag buite by ons bakkies, gegroet in vrede en ons onderskeie paaie gegaan.
Plaas lewe is nie vir sissies nie.
Maar ek sal dit oor en oor weer kies as die keuse moes verby kom!

Groete Annelien Pienaar. 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking