Sondag, 29 November 2015

ANNELIEN ANTWOORD LESERS SE VRAE OOR HAARSELF

WAT DOEN ANNELIEN VIR 'N LEWE?
Werk op my man senuwees op die plaas....Nee, ek is 'n dosent in Voedsel wetenskappe en leer mense Sourdough brood bak, kaas maak, kook, bak en gesond leef. Die klasse word vanaf my gastehuis se kook ateljee gedoen. Dus is my werkplek op die plaas. Soms reis ek deur die land om elders opleiding te gee...maar ek beperk dit deesdae om meer tyd by my gesin te spandeer. Ons boer met Pekans en het ‘n Dorper stoet. Beide ek en my man het ons beroepe in die stad gelos en op die plaas ‘n bestaan uit gekap.

HET JY KINDERS?

Ja, drie Filistyne! Seun 16, Seun 12, Dogter 4.

HOE OUD IS JY?

So oud soos ek voel...bloed jonk met baie plooie en alles begin hang!

HET JY AL FOUTE IN DIE LEWE GEMAAK?

Ja, ek het mense al in die steek gelaat met werk waarby ek nie kon uitkom omdat ek nie “nee” kan sê nie. Dus, werk ek net vir myself en doen nie projekte wat gratis is nie. Ek vloek soos ‘n matroos elke dag, dus rand ek niemand fisies aan nie....ek is te besig om tyd te kry om te gaan oefen!

WAAR BLY JY?

Tussen die hemel en die hel...Wel in die somer as die weer lekker is, is dit hemels, maar as dit begin warm word November en Desember dan is die hel se deure behoorlik oop! Skeerpoot, wes van die Hartbeespoortdam.

WAT MAAK JOU KWAAD?

Mmmmh...as jy nie kan dankie sê nie! As mense te egoisties is om erkenning te gee aan ander se harde werk. Dit is die een les wat ek op die harde manier geleer het toe ek ‘n jong junior dosent was. Die baas na wie ek opgekyk het, het my in die hospitaal gebel om te hoor waar my bestelvorms is sodat die volgende dosent kan aangaan waar ek opgehou het. Ek was in premature kraam met my eersteling en sy het nie eens gevra hoe dit gaan nie. “Business as usual”. Daar het ek myself voorgeneem om dit 'n instelling te maak...hoe gering die daad van 'n mede mens was...jy SAL erkenning gee en dankie sê Annelien. Dus my moer-meter gaan deur die dak as jy net vra en vra en aan neem...dankie is beter as blomme, sjokolade of ‘n sak vol geld! 

HOEKOM IS JY 'N NO NAME?

Mmmmh ek weet nie? Weet jy? Man, ek het akedemie bo glitz en glamour verkies. Nadat ek weg is uit die Tersiêre industrie het ek my man help werk aan ons droom. Om ons famlie plaas te ontwikkel sodat dit eendag vir ons oudag ‘n inkomste kan genereer en ook vir toekomstige generasies. Ek het die voorreg gehad om my kinders groot te kon maak op die plaas en op die ouderdom van 3 vir die eerste keer speel groepie toe laat gaan. Ek het my kinders voor my beroep gestel.

Met my Moeder se afsterwe het sy my maak belowe dat ek nie my “God gegewe Talent” om mense te leer en ook my passie vir kos te verwaarloos nie. Sy het my dit op die hart gedruk dat “Jou tyd het nou gekom, om te begin werk aan jou eie droom, jou tyd is nou...blom!” Kyk vir my Ma het jy liewers nie iets belowe as jy dit nie gaan doen nie...dus het ek mooi en lank gedink oor haar woorde voordat ek die belofte gemaak het. En wel, dink jy nog ek is ‘n no name? Ek is Annelien Pienaar en trots op wie ek is en waar ek vandaan kom!


WANNEER SIEN ONS 'N RESEPTE BOEK VAN JOU?

Moeilike vraag... Ek het al na ‘n konsep gekyk om te laat publiseer en die een ding is verseker, jy gaan nie geld maak uit die boek nie. Het jy geweet dat oor die algemeen die Publishers vir jou net 10% komissie gee op elke gedrukte kopie wat verkoop en dan 40 - 45% op eboek formate? Dus, as ek ‘n boek gaan publiseer sal ek my kop moet laat lees. Ek het 6 jaar se navorsing in hierdie spesefieke boek ingesit...en dit vir 10% komissie...ek weet darm nie! Daar is wel ander bronne wat ek ondersoek om self te publiseer en te laat druk...maar dit gaan nog ‘n lang tyd wees voordat ek dit kan doen. Ek sal self die verspreiding en versending moet doen en tans is ek te besig om sulke goed ook nog by my skedule in te werk. 

As ek ‘n boek sal publiseer sal dit die Boerekos met ‘n Twist resepte met 'n les wees. Daar is soveel Afrikaanse boeke wat presies dieselfde goed alreeds gedruk het, maar...geen lesse! Dus, het ek wel ‘n boek wat “uniek” is waaraan ek werk, maar dit kos geld om die fotografie, styllering van elke dis en editing te doen. Maar niks haas my nie, die boek moet eksie perfeksie wees...Gee tot so einde volgende jaar en dan sal ek dalk in 2017 publiseer op MY terme.


HOEKOM SKRYF JY NIE IN VIR GREAT BRITTISH BAKE OFF, MASTERCHEF SA, KOKKEDOOR OF KOEKEDOOR NIE?

Mmmmh....ek het al vir kook kompetisies ingekryf en ‘n wonderlike les geleer met die een spesefieke reeks. In die tyd wat die reeks geskiet was, is my Ma oorlede en ek weet dit was ‘n hoër hand wat die beoordeelaars se oë vir my toegemaak het. Daar het ek ook besef ek is nie iemand vir die kamera’s nie. Ek wil nie voor gesê word wat ek moet doen of sê...ek is nie ‘n akteur nie. In my eie kombuis op my “turf” is ek ‘n entertainer in eie reg. 

RAAK JY NIE BANG OM VOOR GROOT GROEPE MENSE DEMONSTRASIES TE DOEN NIE?  

Ja, mens is in die begin bang vir die hordes voor jou...maar dan haal ek diep asem en sien die mense voor my as ‘n groepie studente en spring dan weg. Ek geniet dit om mense by die prosesse te betrek want dan staan ek ook nie alleen agter die toonbank nie. Ek maak seker dat al my voorbereidings die aand voor die tyd gedoen is en my kar gepak is. My check-list is altyd in my gatsak.

WATTER DISSIPLINE IN KOOKKUNS VERMY JY?

Skulpvis, omdat ek allergies is daarvoor. Dit is vir my die grootste frustrasie as ek dit voorberei (met die nodige handskoene) ens, as ek dit kan ruik maar nie mag proe nie. Dit is soos om letterlik ‘n resep uit ‘n boek te moet kook en te vertrou dit gaan lekker uitkom. Ek lees wel wyd oor die onderwerp en diegene wat my seekos proe is vol lof. Maar ja, ek vermy dit as ek kan.

WATTER DISSIPLINE VAN KOOKKUNS IS VIR JOU LEKKER?

Artizan brode en sagte kaas. Dit is my “ultimate” kuierkos, huiskos, trooskos! Dit is die kos waar al jou vriende, familie en kennisse om die tafel sit met ‘n wyntjie en die brushetta platters bydam en proe-proe kuier.


WAT WIL JY NOG BEREIK IN DIE LEWE?
Ek wil my “Wood fired” oond buite die ateljee klaar bou...het reeds die gietyster deure en bakstene...nog net bou. Dan wil ek elke naweek regte Aritzan brode vanaf Bos en Berg gasteplaas verkoop asook ‘n Tappas styl restaurantjie net vir die brood. Tans bak ek en verkoop Artizan brode wat in ‘n elektriese oond gebak is, en wel, dit is nie te vergelyk nie! Dan wil ek baie graag my aanlyn klasse vir die Sourdough en sagte kaas aan die gang kry in 2016 en verder werk aan my boek.

Maar vir nou werk aan my Boerekos met ‘n Twist droom...om duisende te bemagtig met kennis...geen dief kan kennis steel nie!


Seën wense

Annelien, November 2015.




3 opmerkings:

  1. I salute you! 'n Merkwaardige vrou wat groot droom. Mag al jou drome waar word. Jy is 'n ma, eggenote en koskenner duisend - dankie dat ons by jou kan leer

    AntwoordVee uit
  2. Jy is n wonderlike inspirasie en Ek waardeer jou opregtheid, eerlikheid en toegewydheid
    Welgedoen

    AntwoordVee uit
  3. Wie is Annelien?
    Ja, sy is 'n merkwaardige, formidabele vrou. Wat maak haar merkwaardig? Buiten bak en brou . . . kaas maak, broodklasse en alles wat in 'n kombuis gebeur, is sy vriendin, sielsgenoot, vertrooster, raakvatter en nog vele meer. Annelien is altyd gereed om met goeie raad te bedien, altyd vriendelik en vrygewig. Sy is elke dag dieselfde en sal vir jou tyd maak - al is dit ook wanneer almal reeds gaan slaap het.
    Annelien is ook 'n kunstenaar in eie reg t.o.v. verskillende kunsvorme en -tegnieke. Wanneer iets nuuts op die mark verskyn, kan jy maar kort voor lank by haar gaan kers opsteek.

    Annelien, ek is nie jou grootste volgeling (opmerkings, navrae, maak van jou resep te, ens.) op die Boerekos met 'n twist nie, maar ek sien elke dag wat jy opsit en wat jy almal leer.

    Ek salueer jou vandag - nie net vir wie jy vir al die ledemate en volgelinge is nie, maar ook vir jou passie, jou ywer en liefde vir dit was jy doen. Ook vir die rol wat jy in jou eie gesin se lewe speel en impakteer.

    AntwoordVee uit