Sondag, 25 Oktober 2015

VINNIGE KAASKOEK GENOT

Hierdie resep kan met enige vrugte van jou keuse gemaak word en dan met die bypassende kleur jellie. Dus kan jy van pers (moerbeie), groen (kiwi), blou (bessies, druiwe), pienk (kersies, aarbeie), geel (sitrus, perskes, mango, papaja) basies al die kleure van die reënboog kan ‘n kaaskoek pakkie maak! Jy sal die gewildste gasvrou ooit wees met hierdie treffer nagereg of tee tyd verassing.

RESEP
15 ml Gelatien korrels gespons oor 50 ml kraan water
1 x 410 g Blik Kondensmelk
125 ml Vars suurlemoensap
250 g Roomkaas - NIE maaskaas
15 ml Suurlemoenskil
50 ml Melkpoeier aangemaak met 100 ml kook water
250 ml Room
2 pakkies Nutti krust koekies - fyn gestamp

METODE
1. Plaas 50 ml water in ‘n glasbakkie en sprinkel die gelatien oor die water.
Laat dit staan totdat dit soos rubber lyk.

2. Meng die kondensmelk, suurlemoensap en suurlemoenskil saam en klits met elketriese menger goed deur.

3. Voeg nou die roomkaas en aangemaakte melkpoeier by die kondensmelk mengsel en klits totdat glad en egalig.

4. Smelt die gelatien in die mikrogolf oond versigtig en hou dit dop.
Dit sal soos stroop lyk as dit gereed is en moenie kook nie.

5. Nou gaan jy ‘n snaakse ding doen.
Jy gaan terwyl jy die room styf klop die gelatien in ‘n dunstraaltjie by die room in klits.
Dit gaan die room sy volume in die einde laat behou en ook baie sponsagtig maak.
Die kaaskoek gaan veerlig wees.
Dus as jy ooit room wil stabiliseer vir koeke wat moet vervoer word en jy is bang dit smelt dalk, hier is jou noodhulp!

6. Vou nou die styf geklopte room by die mengsel in en plaas eenkant om effens te verdik.
As dit ‘n baie warm dag is plaas dit in ‘n dubbel koker gevul met ys, dit moet nog nie set nie maar die room moet ook nie pap gaan van die hitte nie, anders verloor die mengsel sy sponsagtige tekstuur.

7. Vat mooi deursigtige bottels met wye nekke of pragtige glasbakkies en skep van die koekie krummels onder in.
Skep dan van die kaaskoek mengsel in.
Jy kan verskeie lagies soos jy goed dink pak..

8. Rond af met jellie aarbeie

AARBEIE EN JELLIE BOLAAG 
2 Pakkies Aarbei jellie
250 g Vars aarbeie - in die helfte gesny

METODE
1. Maak die aarbei jellie aan soos op die pakkie aangedui.
Gewoonlik is die pakkies in 80 g mates en word met 125 ml warm en 125 ml koue water gemaak, trek asb 25 ml per warm en 25 ml per koue water af.
Die suur van die aarbei bolaag mag dalk verhoed dat die jellie stol.
Dus moet ons die gelatien help in die jellie mengsel om sy werk te kan doen teen die suur wat teenwoordig is.
Laat die jellie so dik word soos stroop in die yskas.
Pas dit asb mooi op.
As dit dalk oor die stroop fase gegaan het, plaas in warm water om weer loperig te word.

2. Voeg nou die aarbeie by die stroperige jellie mengsel en skep bo op die kaaskoek mengsel en verkoel totdat dit benodig word.
Versier met vars kruisement takkies, kersiers, aarbeie ens.

HOEVEELHEID: 4 porsies.


BRON: Annelien Pienaar. boerekostwist@gmail.com, klasse

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking