Vrydag, 20 November 2015

BOEBER

Onlangs stap ek deur Woolworths opsoek na my gunsteling perkuleer koffie toe ek voor die yskas vas steek en my kleintyd Boeber gewaar. Kan dit waar wees?  Ek het al vergeet van dit. As ek mense vra of hulle boeber ken dan dink hulle dit is ‘n opgemaakte woord soos kinders maar sou doen. Dit proe amper soos melkkos maar die speserye daarin maak dit uniek asook die neute en rosyne. Ek lees die bestanddele van die pakkie en neem ‘n foto van die etiket. Ek loop dadelik na Pick ‘n Pay en koop toe al die bestanddele wat gelys is op die etiket. Kom by die huis en vergeet ek moet vir die gesin kosmaak. Spring dadelik in en doen al die voorbreidings. My man staan my skewe kop en kyk en vra: “Is dit al weer sulke tyd?”, en ek antwoord net “Ja”. Dit beteken ek is nou in stoomroller “mode” en nou moet almal my uitlos.

Die volgende oggend toe die Filistyne almal weg is skooltoe en die groot Filistyn lande toe gaan, spring ek in om die planne aan mekaar te sit. Dit was ongelooflik hoe die legkaart se stukkies begin inmekaar pas. Met ‘n proe en gooi nog van hierdie en daardie in het ek by die smaak wat ek herken het van my kinderdae uitgekom. Dus hoop ek julle gaan hierdie ook geniet! Boeber is ‘n Kaap Maleise dis wat oor Ramadaan geëet word op die 15de dag. Dit het altyd kaneel, kardamom en amandels of klapper repe in.

O, ja, ek het toe vergeet om die koffie te koop!

RESEP
1 liter Melk - volroom is net lekkerder
1 Kaneel stokkie
50 g Suiker
3 Kardamom sade
100 ml Sultanas
50 ml Amandels skywe - gekap of klapper repe - gerooster
20 ml Sago - geweek in 50 ml water vir 'n uur of oornag
100 g Vermicelli

METODE
1. Plaas die melk, kaneel en kardamomsade in ‘n swaarboom kastrol wat diep genoeg is dat die mengsel nie sal oorkook nie.
Verhit die mengsel tot by kookpunt.

2. Voeg nou die sultana’s, amnadels, sago en vermicilli by.
Prut oor stadige hitte totdat die die sago deurskynend is en die vermicilli sag is.
Roer die mengsel af en toe om aanbrand te voorkom.

3. Indien die mengsel vir jou te dik lyk kan room of melk bygevoeg word.

4. Bedien warm met kaneelsuiker of heuning of eet net so.

HOEVEELHEID: 4 - 6 porsies.

BRON: Annelien Pienaar. 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za, klasse


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking