Saterdag, 16 Januarie 2016

PYNAPPEL MALVALEKKERTERT

My Ma kon darem die lekkerste terte maak. 
Alles het so moeiteloos gelyk en gevoel of dit in ‘n japtrap gemaak is. 
Ons het op die plaas groot geword en room was altyd vryelik beskikbaar. 
My Ma het self dit gepasteuriseer om langer te kon hou en dan kan sy elke naweek vir ons ietsie lekker maak.

Om malvalekkers op te sny is nie vir sissies nie. 

Ek het soveel rate al gekry so ek noem maar op en kyk watter een werk vir jou. 

1. Spuit die skêr met kleefwerende kos sproei.

2. Plaas die malva lekkers in die yskas om hard te word en sny dan.
3. Doop die skêr in kook water, vee droog en sny.
4. Ek doen niks van die bo genoemde dinge nie, ek koop die kleintjies vir koffie maak!

RESEP
1 x 397 g Blik kondensmelk
500 ml Vars room
750 g Malvalekkers - fyn gesnipper
250 g Glanskersies - gesnipper
150 ml Suurlemoensap
1 x 410 g Pynappelstukke - gedreineer - opsioneel
4 e Cremora met 150 ml Kookwater aangemaak
Klapper vir versiering - opsioneel

METODE

1. Maak die cremora aan met die kookwater en laat staan om af te koel.

2. Meng die kondensmelk en suurlemoensap saam.


3. Voeg die malvalekkers, kersies en pynappel by asook die afgekoelde cremora


4. Klits die room tot styf en vou in by die malvalekker mengsel.


5. Skep die mengsel in koekiekrummel voorbereide kors.


6. Laat stol in die yskas.


BRON: Hantie Bezuidenhout 1990.  www.bosenbergguestfarm.co.za

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking