Vrydag, 02 Oktober 2015

PEER EN PEKAN STRUDEL / BAKLAVA

Soos die lewe hier op die plaas aangaan en ons moeg word vir die gewone disse wat ek met pekans moet maak word daar uit eentonigheid nuwe goed gebore! 

Hierdie Strudel / Baklava het ontstaan nadat ek geen appels in voorraad gehad het en ek ook al die amandels op gekap het om kant koekies te maak. 
In elk geval, so loop ek deur die spens en voel aan die pere en aitsa, dit is perfek reg, nie te sag en nie te hard. Ek skil dit toe en posjeer dit in soet witwyn en hier is die res van die resep!

RESEP
4 ryp pere - geskil en in blokkies gesny
50 ml botter
100 g vars brood krummels
100 g pekans - grof gekap
50 g Muscavado suiker of enige bruin suiker van keuse
2 el lemoen of suurlemoenskil - gerasper
150 ml heuning
200 ml soet witwyn of sjerrie
4 el lemoensap
1 pak filo deeg

METODE
1. Kook die peer stukkies in die wyn totdat dit net sag is. Dreineer.

2. Braai die broodkrummels in 1 el botter totdat dit lig bruin word en skep uit in aparte bak.

3. Voeg dan die pekans, suiker, pere en skil by en braai 1 minuut en verwyder van die hitte.
Meng met die broodkrummels.

4. Smelt solank die res van die botter om die filo deeg mee te smeer.

5. Maak die lae van die deeg oop en sny die deeg in die breedte deur. Hou die deeg toe met ‘n klam doek.

6. Neem die eerste vel en smeer met botter en kwassie. Sprinkel die vulsel oor die vel en moenie oor die randte van die deeg gaan nie. Voeg dan in straaltjies die lemoensap en heuning oor die laag. As die deeg opgerol word dan val daar nie baie vulsel uit nie.

7. Hou aan om die lae so te bou totdat die vulsel klaar is. Onthou om elke laag met botter te smeer. Aan die einde word die kante eers in gevou en dan opgerol. Die rol word dan naat ondertoe op die bakplaat gesit. Smeer weer die rol met botter voordat dit gebak word.

8. Bak teen 200 ˚ C vir 25 minute of totdat dit mooi goudbruin is.

9. Laat afkoel en sprinkel met versiersuiker vir afronding.

10. Bedien met suurroom of griekse yoghurt wat oornag gedreineer is om dit meer dik te maak en smeerbaar. Die suur van die suiwel komplimenteer die pekans ongelooflik!

HOEVEELHEID: 6 - 8 porsies.

BRON: Annelien Pienaar,  www.bosenbergguestfarm.co.za


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking