Woensdag, 07 Oktober 2015

SUSTERS VAN DIE GEMEENTE

‘n Tydjie gelede word ek gevra om met die susters by ‘n Susters saamtrek te gesêls oor tye wat knyp en hoe om met handewerk die inkomstes aan te vul. 
Die gesprek begin by ons gawes wat ons het, sommiges is handvaardig en kan enige ding doen, ander is goed agter die skerms met al die organisasie en bemarking en sommiges kan goed verkoop. 
Vir elkeen van ons is daar wel ‘n plekkie waar ons in pas.

My motto in die lewe is, God maak nie mense om dowe neute nie, Hy maak ons om vir Hom te werk! Daarmee saam het ons gesondheid ontvang, die feit dat jy vanoggend self uit die bed kon opstaan, jou knope vasmaak, toilet toe gaan, self bad, in jou kar klim en bestuur, buite sit en die sonskyn geniet of net iemand te druk, om vandag hier te kan sit is ‘n gawe van God.

Ek begin met die eerste demonstrasie van handwerk items wat deel vorm van ‘n geskenkpakkie wat ons opmaak van alle daagse goedjies. 
Tydens hierdie betrokke dag het ons 20 tafels met 10 dames om ‘n tafel. 
Elke tafel maak ‘n pakkie op wat dan by ‘n Aftree oord afgegee gaan word. 
Ons het saam op ‘n oord besluit en 21 persone gaan hierdie pakkie ontvang.

Op ‘n stadium vra ek een van die Susters om my assistent te wees. 
Dit is altyd wonderlik om iemand uit die gehoor te kry om te help, mens voel nie so alleen daarbo met jou eie stem nie.

Nou, soos my natuur is gesels ek maklik met enige mens, ek tel gou mense se persoonlikheid op en dan moet mens die situasie van daar bestuur. 

Die vroutjie is vreeslik ordentlik en vat saggies aan alles, baie perfeksionisties. 
Ons kom op ‘n punt wat daar styf vas gehou moet word, terwyl die ander een vasmaak maar aai die dame het nie krag in haar hande nie en voor ek myself kan keer stroom die woorde oor my lippe: “Tannie moenie liefde maak nie, hou vas!”

Eers sien ek haar hande verstar vir ‘n oomblik en sy begin ruk! 
Ek besef wat ek gesê het voor 200 elegant geklede dames. 
Die tannie lag dat sy letterlik kruisbeen moet staan om te knyp! 
Toe sy begin lag, lag die hele saal saam. 
Later vind ek uit sy is een van die 3 predikante se vrouens! 
Nee kyk, soms praat ek voor ek dink. 
Die ys was gebreek en die dames het vinnig begin vrae vra, kom voel en vat en aktief deel geneem aan die projekkies wat ek vir hulle uitgewerk het.

Ja, soms het mens net ‘n “eish”brekertjie nodig vir dinge om glad te verloop!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking