Donderdag, 22 Oktober 2015

SITROENGRAS (LEMON GRASS)

My een swaer het my altyd die Hippie chef genoem omdat ek met bossies kos gemaak het. 
Vandag lag ons net lekker daaroor maar ja, ek is bossies oor kruie en speserye. Vir my is beide nie net die botteltjie op die winkel se rak nie, dit is soos ‘n persoonlikheid. Sodra jy die botteltjie oopmaak kielie dit alle sintuie en jy kan nie ophou ruik aan alles nie, ‘n verhouding en ‘n ontdekkingsreis begin.

Wat kruie en speserye vir my nog meer fasinerend maak, is die feit dat dit nie net vir kosmaak gebruik word nie. 
Dit word vir medikasie en ook vel versorging gebruik. Dit is ‘n pragtige struik om in jou tuin te hê en dit groei ongelooflik maklik. Dalk het jy al verby ‘n bos gestap en nie besef watter juweel jy gemis het nie. 

Ek is ‘n groot aanhanger van Margaret Roberts. 
Haar kennis is ongelooflik wyd en as jy haar ontmoet, kan jy nie glo dat op haar ouderdom, sy so helder en belese is nie. Haar hand staan vir niks verkeerd nie. Dus as jy ooit die geleentheid kry om haar te gaan besoek, doen so. Die eerste keer wat ek die Margaret Roberts tuin gaan besoek het, was toe ek saam met ‘n klompie homeopate en aptekers en ander baie slim mense, ‘n jaarlikse gesprek wat sy hou in September oor Tissue sout bygewoon het. Ek kon mooi onthou hoe ek die twee spoor paadjie op ry na die agterkant van die Magaliesberg en dan sien jy die waarskuwings bordjies wat lees: “We are only open on wednesdays” ... dan later “Are you sure it is wednesday?”... die volgende bordjie lees, “Please turn around if it is not wednesday”. Sy is reguit en op die man af. Vat nie nonsens van die manne met die sterk chemiese agtergrond wat wou slim wees nie, die tannie het kringe om hulle gehardloop.

Nou goed ek wil eintlik gesêls oor Sitroen gras. 
Die sitroen gras word gereken as ‘n “afkoel” krui wat goed is vir bloed sirkulasie. Dit is ook antibakteriël en teen swaminfeksies. Wanneer dit as ‘n tee gedrink word is dit kalmerend op die gemoed. Dit word gereken dat dit sellulere hernuwend is en ook goed vir ‘n intestinale infeksies. 

Hierdie geurige gras kan soos preie saam met roerbraai groente gemaak word. 
Verder is dit ook heerlik in bredies fyn op gekap. Wat dit so “versatile” maak is die feit dat dit in soet en sout geregte gebruik kan word. Voeg dit eers by jou kookwater vir soet groente soos wortels en patat’s en kook verder. Kneus net die stingel en gooi heel in. In Aartappel en prei sop vervang die prei!

Vir koeke en terte kan die stingels in die melk “infuse” word vir goed soos melktert, creme brulee, vla, roomys, tuisgemaakte yoghurt ens.

Onthou die suurlemoen ystee wat ek 'n rukkie gelede gepost het? 
Wel, as jy eers hierdie lemoen gras gebruik het in jou ystee sal jy nie weer daar sonder kan nie. Jy kook die heel stingels gras saam met al jou bestanddele en stoor die stroop met die gekneuse stingel vir 2 dae en verwyder dit dan.
TUISGEMAAKTE HANDEROOM
2 k Aqueous room
2 k Sitroengras - baie fyn gekap
5 e Vitamien E olie
5 ml Bergemot essence van Lennons

METODE
1. Gebruik ‘n dubbel koker en verhit die room en sitroengras saam vir 30 minute sodat die vlugtige olies in die room vasgevang kan word.

2. Gooi die mengsel deur ‘n sif om die blare te verwyder.Ek verkies om dit deur ‘n moeselien doek te syg en dan die ekstra room uit te druk.

3. Sodra die room afgekoel is, roer die res van die bestanddele by en roer deeglik deur met ‘n ballon klitser.Seel in ‘n skoon glas botteltjie.

4. Dit kan gebruik word om muskiete weg te hou en gebarste hande en voete te behandel.

LEMOEN TEE
¼ kop Sitroengras stingels - opgekap
1 k Kook water

METODE
1. Gooi die kook water oor die gras en laat dit afkoel.

2. Dreineer en geur met heuning.

3. Drink koud of warm.

BRON: Margaret Roberts se: My 100 Favourite Herbs, ISBN: 978-1-43170-244-2

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking