Donderdag, 29 Oktober 2015

ROOSMARYN EN SUURLEMOEN SKAPIE

In die dorpie waar ek groot geword het was daar ‘n Oom by wie ons baie gaan braai het. Hy was volgens my die beste skaap braaier ooit! Hy het die tjoppies en ribbe met vars roosmaryn wat fyn opgekap is ingevryf en dan oor die kole gebraai. As die vleisie halfpad gaar is het hy dit in ‘n swaarboom pot gesit en dan met suurlemoensap bedruip en verder gaar gemaak. Vandag sit ek die tradisie voort. Oom Smit is nie meer met ons nie, maar ek dink elke keer aan hom as ek ‘n tjoppie eet!

RESEP
12 Skaap tjoppies of lamsrib
4 Roosmaryn takkies - fyn opgekap
2 e Knoffel - fyn
Olyfolie
4 Suurlemoene
Sout en peper na smaak

METODE
1. Stroop die roosmaryn takkies af en kap die groen blaartjies redelik fyn op. Meng met knoffel en genoeg olie om dit smeerbaar oor die lams tjoppie of ribbe te maak. Smeer die vleis goed in met die mengsel en voeg nog olie by as dit nodig is. Laat staan oornag of vir 2 ure.

2. Braai die vleis op ‘n oop vuur of onder die grill van die oond. Sodra dit halfpad gaar is sprinkel met die suurlemoensap en vryf met die suurlemoen se oop kant oor die tjoppie. Los sommer die suurlemoen so op die vleis vir ekstra geur terwyl jy braai.

3. Verwyder die vleis van die vuur en sprinkel dan met sout en peper na smaak. Ek hou daarvan om die sout laaste oor te sit omdat sout altyd geneig is om die sap uit die vlies te trek en dit dan droog te maak.

BRON: Annelien Pienaar. 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking