Woensdag, 21 Oktober 2015

SJOKOLADE AARTAPPEL KOEK MET 'N TWIST!

Ja, ek weet jy kyk die koek uiters skepties aan oor die gemash storie in die resep maar raai wat, dit bring die GI van die koek af! Verder maak dit die koek veerlig, donsig en klam. 
Jy kan nog ‘n stappie verder gaan en die donker sjokolade vervang met wit sjokolade om ‘n wit vanielje koek te bak. Hoe wonderlik is dit nie, die beste van beide wêrelde!

RESEP
250 g Botter - kampertemperatuur - 225 g vir beslag - res vir ganache
210 g Suiker
4 Eiers - geskei
300 g Bak sjokolade van eie keuse (ek het bitter gebruik) - 180 g sjokolade vir die beslag
80 g Amandels - gemaal
170 g Kapokaartappels
230 g Koekmeel
10 ml Bakpoeier
5 ml Koeksoda
½ tl Kaneel
1 tl Vanielje geursel
15 ml Melk
Knippie sout

METODE
1. Voorverhit oond na 180 ˚ C. Smeer ‘n ronde koekpan met ‘n deursnit van 23 cm.

2. Room 225 g van die botter en al die suiker saam tot baie lig en donsig. Klits die eiergele een vir een by totdat die mengsel weer lig en donsig is.

3. Rasper 175 g van die sjokolade en meng in die beslag in. Meng nou die aartappels in.

4. Sif die koekmeel, bakpoeier, koeksoda, kaneel en sout saam. Voeg om die beurt by die beslag met die melk en vanielje geursel.

5. Klop die eier witte styf en vou in die beslag in.

6. Skep in pan en druk 'n duik in die middel van die beslag om te verseker dat die koek nie met ‘n punt gaan rys nie. Die beslag is nogal dik en jy moet maar gelyk skraap.

7. Bak vir 60 minute of dalk meer, toets die gaarheid van die koek met ‘n toetspennetjie.

8. Laat die koek eers vir 5minute in die pan afkoel voordat dit ontvorm word.

9. Sodra die koek goed afgekoel het. Kap die res van die sjokolade grof op en smelt oor ‘n dubbel koker en voeg die klontjies van die orige botter by. Roer tot alles gesmelt het en glansend word. Drup oor die koek van die middel af en laat dit verder self versprei. Versier met sjokolade krulle of neute, lekker speel.

PS: Jy kan die half warm ganache klits om fluffy te word soos op die foto of net laat afloop.

BRON: Annelien Pienaar 2015.  www.boerekostwist@gmail.com

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking