Woensdag, 18 November 2015

DIE TICKETS

Kongo RIP
Hallo julle, nee kyk die ark was weer oop op die plaas vandag!
Alles in eendag, wat eintlik in een week veronderstel was om te gebeur. Ouboet se groot toon sukkel met 'n ingroei toon nael, al vir maande en vandag weer geopereer. Na 'n lang warm dag en gewag is ons twee tuis. Met my tuiskoms kry ek my rooikop middelste seun kop onderste bo en ek sien hy is verlep soos 'n oranje papawer. Nee, sy kop is seer, hy is koorsig en ek begin kliere voel. Mmmh dink ek, bosluisbyt koors. Laat die mannetjie van kop tot tone uit trek en nog voordat ek "what have you en if possible" moet ondersoek, kry ek die verdomde orgetiel! Knip die boggertjie se nekkie af en gee die knaap 'n goeie dosis pynmiddel. Maak vir my en sussie 'n heerlike koppie tee en ons gaan sit op die stoep en kyk oor die plaasdam en Magaliesberge uit. So hoor ek pappa bulder van die skaap kraal se kant ek moet dringend kom kyk...

Ek en sussie piekel sommer so kaalvoet af hokke toe. In die een hand het ek reeds my "skaap dokters tassie" met al wat 'n middel en goete om die lam siek en dooies te help. So van ver skree my man al Kongo (stoetram met 'n hengse humeur maar die mooiste bou) het groot moeilikheid. Ek dog toe, nee hy het seker weer met een van die ander ramme deur die draad baklei...maar vir die ene het ek nie woorde gehad nie.

Kongo wou by die ander trop se ooie uitkom en deur die doringdraad probeer kruip. So het sy testikels 'n lelike krap weg en dit is rooi en nog twee keer groter geswel. Met die dat almal besig is bly George by my agter en ek loop gou stoor toe om handskoene te kry want die wond is erg smetterig. Toe ek om die draai kom sien ek hy spuit omlope middel op die rou wond. Die arme ram, sy bene swik van die pyn en hy lê net en ruk. Ek gooi alles neer en hol om George te stop! Ek skree al van ver:  "Wat die hel doen jy?": Goerge antwoord my: "Klein mê sy "testikets" moet skoon kom". Ooi hy dink hy help, maar die Vader weet, ek wil my handlanger soms vermoor! Ag jinne maar ek vloek net sulke lang stringe dat die volk net Jô mêrrem!
Gaan kry wond sproei en antibiotika en spuit die arme ding. Kyk Kongo het ons al gestamp en beseer, selfs al gesorg vir steke in die arm met sy horings, maar seer het die dier erg. Ek staan vir 'n uur soos 'n ma en hou hom dop, sukkel sukkel kom hy op sy bene, maar aai, die agter bene is maar styf en hy gaan lê weer. 

Kyk ek het ou George mooi vertel hoe hy sal voel as ek sy tickets so gaan spuit, die ander werkers het lekker gelag en my man het net sy kop geskud vir my kwaai bekWel, George weet hy bly uit die medisyne kamer weg of ek haal die rekkies uit dat hy sy beurt kan kry!

Annelien se plaaslewe!

PS: Kongo het toe nie die infeksie oorleef nie, maar sy lammers van hierdie seisoen is pragtig en sterk net soos hul vader.

www.bosenbergguestfarm.co.za

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking