Donderdag, 22 Oktober 2015

PEKANS

Bos en Berg se Pekan Boord, Skeerpoort, 2011
So praat ons vandag oor Pekan neut tert en ek het al die bestanddele en bak toe maar vir die nuwe gaste in die gastehuis ‘n lekker “welkom” happie.
Johan van Deventer roer toe ‘n teer snaar oor die herinneringe van Pekans.

Ons het op die plaas kom woon en my skoonpa het toe so paar boompies geplant vir die “tuin”.
Min het oupa Peet geweet dat dit ons passie sou word. 
Na sy dood het my man die grond begin bewerk en ons het toe die hele 40 hektaar onder pekans gesit.
Ek kan nog so goed onthou hoe ons begin het met die grond analise en water monsters.
Toe moes ek die kontrepsie ding (Theodo light / Trichonometer) in Krugersdorp gaan huur om die boord se uitleg presies in ‘n diamant vorm uit te werk. 
Met ander woorde of jy nou kruis en dwars, op en af kyk die rye is in perfekte simmetrie. 
So kom ek met die gedoente tuis en met die bietjie kennis wat die man aan my oorgedra het stel ek die raamwerk op en stel die ogie in en daar het die reis begin.
Met ons eerste aanplanting het ons rye en rye grond hopies gehad, pragtige ryk rooigrond. Ek onthou hoe ons jongste seun en sy niggie in een van die gate weg geraak het! 
Daardie dag was die Vader so goed vir ons want die een werker het hulle dop gehou en toe ek paniekerig begin hol van gat na gat het hy gou vir my gesê: “Klein Nooi, hulle is by daai kant”. 
Hulle kon versmoor het maar daar sit die twee stoute goed en speel met klonte en stokkies plaas-plaas. 
Nee, kyk ek het elke gryshaar op my kop voor gewerk!
Ons het self met twee spanne, my man een en ek die ander, al 2 000 bome geplant.
Dit is in die hartjie van die winter wat die bome geplant moet word omdat dit nog dormant is. 
Die besproeingstesel was van die buurman se moederlyn gedoen want vir die eerste paar jaar kon ons net met lei vore natmaak. 
Die water pype was gevries in die oggende en het die plantery erg opgehou. 
Onthou elke gat is 1.5 mx1.5 m en 1.85 m diep vir die lang wortelstelsel. 
Daardie grote gate moet dan toe gegooi word met die hand sodat die syhaarworteltjies nie kan seer kry nie. 
Terwyl jy plant moet die water die heeltyd loop om te help dat die worteltjies nat bly, dit is stof, water en modder. 
Jou neus brand, jou vel is rooibruin en jou rug breek. 
Maar plant daardie jaar het ons 750 gedoen.

Ek dink ander mense bou nuwe huise of bou aan om hul huwelike te toets, ons plant ‘n boord!
Vandag staan ek op my dam se wal en die bome is al 10 jaar oud, die 2de fase 7 jaar oud en nou is die “Insert coin” dae besig om te draai en die natuur beloon ons vir ons harde werk. 
As ek nou terug dink kan ek nie glo ons het profesionele beroepe beoefen nie, vandag leef ons van ons plaas en het ‘n rustiger en eenvoudiger lewe sonder “glitz en glamour”. 
Ons leef waarlik!
Vandag het my man ‘n deeltydse konsultasie besigheid en bedryf ons Boeredae waar beide die plaaswerker en boer opleiding kry om hul Pekan boorde te bestuur.
Ons vat die boere se hande en ek kan met trots sê ons Pekan boere kan wragtig hande vat en saamstaan. 
Ons skud mekaar se bome tydens oestyd, ons leen gifspuite en werkers uit om te snoei.

Hierdie bome het my lewe en my passie geword.
Elke boompie wat na die winter elke keer sy knoppies groen laat begin uitkom, maak my elke keer opgewonde soos ‘n kind. 
In November is dit die bestuiwings tyd en elke middag om 17h00 as jy met ‘n stok op ‘n tak tik en in die son opkyk, sien jy Tinkerbell se fairy dust (stuifmeel) soos goue liggies trek, dit is mos die lewe! 
Ja, ons het baie foute gemaak en leer nou ander opkomende boere wat gedoen moet word.
Tans is ek besig met ‘n studiegids juis vir die bedryf.
Dit vat lank om te skryf want dit is nog steeds ‘n wetenskap, ons het 9 Pekan streke en klimatologies groot verskille en sekere varieteite werk in natter dele beter as in droëer dele! 
Maar een van die dae het die boere en werkers ‘n praktiese gids tot Pekan produksie en bestuur vir Suid Afrikaanse omstandighede.
Hoop elkeen kan eendag daardie plekkie binne hul harte vind waar hulle gelukkig en tevrede kan wees, dan kom die res van nature.

Annelien Pienaar.
www.bosenbergguestfarm.co.za

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking